Die Lichtenburgstam Ons tweede nuusbrief skop af met ‘n uittreksel uit die geskrifte van Hendrik Adriaan Greeff se tweede kind wat oorleef het om groot te word, Lenie. Ons beplan om die volledige teks van die geskiedenis wat sy geskryf het, Die Groot Boom By Lichtenburg, oor twee of drie Nuusbriewe te versprei. Sensitiewe lesers moet onthou dat daar in daardie dae geen negatiewe konnotasie was aan die benamings wat vandag taboe is nie. Die
Groot Boom By Lichtenburg In die jaar 1860 het my vader, Hendrik Andries Greeff, van die Vrystaat af na die plek wat nou Lichtenburg heet, getrek om daar grond te koop. Hy het grond gekry, die opstal aangelê en dit die naam Lichtenburg gegee. In dié dae was die land nog woes. Daar was volop leeus en wolwe. Vader trek toe nog 6 myl noordwaarts en kom toe op die plek waar die boom is en wat nou Witklip genoem word en in die nabyheid van die delwerye geleë is. Laat in die aand het ons daar aangekom en ons kinders was al net baie dors. Vader was met die omgewing heeltemaal onbekend. In dié onbekende moes vader toe vir sy familie water soek. So ‘n eintjie van die waens af sien hy ‘n groot olienhout-boom staan. Hy gaan so’ntoe en bid die Here om water. Na sy gebed staan hy op en loop ‘n paar tree van die boom af. Opeens hoor hy ‘n STEM wat vir hom sê, “Gaan kyk in die boom; daar is water.” Onseker wat die betekenis daarvan kon wees, stap hy toe maar aan. Tot sy vebasing egter hoor hy weer die STEM wat dieselfde woorde herhaal. Dadelik draai hy om en gaan kyk in die boom. Wat was hy verbaas toe hy in die boom ‘n gat van omtrent vier voet vind waarin daar omtrent drie emmers skoon water was. Dadelik het hy toe na die waens teruggekeer en toe die groot emmer gaan volmaak. Ons kon toe koffie maak en ‘n etetjie neem. Na die ete het my vader weer na die boom toe teruggegaan en daar die Here gedank vir Sy goedheid. Terselfdertyd het hy daar ‘n belofte gemaak dat hy, as hy gespaar word, sy vyfstigste jaar daar sou kom vier. Die tog na die noorde Volk was daaardie tyd baie skaars en daarom het vader planne gemaak om op tog na die Noorde te gaan met die bedoeling om te probeer om volk te kry en meteens ook olifantstande en volstruisvere te ruil. In 1868, gedurende die maand Maart, was alles gereed vir die trek, wat vir ‘n onbepaalde tyd sou duur. Hiedie tog het die ou vader alleen met sy familie, bestaande uit sy eggenote, Susanna, drie dogters en een seun, onderneem. Die oudste dogter Jacoba, later Mev. Generaal de la Rey, was toe twaalf jaar oud, die tweede Magdalena, later Mev. A.A. Schoeman was 9 jaar, die derde Johanna, later Mev. W. de Vos was agt jaar. Die klein seuntjie, Hendrik, was maar net sewe maande. Twee kaffers, Jafel en Hartbees, het ook saam gegaan. Die wa was ‘n lang wye wa wat toe net gekoopwas. In die wa was ‘n katel, ‘n klein tafeltjie waarop die Bybel en godsdiens-boeke gelê het. Daar was ook ‘n serafyntjie waarop vader gespeel het by die Godsdiensoefeninge wat smôrens en saans gehou is. Agtter die wa was ‘n kar vasgemaak, wat veral bedoel was vir die kaffers en die klein hondjies. Hondjies is meegeneem omdat ‘n mens hulle vir klein kaffertjies kon ruil wat baie skaars was. Die trekvee het bestaan uit TWEE spanne osse, omtrent 20 of 25 koeie en kalwers en ses perde. Die wa was vol goed gepak, ook ‘n goeie voorraad kruit en lood, ‘n paar goeie gewere en daarby ‘n olifantsgeweer. Al gou het ons teenspoed begin kry. Ons was nog maar net twee weke van die huis af weg, toe twee van die beste perde aan perdesiekte, wat toe baie erg was, vrek. Kafferkapteins Kort daarna het ons verby die statte van twee kafferkapteins getrek. Die eerste een was Segeel en die tweede was Gadsesebe. Albei was magtige kafferopperhoofde. Nie lank nadat ons die statte verby getrek het nie, kom ons tussen die grootwild en somar gou het vader twee vet elande geskiet. So vet was hulle dat die spek op hulle lywe net soos dié van vetgemaakte varke gelyk het. Daarvandaan het ons vir twee maande altyd Noordwaarts getrek totdat ons by die Sambesi aangekom het. Dit was destyds genoem Meersrivier. Daar het ons o.a. die volgende jagters ontmoet: Hendrik van Zyl, wat die leier was, M. Joubert, B. Bouwer asook ‘n paar Engelse jagters. Ons was toe ‘n klein groep van sestien waens en ongeveer 20 mans, sommige met hulle families. Daar was ook omtrent 20 stuks volk. Aan die ander kant van die rivier was daar ‘n groot kafferstat van ‘n wrede kaptein met die naam Segolatebi. Die kaptein het die jagters ten strengste verbied om nie hulle voete oor die rivier te sit nie, want het hy gesê: “geen witmens het nog ooit sy voet oor die rivier gesit en hy sal dit ook nooit toelaat nie, wie dit sou waag, sal nie lewendig terugkeer nie.“ Deur sulke dreigemente het die kaptein die jagters aan die Suidekant van die rivier gehou. Dapper ou Hendrik Greeff was egter ‘n besliste en onverskrokke man. Vir die dreigemente van Segolatebi het hy niks omgegee nie, en het dadelik besluit om oor die rivier te trek. Die meeste jagters was daarop teë omdat hulle vir ‘n botsing met die kaffers gevrees het veral daar die kaptein hulle gewaarsku het. Toe hulle egter sien dat Hendrik Greeff vasbesluit het om te trek, het hulle hom as veldkornet gekies. Dit was op ‘n Saterdag en veldkornet Greeff besluit toe om die Maandag oor te trek. Hy het toe vir B. Bouwer te perd na die kaptein toe gestuur met die boodskap dat hy Maandag gaan oortrek en dat die kaptein sy betaling moet kom haal vir die wild wat hulle in sy land gaan skiet. Verder het veldkornet gelas dat alles vir die oortrek klaargemaak moes word. Sondag het ons stil deurgebring, hoewel die vrouens baie in die nood was en ook party mans. Dié Maandag het vir hulle ‘n regte Blou Maandag gelyk. Maandag is alles douvoordag reggemaak, die waens was ingespan en in ‘n kring getrek. Die weerbare mans en kaffers was goed gewapen terwyl van die anderkant af die kaptein met sy gewapende hordes aangekom het. Veldkornet Greeff stuur toe ‘n tweede boodskap na die kaptein en laat hom weet dat die kaptein nie met sy volk gewapend oor die rivier moet kom nie. Die kaptein het gehoorsaam en sy wapens aan die anderkant van die rivier laat staan. Self het hy toe met sy mense na die waens toe aangekom en gaan sit waar veldkornet Greeff hulle beduie het om te sit. Die gesig van die klomp kaffers by die waens het sowel mans as vrouens angstig laat voel. Die mak kaffers het gesê dat hulle die dag almal vermoor gaan word. Die betaling was al vantevore deur die jagters vasestel: Elke VIER man moes EEN perd en elke TWEE man ‘n paar sakkies lood en kruit betaal. Die totale bedrag was ongeveer SES perde, ‘n hele paar sakkies kruit en lood met nog ‘n paar ou gewere op die koop toe. Veldkornet Greeff laat toe deur middel van ‘n tolk verduidelik dat hulle nou gaan oortrek om olifante en ander wild te gaan skiet. Na lank oorweging sê die kaptein toe dat hy die geselskap alleen sou laat oortrek as die betaling meer is en op voorwaarde dat sy wild nie verniel sou word nie. Party mans wou uit vrees hulle beste perde gee, maar die veldkornet het dit belet en gesê: “Hy moet net vat wat vir hom gegee is.” Om die kaptein egter in ‘n goeie stemming te hou het hy hom nog ‘n geweer gegee. Die saak was toe gereel en kon die veldkornet en sy mense oor die rivier trek om te gaan jag. Gou-gou was ons toe by die olifante en daar is toe baie doodgeskiet. Die tande is op die waens gelaai. Vir ons kinders was dit toe ‘n baie lekker tyd want ons het lekker ge-eet. Die boonste deel van die slurp en die voet van die olifant, as dit in ‘n miershoop gebak is, smaak baie lekker, net soos murg. Word vervolg………
Hendrik Adriaan Greeff se Plase. Ek stel belang in Greeff plase omdat hulle dikwels baie vertel oor hulle eienaars. Plase is ook 'n natuurlike punt waar vertakkings van 'n familie gesien kan word. Die hele Lichtenburgstam is, in werklikheid, Manana se mense, die mense wat by die plaas Manana hulle oorsprong gehad het. Elandsfontein was die vertrekpunt van Generaal de la Rey en Nonnie Greeff se mense, 'n vertakking van Manana se mense. Ek het eergister Prof AWG Raath se boek, DE LA REY 'n Stryd vir Vryheid, uit Suid Afrika gekry. Noudat ek dit begin lees het sien ek die Greeff plase wat hy noem raak. Ek skryf verder net oor die plase wat Prof Raath in sy boek vermeld. P 48 & 49. Raath haal vir Nonnie de la Rey aan, waar sy in Ons Stryd in die ou Republiek skryf: "In 1874 is my vader saam met twee mans, by name Jan Rhoode en Karel Meyers, benoem om die plase ten weste van Lichtenburg te gaan opmeet, regs van waar Delarey nou is.Dit het geskied op die wyse waarvolgens my vader 'n mak perd laat stap het op 'n lyn in 'n vierkant. Aangesien die mense wat op 'n bepaalde stadium ingetrek het, die reg gehad het op een plaas, is die grenslyne van die plaas bedags afgestap. Die aand het almal bymekaar gekom, dan word die aantekening van elke plaas nagesien. Die persoon wat dan die langste aanspraak op die plaas het, kry dan die plaas." "Aangesien die mense in daardie tyd hulle reg op 'n plaas vir £10 verkoop het, het my vader - terwyl hy op Lichtenburg woonagtig was - talle plase gekoop. Langs die Maretsane het hy 'n klomp plase gehad....." Lichtenburg plaas, Durbanville, Kaap. Raath verwys na HA Greeff se geboorteplek en vermeld in voetnoot 1 dat hy op die plaas Lichtenburg by Durbanville, naby Kaapstad gebore is. Ruigtelaagte. P 33, voetnoot 10. Sy bron: Gretha Du Preez, Stigter van Lichtenburg: Kommandant H. A. Greeff. Lichtenburg: Lichtenburg Drukkery Edms., 1960. Raath haal vir Nonnie de la Rey aan, waar sy in Ons Stryd in die ou Republiek skryf: "My vader het dikwels vertel van 'n groot grap wat hy in Griekwaland gehad het. Hy het 'n plaas van die Griekwas gekoop en nadat my vader dit gekoop het, kom daar 'n man met die naam van John en sê dat hy die plaas van die Griekwas gekoop het. Daar het toe 'n twis ontstaan omdat albei die plaas gekoop het en beide dit wou hê. Die Engelsman het toe gesê:"Wel meneer Greeff, dan is daar vir ons niks anders te doen as om te bepaal aan wie die plaas behoort nie. Ons moet dit uitbaklei: as ek vir u pak slae gee, dan is dit my plaas en as u vir my 'n pak slae gee, dan is dit u plaas." My vader sê toe aan hom: "Nee, ek is geen bakleier nie, dan kan u maar die plaas neem." Hy sê toe: "Waarom sal ek dit so neem? Ons het dit altwee gekoop. Is jy bang?" My vader antwoord: "Ja, maar u is 'n bakleier en ek verstaan min daarvan." Hy was 'n veel groter man as my vader. Hy het my vader opgewen todat hy sê: "Goed, kom!" Die plek waar die geveg sou plaasvind was 'n klipperige plek. Altwee het besluit dat geen klip gebruik mag word nie. My moeder was ook daar, sy wou nie hoor van so iets nie. Hulle het 'n ent van die waens af weggegaan en my moeder sê sy kon dit nie verdra nie. Toe die twee alleen was, sê sy aan my vader dat hy maar nader moes gaan. Die opponent was 'n geleerde bakleier en sy het gevrees wat daar sou plaasvind: "Wel, dit is gedane sake, ons moet regstaan." My vader het vertel die Engelsman trek toe los en slaan hom plat, maar die gedagte skiet hom te binne om die Engelsman se voet te gryp. My vader was self 'n sterk man en hy ruk die Engelsman om en gaan sit gou op sy bors. Die man was geensins in staat om op te kom nie en my vader was toe baie kwaad en hy het die Engelsman geslaan dat hy net moes keer. Toe sê hy: "Wag, heer Greeff, hier is my hand. Dit is u plaas." My vader het sy hand geneem, die saak was afgehandel en my vader was die besitter van die plaas."
Elandsfontein. P35 & P37. Raath haal steeds vir Nonnie de la Rey aan: "Ons het na Marico gereis, wat toe later deur baie mense bewoon was. Daar het ons vir 'n tyd gebly en daar ontmoet my vader die twee manne van wie hy Elandsfontein en Doornfontein gekoop het. Toe hy die twee plase koop, het hy besluit om daar te woon en nie meer rond te swerf nie. Die grootste hindernis was toe die feit dat dit so 'n woeste wereld was. Aan die hele westekant was geen mensewoning nie. Elandsfontein en Doornfontein (nou Lichtenburg) was die woonplek van leeus, wolwe en alle soorte wilde diere. Die groot troppe wild het soos troppe vee gelyk en ons het baie las van die leeus gehad." P37, voetnoot 17. "Volgens AD Bosman, Lichtenburg 1865 - 1985, 2, het Hendrik Greeff in 1858 die plaas Elandsfontein, 'n waterryke plaas wes-aangrensend aan Doornfontein, bekom en vyf sjielings daarvoor betaal.Die plaas Doornfontein, 'n deel van Elandsfontein en die plaas Manana het Greeff in 1860 gekoop (Oosthuizen, "Greeff, Hendrik Adriaan", 300)." P39 Inset. Raath haal vir Greta du Preez, Stigter van Lichtenburg: Kommandant HA Greeff, aan: "Na die laaste tog het Oupa vir hom 'n plaas gekoop, Elandsfontein. Op die plaas het genl de la Rey (wat met Oupa se oudste dogter getroud is) later gewoon tot sy dood toe. Tant Nonnie is ook daar oorlede...." P 49. ".....aangesien Elandsfontein te Lichtenburg (wat vroeër die naam gehad het van Damfontein, geleë naby die plaas Klipbankfontein)..." Doornfontein. Sien ook onder Elandsfontein. P 46, voetnoot35. "Reeds in 1865 het Greeff versoek dat 'n dorp op die plaas Doornfontein aangelê moes word. Dit was egter eers op 25 Julie 1873 dat president T.F. Burgers die versoek goedgekeur het en die plaas Middelbosch ingesluit het (Oosthuizen, "Greeff, Hendrik Adriaan", 300)." P 46. Raath haal vir Nonnie de la Rey aan, waar sy in Ons Stryd in die ou Republiek skryf: "Die dorp is self deur my vader uitgelê deur eers die kerkplein. mark, pastorie-erf en skool-erf te laat uitmeet. Toe is die ander erwe uitgemeet en verkoop. My vader het baie wins op die plaas Doornfontein gemaak, wat hy in 1859 vir £75 gekoop het."
Kaalpan. P47, Inset. Raath haal vir Greta du Preez, Stigter van Lichtenburg: Kommandant HA Greeff, aan: "Gedurende die tyd het Ouma (Sannie Greeff) al die vuil volstruisvere bymekaargemaak en saam huis toe gebring. Tuis het sy hulle gewas en verkoop vir £200. Daarvoor het sy die plaas, Kaalpan, gekoop. Die plaas het hulle met die uitlê van Lichtenburg vir £2000 verkoop."
Klipbankfontein, Manana. P46 Inset. Raath haal vir Greta du Preez, Stigter van Lichtenburg: Kommandant HA Greeff, aan: "Nadat die dorp Lichtenburg aangelê is, wou Oupa (HA Greeff) nie graag op die dorp bly woon nie en het in 1873 die plaas Manana gekoop en daar gaan woon. Die akte van transport gee die naam as Klipbanksfontein. Solank as wat hy 'n huis laat bou het, het hy eers in 'n rondawel gewoon. Die huis op Manana is die beste wat Oupa in sy leeftyd gebou het. Dit is 'n stewige gebou van blouklip en is vandag nog seker een van die sterkste huise in die omtrek." P49. Raath haal vir Nonnie de la Rey aan, waar sy in Ons Stryd in die ou Republiek skryf: "Die plaas Klipbankfontein het aanvanklik nie aan my vader behoort nie. Later het die eienaar, wat 'n bejaarde man was, en omdat hy sowel as sy kinders nie lus gehad het om daar te woon nie, het hy my vader gevra om die plaas te koop, sy prys was £500 kontant. My vader sê toe: "Ja, ek wil dit graag koop, maar dit sal moeilik wees om dit dadelik te betaal - ek sal egter my bes doen." In 1872 het my pa die plaas gekoop. Vandag kan die plaas - nou Manana genoem - nie vir £1000 gekoop word nie. In 1874 het my vader na daardie plaas getrek en daar gaan woon. Aangesien dit sy begeerte was dat sy kinders by hom op die plaas moes woon, het hy aan elke kind honderd morge grond gegee. Aangesien hy 'n ander plaas by Manana gehad het was die saai- en weilande genoeg." Klipkuil. P49, Inset. Raath haal vir Greta du Preez, Stigter van Lichtenburg: Kommandant HA Greeff, aan: "Met verloop van tyd, het hy nog ander plase in Lichtenburg se distrik aangekoop. Op die plase het later die groot delwerye ontstaan. Die koopprys van Klipkuil was slegs £400. Hy het aan sy twee skoonseuns, Koos de la Rey en Abel Schoeman, die kans gegee om elk een derde van die plaas te koop. Koos het sy deel met osse betaal en Abel syne met 'n wa." Bronnelys:
'n Brief aan ons Kuiernet http://archiver.rootsweb.com/th/index/GREEFF/
From:
"Jan" <jan@verslank.net>
Hallo almal, Ek het gister 'n lang gesprek met Annamarie Swanepoel gehad. Sy is die kurator van die Lichtenburg Museum waar die oorblyfsel van die historiese boomstomp gehou word. Sy het probeer om 'n glaskas te bekom waarin die stomp uitgestal kan word maar het geen ondersteuning vir hierdie gedagte ontvang nie, nou het sy dit maar met roulynolie behandel en dit na die beste van haar vermoë uitgestal. Die borsbeeld van oupa Hendrik is uit die Burgersentrum verwyder en is nou by die Landboumuseum wat ook deur die Munisipaliteit bedryf word. Solank as wat Annamarie nog daar is (en dit kan moontlik nie meer baie lank wees nie) en solank die huidige kurator by die Landboumuseum is, (in hierdie geval lyk dit tans meer bestendig, maar mense se lewensduur is ook nie bekend nie) sal hierdie items redelik veilig bewaar word. Ek weet nie watse ander items daar ook nog mag wees nie, maar dink aan ouma Suzaan se skildery wat verdwyn het terwyl die een van oupa Hendrik alles behalwe vergaan het en aan wat op Standerton gebeur het, dan sal ons moet besef dat die stomp vuurmaakhout kan word en dat die borsbeeld 'n onbekende bestemming kan bereik. Annamarie vertel dat generaal de la Rey se familie ook al kom gesels het omdat hulle bekommerd is oor die toekoms van etlike erfenisse wat in die Stadsraad se besit is. Soos sake tans staan lyk dit vir my dat ons sal moet voorbereid wees om teen die einde van hierdie jaar ten minste die boomstomp by 'n meer veilige plek van bewaring te kry. Ek stel ook voor dat ons begin om te besin oor wat ons in verband met die borsbeeld gaan doen want wanneer die besluitnemers daarby uitkom kan dit 'n krisis wees as ons nie daarop voorbedag is nie. Ek dink dat ons en die de la Reys moet saamwerk aan 'n plan om 'n alternatiewe plek of plekke te identifiseer waar hierdie historiese bates bewaar kan word. Laat asb weet wat julle dink en kom met die voorstelle, veral die familie wat daar naby Lichtenburg geleë is. Groete, Na aanleiding van hierdie brief: Johan Greeff van Stellenbosch voel dat voorstelle oor die plasing en beskerming van die items waarskynlik so na as moontlik aan Lichtenburg sal moet geskied, en dat die familielede wat naaste aan hierdie omgewing woon, hopelik die leiding sal neem hiermee. Indien die naaste Africana Museum, waar die items werklik veilig sal wees, byvoorbeeld in Klerksdorp, of Potchefstroom, of Krugersdorp bestaan, dan moet die items seker maar daar bewaar word, en die ligging daarvan aan al die Greeff nasate en geskiedenis deskundiges bekendgemaak word. Pretoria het natuurlik 'n veskeidenheid van museums waar items veilig bewaar sal kan word, maar miskien voel die ander familielede dat dit te vêr van Lichtenburg af geleë is. Die gewese Africana Museum, wat in Johannesburg was, is nou die Museum Africa. Meer oor die gedaanteverwisseling van hierdie museum is op die internet te vinde: http://www.joburg.org.za/aug_2002/museumafrica.stm
http://travel.nytimes.com/travel/guides/africa/south-africa/johannesburg/attraction-detail.html
http://www.fodors.com/world/africa%20and%20middle%20east/south http://www.willpowerinfo.myby.co.uk/cidoc/arte031.htm
Wat die hart van vol is …. Ek is onlangs deur ‘n niggie kwalik geneem en aangespreek omdat ek nie sekere bydraes op die kuiernet gesensureer het nie. Sy en ander familie het gevoel dat die betrokke bydraes afgestorwe persone in ‘n swak lig stel terwyl hulle nie die geleentheid het om hulle te verweer nie. Lede moet verstaan dat wat hier versend word die wye wêreld in is en permanent op rekord is. Niemand is in ‘n posisie om sensuur toe te pas nie en ons moet staatmaak op die individu se integriteit en goeie oordeel. Aan die ander kant het ons in die genealogie te doen met harde feite en waarhede vermeng met stories wat met herhaalde oorvertel van geslag tot geslag uiteraard verdraai raak. Dit laat mens besef hoe belangrik die voorbeeld en etos is wat jy teenoor jou kinders uitleef. Wanneer daar iets voorkom wat verdag is, kan jy seker wees dat enige subtiele konnotasie met die volgende oorvertel minder subtiel sal word. So bepaal jy watter indruk die nageslag eendag van jou gaan oorhou en voortdra.
Meer omtrent ons nuusblad: Die Lichtenburgstam Hierdie nuusblad word maandeliks deur Jan Greeff en Francois Greeff saamgestel en gesirkuleer. Almal in die familie is welkom om 'n bydrae te maak. Enige stories oor die familie is welkom. Stuur jou bydrae aan: Jan@verslank.net of Posbus 4181, Barberton, 1300. Die adres
van ons familie webblad is
www.Greeff.info Al die name van die afstammelinge van Kommandant
Hendrik Adriaan Greeff wat tans op rekord is verskyn op die webblad
www.Greeff.info. Dit is omdat ons almal Greeff afstammelinge is,
ongeag van wat ons vanne nou is. Om al die vanne in die stamboom te
sien, gaan na: Klik op die skakel (http://www.greeff.info/tng01/searchform.php) om te kyk of jou naam daar is, en of jou detail korrek aangeteken is. Indien daar nog nie 'n foto van jou of jou voorouers verskyn nie, stuur asseblief een aan my by Jan@verslank.net en ek sal dit op die webblad plaas. Wees net asb geduldig, daar is tans ‘n agterstand met die laai van fotos omdat ons die webblad oorgeplaas het na ‘n beter program. Die fotos is ongelukkig in die proses verloor en moet almal weer opgelaai word. Vir die familie wat nie internetfasiliteite het nie, vra asseblief een van die jonger geslag of vriende om jou te help kyk na die webblad en die kuiernet-stories. Die Kuiernet bestaan sodat alle lede van die familie maklik met die hele familie kan kommunikeer. Om by ons kuiernet aan te sluit, stuur asseblief 'n epos aan GREEFF-L-request@rootsweb.com, met net die enkele woord, subscribe, as onderwerp en as inhoud. Om weer daaruit te kom, stuur unsubscribe. Met
vriendelike familiegroete, |