Die Lichtenburgstam
Nuusblad van die Greeff en verwante families. Nr 4, Desember 2007.
Indeks van vorige uitgawes.
Home

 Die Lichtenburgstam is die naam van een groot familie, 'n familie wat almal aan mekaar verwant is omdat hulle familielede is van Kommandant Hendrik Adriaan Greeff, die stigter van Lichtenburg. Hierdie familie behels talle verskillende vanne, waarvan een honderd aan die einde van ons nuusblad verskyn.


Carnarvon. (Photo: http://www.hartrao.ac.za/news/060529kat_visit/index.html)

 Wie is ek.
Francois Greeff.

 As iemand met 'n digitale kamera ooit in Carnarvon kom, neem asseblief vir 'n klomp fotos van die huis by nommer een Moutonstraat en stuur hulle vir my. Ek het, van ouderdom 2 tot 12 daar gewoon, op 'n dorpserf, want my pa was 'n dokter op die dorp. Dit was van 1961 tot 1971. Ek wonder vandag hoe groot daardie erf was, en hoe groot die huis was. Ek onthou dat ons in die huis geski het. 'n Mens ski in die gang, op sy blink gepoleerde hout vloer. Om te ski trek jy lekker dik wol sokkies aan en jy begin jou aanloop in die sitkamer, aan die einde van die gang. Jy hardloop gang se kant toe, in die gang in, en dan steek jy vas, een voet voor die ander, sodat jy op jou twee voete tot aan die einde van die gang ski. Dan moet jy vinnig opsy staan vir die ou wat na jou kom, anders ski hy in jou vas.

 Ek het 'n idee dat tuine en grasperke nie bitter groot was in daardie droë deel van die wereld nie, en ek onthou vandag nog die rotstuin wat my ma gebou het, met sy versameling van elke vetplant en aalwyn onder die son. Plante met name soos Kanniedood (in Nederlands, patrijsveeraloë), en 'n bedding vygies wat al om die buitekant van die tuinmuur geloop het. In die agterjaart was 'n appelkoos boom en 'n moerbeiboom en turksvy bosse, en ons kinders het die sonwarm appelkose en turksvye met lus ge-eet. Moerbeie het ons ge-eet tot ons pers uitgelaan het. Ek onthou dat ons uintjies gegrawe het, en dat suring die onkruid was wat in die rotstuin gegroei het. Surings het ons kinders ook ge-eet, saam met die gedroogde suur vye van vygies. Ek onthou Namaqualand se blomme op graslose rugbyvelde en die dorp se graslose gholfbaan. Die gitswart setperke was van riviersand wat met vuil kar olie neergedemp is sodat die wind dit nie wegwaai nie. Daar was by elke setperk 'n hark sonder tande om die sand mee gelyk te vee. Dit was binne die reels om die setperk voor jou bal gelyk te vee, en jy moes jou voetspore agter jou doodvee. Die grond was te hard om 'n bofperk pennetjie te kan indruk en mense het ringe van skoenleer gemaak om in plek van bofperk pennetjies onder die bal te sit. Die probleem was dat jy dan ook die ringetjie weggeslaan het en jy moes die grond vir tien meter voor die bofperk deur soek om die ding weer te kry. Dit was totdat een van die damesspelers 'n pom-pom gemaak het. Jy maak 'n pompom maklik: Jy lê 'n langerige stuk dik, sterk wol of dun tou op die lengte van 'n liniaal neer. Dan vat jy 'n bol wol (of verskillende kleure vir mooier effek) en draai dit baie kere om die liniaal sodat die tou binne in die ringe van die wol is. Dan vat jy die twee ente van die tou en knoop dit styf om die wol sodat dit die wol stewig vashou. Dan sny jy die wol van die liniaal af en elke sirkel wat jy om die liniaal gewen het word dan 'n twee duim draadjie, wat saam met al die ander in die middel vasgebind is. Die laaste ding wat jy doen is om die drade in 'n bal oop te maak. Die ente van die tou maak jy aan die skoenleer ringetjie vas. Na jou afsethou is dit dan baie maklik om die pompom te gaan optel.


Carnarvon op die Landkaart. (Beeld bron: http://www.ska.ac.za/sitecatalogue/sites_core.html)

 Agter die huis was 'n agterplaas. Iemand voor ons het daar 'n sement tennis baan gehad, maar in ons tyd was daar geen pale, lyne of grensdrade nie. My pa het toe die plat stuk sement benut deur 'n portapool - van draad en plastiek - daarop te sit. Die agterplaas het ook 'n hele klomp groente beddings gehad vir alles van koolkoppe, wortels, radyse, blaarslaai en so aan, tot by rubarber en pietersielie. Die groentetuin moes uit 'n dam natgelei word, en sodat die water kon vloei moes die sementdam bo-op die grond staan. Dit was een van bitter min damme wat ek ooit gesien het wat buite om die sementmuur 'n grondwal gehad het wat teen die sement opgegooi is om die dammuur te stut. Omdat ons kinders teen daardie skuins muur kon oploop was daar 'n draad net bo-oor die dam gespan. Toe al vier ons kinders kon swem het die draad net verdwyn, en ek kan onthou dat ons in gegalvaniseerde waskomme in daardie dam boot gery het.

 Die kat het een keer in die dam geval. Ek het hom hoor miaauw, en gaan kyk wat aangaan. Toe sien ek die kat swem al langs die half vol dam se muur om en om. Die kat. Ek was toe net oud genoeg om te weet dat katte nie van water hou nie, en dat katte nie kan swem nie. Met groot opwinding op die ontdekking wat ek gemaak het hol ek die huis in en skree vir almal: "Die kat swem! Die kat swem!" Met tyd het die grootmense begin verstaan dat die kat in die dam is, en toe kon ek hulle dam toe sleep om te sien dat die kat swem. Toe ons daar kom het die dooie kat op die water gedryf, en ek het altyd gevoel dat hulle my vir dom aangesien het, want hulle het hard probeer om mooi en saggies, met eeufemismes, te verduidelik dat die kat nie swem nie, maar dat die kat dood is. Dat hulle, of enige mens, die idee kon kry dat 'n plattelandse kind nie van dood weet nie, en dit nie verstaan nie, is vir my steeds verstommend. Dood was deel van elke dag van my jong lewe, en net so natuurlik as 'n kat wat kleintjies kry.

 Die damwater was, volgens stadsstandaarde, vieslik vuil want die dam het onder drie wilgerbome gestaan. Hulle blare het in die dam geval en tot 'n dik slik onder in die dam vergaan. Seker maar goed vir die groentetuin. Daar was ook plante wat in die dam gegroei het, en paddas. Miljoene paddas! Ons het destyds 'n skaapsker middeldeur gebreek en 'n riet met koperdraad in die kurwe van die handvatsel vasgemaak. Die riet het ons in die rietbos aan die voetenent van die dam afgesny. Daardie rietbos wat so groot en ruig dat ons paadjies in hom in gemaak het, en in die middel van die rietbos was die verskuilde hoofkwartier van ons bende. Ons skaapsker assegaaie was lekker gevaarlik, met hulle ses duim lemme. So klein soos wat ons was kon ons hulle gooi sodat hulle in 'n boom se stam vaspen. Met daardie assegaaie het ons paddas gejag en doodgesteek, op draad geryg en bo-oor die vullis drom (44 gelling, met gate in) verbrand. Hulle binnegoed blaas van hitte op totdat hulle 'ontplof' en dit is hoekom ons hulle oor die asdrom opgeryg het. Ek weet nie hoe ons dit ontdek het nie. Al die huis vullis het een van twee roetes geloop - of kompos hoop toe, of asdrom toe om verbrand te word. Aan die straatkant van die grensdraad, steeds onder die wilgerbome, was 'n ou Ford Prefect se wrak. Sy sitblekke was flenters en sy ruite was stukkend - in duisende blink skerwe op die kar se vloer. Ons het die skerwe vir amante gebruik en sodoende groot rykdom vergaar. Dit was eers jare later dat ek besef het dat die amante een woord is!

 Die ander groot wanopvatting van my jeug onthou ek vandag nog. Toe ek klein was het ek, soos alle kindertjies, saam met my ma in die dorp rondgeloop, met my hand in haarne, sodat ons kinders nie wegraak nie. Op 'n keer gebeur dit dat Boetie Vermeulen (of iemand, ek kan nie sy naam onthou nie) dood is. Dit was nuus omdat die trekker op hom geval het, en hy is net daar dood, soos 'n vlieg onder 'n vlieëplak. Ek onthou dit nog. By elkeen wat ons in die dorp gekry het, moes ons stop en groet, en dan het elkeen gesê: "Het jy gehoor Boetie Vermeulen is dood?" En dan, sonder om te wag vir 'n antwoord het elkeen die selfde storie weer oor en oor vertel. Sien, hy het met die trekker teen die steilte op gery, en toe los hy die klats (deel van 'n voertuig, soos ekzoz en taiers) te vinnig en die trekker se voor wiele wip op en die trekker tiep agteroor en val bo-op hom. Gruwelik. Die het ek alles mooi, en grafies, verstaan. Kort daarna, op 31 Julie 1964, is nog 'n plaaslike boer gruwelik oorlede. My pa het 'n vriend gehad, Don McKenzie, wat so wan en dan met 'n klein vliegtuig op die dorp geland het en kom kuier het. Ons het een keer saam met hom Windhoek toe gevlieg, so ons het van vliegtuie geweet. So hier en daar het 'n ryk skaapboer ook 'n vliegtuig aangehou. Ek onthou een van hulle, 'n skat stink ryk ou man wat 'n kasteel (letterlik) op sy plaas gebou het. Hy het spesiaal so 'n klein pophuis trekkertjie gekoop en daarmee op 'n lang ramp tot bo-op die mure gery met stene en goed vir die bouwerk. Hy was later jare getroud met Luna en ek was verlief op haar. (Gun my een ding: Toe ek elf jaar oud was, was sy in werklikheid BAIE nader aan my ouderdom as aan syne, want sy was iets oor twintig jaar oud, en sy was baie mooier as wat hy ryk was.) 'n Ander ryk boer het sy eie dieretuin aangehou, en hy was die eienaar van die enigtse llamas wat ek ooit in my lewe gesien het. Nog 'n boer, Piet Vos, het 'n bruin vrou aangehou, toe skei sy vrou hom, maar ek dwaal van die storie af. Kort na Boetie Vermeulen se dood het iemand se vliegtuig geval en en Jim Meriews (alles een woord: Jimmeriews), 'n plaaslike boer soos Boetie Vermeulen, is saam met al die ander in die vliegtuig dood. Gruwelik, soos 'n vlieg onder 'n vlieëplak. Morsig. Ek onthou dit nog, want so vêr as wat ons, ek met my hand in my ma s'n, in die dorp geloop het, het elkeen haar gevra: "Het jy gehoor? Jimmeriews is dood!" en dan, sonder om te wag, het elkeen die grusame verhaal van die vliegtuig wat in die storm gevang is weer oor vertel. Storms het ons ook geken, want as kinders het ons soms in die vensterbanke van die huis se dik mure gesit en gekyk hoe die rolbosse in die strate afwaai om in die drade vasgevang te word. Vir weke na so 'n storm het die rolbosse steeds in die drade opgehoop gelê. Ek was om en by dertig jaar oud toe ek die kloutjie by die oor gebring het, en vir die eerste keer besef het dat Jim Reeves nie, soos gedink het nie, 'n plaaslike boer was nie, maar 'n Amerikaanse sanger wat met mense soos Min Shaw en Gert Potgieter deur die land getoer het, en gevolglik was hy bitterlik goed bekend en baie gewild op die platteland. Hy het ook in SA films gemaak.


'n Vliegtuig land op die aanloopbaan by Carnarvon.
(Photo: http://www.hartrao.ac.za/news/060529kat_visit/index.html)

 Nog iets. Ons was die enigste mense in die dorp wat Engels in die huis gepraat het. Vir jare het ek vaagweg, van tyd tot tyd, gewonder "Who was the Roman Umpire?" Ek wou sy naam weet, seker maar iets soos Julius Caesar, maar ek het nooit genoeg belang gestel in 'n dooie man om sy naam op te soek nie. Min het ek geweet dat ek vandag duisende dooie mense se name sou opsoek.

 Die dam het vol gebly omdat daar in die agterjaart 'n windpomp was. Daardie windpomp was deel van ons speelplek en dit was ons klimtralie. Tussen die dam en die windpomp het iemand 'n koelkamer gebou, reg langs die windpomp. Die koelkamer het 'n sementvloer gehad, en was van stene en sement gebou. Die steen mure was so gebou dat elke baksteen 'n halwe baksteen lengte van die volgende steen gelê is. Die gate is vol goiing (van ou streepsakke) gestop. Binne in was sterk staal pale ingemessel sodat 'n mens 'n kwart bees, 'n halwe vark, heel skape en 'n paar springbokke daarin kon ophang. Biltong en droëwors het in die keraats se dak balke op drade gehang, bokant die karre. Ons kinders het dit met lang riete afgeslaan en van die grond af opgetel om dit skelm te eet. Bo-op die koelkamer was 'n asbes watertenk wat oorgeloop het wanner hy vol was. So het die stene, die mure en die goiing nat gebly. Erens op 'n plek het die oorloop water in 'n pyp beland, en die surplus is dam toe, vir tuin nat lei.

 Ons vleis is soms op plase geskiet, of was, 'n bees agterkwart of so, soms afgelewer. So wan en dan het die vleis, lewend, self die jaart ingestap. Dan het ons langs die windpomp skaap geslag. Nadat die vel af is, is die karkas in die windpomp raam opgehang om verder opgesny te word. Springbokke is ook so bewerk en opgesny in braaistukke (roasts), potvleis, biltong, of wors. Wors maak was vir ons kinders groot sports. Ons kon die vleismeul se slinger net-net, met moeite, draai. Maar die lekkerste van alles was om te kyk wie die langste wors kon maak. Beoordeling het geskied wanneer ma-hulle ons nie kon sien nie, want ons het die worse langs mekaar op die gangvloer neergelê om te kyk watter een die langste was.

 Ons het nooit hoenders gehad nie. Baie ander mense het hoenders aangehou, maar nie ons nie. Hoenderslag was ook vir my nooit lekker nie, want die hoeders stink wanner 'n mens kookwater op hulle gooi om die vere te kan pluk. Die honde het altyd uitgesien na hoenderslag, en het goed verstaan wanneer dit vandag gaan gebeur. Dan het hulle stertswaaiend al om jou gebly, net vir die sports daarvan om kopaf hoenders te jaag. So het ek toe gedink. Vandag reken ek dat hulle seker rondgehang het om hoenderkoppe wat vir hulle gegooi is uit die lug te vang, en om die derms te kan eet. Hoenders het ons by ander kinders se huise geslag. My pa het op 'n keer iets in sy kop gekry en 'n varkhok in die agterjaart gebou en varke aangehou. Dit was ook maar net todat die varke uitgebreek het, ontsnap het, en die dorp in gehol het. Na dit was hulle spek. By Tannie Esterhuizen het ons gehelp om haar appelkose en perskes uit te dop en op hoenderdraad stellasies uit te lê om droog te word. Ons het haar ook gehelp om konfyt te maak, om vrugte in te lê, en om tammeletjie te maak, want hulle het baie vrugte bome gehad. Dit was ook ons kinders se werk on die mossies en muisvoëls met ketties en windbukse te skiet sodat hulle nie die ryp vrugte verniel nie. Suikerbekkies was die enigste ding wat ons nooit mag dood maak nie. Bosduiwe en goeters soos skilpaaie en, by uitsondering, een keer 'n ystervark, het ons self doodgemaak, oor vure gebraai, en ge-eet. Ystervark pak jy met klei toe en jy begrawe hom onder 'n vuur wat jy vir ure en ure aan die gang moet hou, totdat die klei hard gebak is, en die ystevark, in sy eie sop, binne in gaar is. Wanneer jy die klei dop stukkend slaan bly al die penne daarin vasgevang en die ystervarkvel kleef aan die klei vas. Skilpad is anders. Sy vleis haak jy met bloudraad uit nadat hy gaar is.

 As jy ooit in Carnarvon kom, neem asseblief vir my 'n klomp fotos van daardie huis by nommer een Moutonstraat. Daar is baie dinge van daardie huis wat ek vandag nog onthou.

  
Karoo Vygies. (Photo: Marie Viljoen. Bokbaai vygies like jewels on the main street of Nieuwoudtville: http://66squarefeet.blogspot.com/2007/09/kamieskroon-to-nieuwoudtville-day-7.htmlFoto )

 

'n Brief aan ons Kuiernet
Elke maand sal een van die briewe aan die Kuiernet in ons nuusblad herhaal word.
Vandag se twee briewe kom van 'n ander kuiernet: SA Genealogie se kuiernet.

 From: Simon du Plooy
Sent: Wednesday, December 19, 2007 2:36 PM
To: SAGenealogie@yahoogroups.com
Cc: Buitenposten
Subject: [SA-Gen] Lyswyshede 1

 Goeiemiddag uit Potch,
Om die Poslys se “komkommertyd” bietjie op te kikker.

Die Geselslys se hoofdoel is sekerlik om Genealogiese inligting te vra, te deel ens. maar dit is nie waar dit bly nie. Lyslede se spitsvondigheid en oorspronklikheid en die wyshede wat so tussen die lyne gelees word verskaf (aan my in elk geval) baie binnepret en vir diegene wat belangstel hier is van julle sêgoed sedert Okt 2006.

30 Okt 06
Dit is my eerste e-pos as nuwe lid, ek voel amper soos Neil Armstrong!
Hein Hennig

23 Okt 06
Dit wil egter nou lyk of die oplossing vir my probleem nog dieper in 'n gat
verdwyn het. Ek sal maar net weer van voor af moet begin grawe.
Verna Fourie

21 Okt 06
Slaan my egter dood waar ek daaraan kom; dit kom uit my begin-dae toe ek nie gedink het dis belangrik om bronne aan te teken nie.
CHARLIE

18 Okt 06
Jan Cilliers
Dis nou 'n ander Alida wat hier vir jou skryf - nie jou ouma nie!
Alida Schoultz

17 Okt 2006
……………….en Drikus, jy moet maar sjokalade aanstuur na haar toe :-)
Paul.

16 Okt 06
Baie dankie, Daan - beteken dat die oplossing nog nie êrens rondlê nie - ek
sal maar self werk daarvan moet probeer maak!
Johann

15 Okt 06
Ongelukkig het die boek nie 'n naamindeks nie en het ek slegs die kort
stamregister met "Eyeball Mk1" deurgegaan.
Daan Hamman.

12 Okt 06
Ek sal nou weer verder moet krap om hom te plaas.Maar met my geluk blaf ek
moontlik alweer teen die verkeerde stamboom en dan ook nog na die verkeerde
tak
Annoniem – Nie aangeteken nie (SdP)

From: Simon du Plooy
Sent:
Thursday, December 20, 2007 3:33 PM
To:
SAGenealogie@yahoogroups.com
Cc:
buitenposten@rootsweb.com
Subject:
[SA-Gen] Lyswyshede 2

 4 Nov 06
En nou dat ek my eerste kind het, wil ek graag meer uitvind, sodat ek haar stamboek kan volledig maak, nie net oor genetiese goeters nie, maar oor hoekom 'n mens is soos jy is... Ek dink di's in baie van ons se rede om ons voorvaders te soek.
Melani

4 Nov 06
Andri, my dogter is nou 3 en 'n half maande en wil net .. gesels met ieder en elk wat op die plaas aankom... So, nee sy het net een familie afwyking en dit is om te gesels....
Melani

4 Nov 06
Dit sal nogal lekker wees om van al ons voorvaders en goeters te weet.
Melani

3 Nov 06
Ek wil nou probeer vasstel waar oorgrootjie Winter rerig was. 'n Verdere leidraad (of dalk afdraaipad?.. in welke geval dit 'n lydraad (of selfs 'n doringdraad!) kan word!) is dat die naam ..
Loffie

30 Okt 06
Christo
Jy het op 'n miernes afgekom of dalk 'n bol wol wat 'n kat beetgehad het. Hierdie families het waarskynlik almal in dieselfde omgewing genoem en keer op keer met mekaar getrou. Ek is besig om dit te probeer ontrafel.
Elmien

Die Greeff kuiernet se briewe kan almal hier gelees word:
http://archiver.rootsweb.com/th/index/GREEFF/

 
Karoo Blomme. (Marie Viljoen. Sparaxis elegans, growing on the farm Matjiesfontein: http://66squarefeet.blogspot.com/2007/09/kamieskroon-to-nieuwoudtville-day-7.html)

Die Groot Boom By Lichtenburg
deur Magdalena M M (Lenie) Schoeman (gebore Greeff, op 4 Januarie 1859).
Lenie se boek, waaruit hierdie uittreksel kom, is in 1926 uitgegee.
Deel Drie (Vervolg van vorige uitgawe). 

Wilde Boesmans.

 Ons het deur die land van wrede Boesmans getrek. Party moes ons vasmaak om by hulle te hoor waar water is. Gewoonlik het die Boesmans water in volstruiseierdoppe gehou, wel ʼn bewys dat hulle geweet het waar water was. Ons ou grootmaak Damara was altyd by as die Boesmans gevang was. Eendag was Pa hulle weer op Boesmanjag uit toe hulle onverwags op ʼn klomp Boesmans afkom. Die Boesmans het dadelik met hulle gifpyle aangelê en hulle sou seker geskiet het as vader se jong nie uitgeroep het nie: “Moenie skiet nie, die baas bring vir julle tabak.” So het vader een gevang en hom in die aand goed vasgebind vêr van die vuur af. As dit nie gedoen was nie, kou hulle die toue af en ontsnap. In die reël het vader een vasgehou om water aan te wys, totdat hy weer ʼn ander gevang het.

 Geboorte en Siekte van ʼn Kind.

 Gedurende die trek het vader altyd opgelet waar reën val en dan het ons soontoe gegaan. Een keer het ons dertig myl getrek om by so ʼn plek waar reën geval het te kom. Die groot kuile vars reënwater was heerlik. Daar kon ons toe veertien dae staan, maar moes, toe die kuile opdroog, weer terug na ons ou putte, ʼn reis van twee en ʼn halwe dag. Die putte is toe dieper gemaak, sodat die water meer standhoudend was. Bowendien het vader takke om die waens geslaan en alles goed ingerig.

 Een dag het moeder vir ons kinders gesê ons moet gaan speel. Dit het ons maar alte graag gedoen, maar toe ons weer later by die waens kom, hoe bly was ons nie toe ons ʼn klein babatjie sien. Sy het ʼn rokkie aangehad wat moeder van haar eie rok gemaak het.

 Toe die kindjie twee dae oud was, het sy stuipe gekry en vir twee dae lank was sy net baie siek. Sy het  toe weer ʼn bietjie beter geword. Maar twee dae later het sy so erg siek word dat vader vir moeder gesê het: “ons sal maar die ou groot kis van die wa afneem en haar daarin begrawe. Hier kan ons dan ʼn teken met klippe pak en haar later weer kom opgrawe.”  Moeder het egter nog nie hoop opgegee nie, maar vir vader gesê dat hy ʼn bietjie van die afloop teer van die wa moet gaan haal. Daarvan het sy ʼn pleister gemaak, en agter tussen babatjie se skouers gesit. Dit was ʼn wonderlike geneesmiddel, want ʼn halfuur daarna het sy haar ogies oopgemaak en altyd beter geword. Op die reis verder was sy toe nooit weer siek nie. 

Giftige Veldvrugte

 Op ʼn sekere dag het ons weer by die vyftien waens wat ons by die Meers Rivier (Sambesi) agtergelaat het, gekom. Daar was een-en-twintig mense siek aan die koors. Moeder het die mense toe met grou-vomitief en kasterolie gedokter en hulle het toe gou gesond geword.

 Hulle het daarvandaan saam met ons gegaan, en ons ry toe net om weer by die huis te kom, want die waens was toe vol olifantstande en volstruisvere. Water was maar skaars. Eendag moes van Zyl en die ander dag moes vader vooruit ry om water te soek. Van Zyl kom toe een agtermiddag by die waens met heerlike veldvrugte. Net moeder en ons kinders was by die wa, want vader was by die ander waens. Van Zyl haal toe van die vrugte uit sy sak en gee vir ons. Self se hy, het hy nie daarvan ge-eet nie, maar sy kneg Bouwer en ʼn paar Engelse het ge-eet. Toe van Zyl die aand vir sy vrou vertel watter lekker vrugte hy vir ons gegee het, was sy somar vir hom kwaad omdat hy nie ook vir haar daarvan gebring het nie. Hy het haar egter gou getroos deur haar te vertel dat hulle die volgende more by die plek sou aankom.

 Die volgende dag (Sondagmore) het ons vorentoe getrek om by die water te kom, want die diere was al baie dors. Omtrent drieuur die namiddag het ons by die plek aangekom waar die vrugte groei. Die waens hou stil en almal, tot selfs die honde, het van die lekker vrugte ge-eet, wat net soos lekker ryp appelkose gesmaak het. Nadat ons genoeg gepluk en ge-eet het is die reis verder voortgesit. Laat die agtermiddag kom ons toe by die eerste water. Dis toe dat ’n jong vir moeder gesê het, “Daar lê ’n hond dood.” ʼn Paar minute later kom nog ʼn hond verby gehardloop en slaan ook dood neer.  Die agterste waens trek toe uit die weg om uit te span, maar voordat hulle klaar uitgespan was, skreeu ʼn klein kaffertjie en slaan ook dood neer. Daar is toe nog ʼn kaffertjie dood.  Moeder en ek het toe gaan kyk hoekom dat die kaffertjie so ʼn nare geluid gemaak het. Moeder het my daarna na die wa gestuur om die vleis vir die volk uit die groot vat te haal. Terwyl ek daarmee besig was, het my oë so dof geword dat ek nie voor my kon sien nie. Ek roep toe vir moeder en sê dat ek nie kan sien nie. Moeder wou my nie glo nie en sê dat sy my ʼn pak sou gee as ek weer so lui is. Dit was die laaste woorde wat ek onthou het. Later het ek verneem dat my een suster vir my moeder gese het: “Ma, hier lê Lenie op die wa dood.” Almal was toe verskrik en Hendrik van Zyl wat die eerste vir moeder die vrugte gegee het, sê toe dat as Lenie sterf, hy homself sou doodskiet.  Moeder  het hom daaroor aangespreek en gesê:  “Nee neef Hendrik, hoekom sê jy so, as jy weet dat jou gewete rein is.”

 Hoewel vader daarop teë was, het moeder my vomitief met lou water ingegee.  Dit het my naar gemaak, en ’n rukkie later het ek slymdrade opgebring.  Die gevaar was egter nog nie verby nie.

Eers die tweede nag het ek aan die slaap geraak.  In die nag het ek wakker geword, opgestaan en van die wa afgeklim.  Ek het toe heeltemaal gesond gevoel.  Toe ek op die grond was, hoor ek vir moeder sê: “Die kind kan al lankal dood wees en ons weet niks daarvan nie.“   Daardie nag het twee kaffertjies en elf honde van die gif beswyk.

 ’n Rukkie later het ons weer by die stat van Segolatibi aangekom, waar ons koring en mielies ingeruil het.   Die kaptein het saam met die goed ook ’n bottel heuning vir moeder gestuur met die boodskap:  “ Sê vir jou baas dit is vir sy dapper vrou, en hy is my maat en ’n dapper man.“

Moeder wou egter nie van die heuning eet nie; die giftige vrugte het haar te bang gemaak. 

’n Astrante Kaffer.

 Een môre vroeg op die vêrdere terugreis het daar ’n kaffer by die waens aangekom en gevra waarheen ons gaan en waarvandaan ons gekom het.   Vader vertel hom toe dat hy vir die laaste twee maande geen wild geskiet het nie.  Die kaffer het ons laat verstaan dat sy kaptein baie kwaad is, en dat hy geen witmens deur sy land laat trek nie. 

 So is hy toe weg, maar dit het nie lank geduur nie of hy het weer met elf gewapende kaffers daar aangekom.  Ewe parmantig vra hy:  “Wie het vir jou die reg gegee om hier in ons veld te ry?   Weet jy dat my kaptein se orders is om die witmense wat hier in sy veld kom, te vang.“   Moeder het kwaad geword en gesê:  “Maak nou net wat jy wil,  maar dit sê ek vir jou, die Here sal ons bloed wreek en jy kan maar dood maak as jy wil.“   Vader het hom toe ook laat verstaan dat hy sy perd sou vat en na die kommandant toe sal ry en hom die saak vertel.“ Die kaffer sê net:  “Die perd sal ons ook vat.“  Vader spring toe op, vang die ou perd en maak hom aan die disselboom vas.

 Toe die kaffer sien dat nog vader nog moeder vir hom bang was, het hy sy astrante houding ’n bietjie laat staan, en gevra dat vader hom ’n paar sakkies kruit en lood en ’n goeie geweer as betaling moes gee.  Moeder het toe in die wa geklim om die geweer te kry. Terwyl moeder hiermee besig was, het Jafel by die wa gestaan en gesê :  “Vandag is ons almal dood.“

“Wat makeer jou Jafel?“ was moeder se antwoord,  “Ek het mos gesê die Here sal ons bewaar.“  

 Moeder het een van die gewere gebring maar die groot olifantgeweer weggesteek.  Dit het die kaffer gesien, en toe sy die ander geweer bring wou hy dit nie aanneem nie,  maar het daarop gestaan om die groot geweer te kry.  Om die vrede te bewaar moes vader hom dié geweer gee, maar het vir hom gesê:  “Ek verseker jou ek sal die geweer weer terug kry.“   Die kafferkaptein se naam was Gatsesebi. 

 By ons aankoms in Marico, het vader die gebeurtenis aan kommandant Jan Viljoen vertel.  Dadelik het hy ’n kommando opgemaak en die geweer gaan haal.  Ons was nie lank by die huis nie, of vader het sy geweer weer terug gekry.

 Die hele tog het ongeveer een jaar geduur.  My suster wat in die woestyn gebore is, was by ons tuiskoms vier maande oud.  Sy is nou Mev. P. de Wet.

Die Feesboom.

 ’n Rukkie na ons tuiskoms het vader die tande en vere in Potchefstroom gaan verhandel en ‘n goeie prys gekry, omdat die vere veral baie skaars en duur was.  Hy kon toe goed met sy boerdery aangaan en het volop volk gehad.

  Later het hy Lichtenburg se gronde vir ’n dorp verkoop, en het op Manana gaan woon. 

 Op sy vyftigste jaar het vader sy gelofte volbring, en sy verjaarsdag by die boom gaan vier, waar hy die Here vir al Sy goedheid gedank het.  Mev. Generaal de la Rey, een van my susters, het ook daar haar vyftigste verjaarsdag gevier, en ook my broer Jan Greeff.  Tot vandag toe nog, as dit reën, bly daar water in die boom staan.

Die einde.

 
Mooi Ryp Turksvye in die Karoo.

Greeff Genealogie

 Die hele Greeff stam, elkeen van ons, skuld vir Lee Greeff 'n baie groot dankie. Sy het, in haar eie tyd, en op haar eie koste, begin om al die Greeff boedels in die Pretoria Argief af te neem. My dank gaan ook uit aan Japie Greeff, haar man wat haar help om die fotos oor die internet by my in Londen te kry. Die fotos is 'n groot en monumentale werk. Die eerste vyftig van vier honderd boedels het sy reeds afgehandel, en sy het vir my 575 fotos vanuit daardie boedels gestuur. Die tweede bundel, vertel sy my, is reeds gedaan en sy sal dit vir my stuur sodra hulle lyne weer werk. Koperdraad diewe het hulle lyne probeer steel, maak kon nie want hulle het optiese vesel lyne. Toe breek die bliksems die stelsel - met opset.

 Elke boedel bevat 'n Sterf Kennis (Death Notice), en Lee neem 'n foto van elke SK want dit is die belangrikste dokument in die hele boedel bundel. Dit is belangrik want dit bevat gewoonlik drie geslagte name: Die oorledene, eggenoot, beide ouers, en kinders. In die geval van meisiekinders is hulle getroude vanne (en eggenote se name) dikwels ook daar. Met minderjarige kinders verskyn hulle geboortedatums dikwels.

 Ek het tot dusvêr 175 van Lee se eerste 575 fotos se inligting op rekenaar oorgetik. Dit vat lank, want elke naam moet sy eie rekord kry, en ek vorder stadig. Maar ons vorder wel. Omtrent 300 nuwe mense is deur hierdie fotos in ons stamboom bygevoeg. Dit is baie mense. Daarby het ek ook hierdie 175 van Lee se fotos op ons webblad gelaai. Al die fotos wat reeds gelaai is kan gesien word by:
http://www.greeff.info/tng01/browsemedia.php?mediatypeID=documents

 Elke foto word aan die oorledene se rekord gekoppel, en andersom. As een van jou voorouers se dokumente daar is sal jy daarvoor moet soek. Die ongeluk is dat jy onder die persoon se naam sal moet soek, en die naam sal jy nie weet nie. Al wat ek kan aanraai is dat jy van tyd tot tyd die lys dokumente deurkyk. Ek weet dat Oupa Jan (Gabriel Johannes Greeff) se vrou, Totie, se boedel wel daar is, en een van Rachel Marais se kinders ook, en 'n handvol van Friedrich Greeff se nasate.


Totie de Wet se Sterf Kennis. (Foto: Met dank aan Lee Greeff)

Ons het nou, alles tesame, meer as 330 afskrifte van oorspronklike brondokumente op ons webblad. Daar is van lankal af 'n reeks dokumente oor Oupa Jan se twee medaljes. Daar is ook 'n stel hofdokumente in 'n egskeiding saak waarin Diederich Johannes Greeff in 1909 as die 'ander man' genoem word. Bob MacLean, in Engeland, het vir my die reeks fotos gestuur, en in sy brief skryf hy:

"In my wife's family tree the Greeff name comes up in a series of contested Judicial Separation & Divorce hearings between 1909 and 1911 in the Cape Town Supreme Court, between my wife's grandfather James Le Gallais Thelland and her grandmother Edith Sophia Matthews. Diederich Johannes Greeff was the young with man whom James Le Gallais Thelland claimed his wife Edith Sophia had an affair. In April 1909 he was 19 years of age and employed as a letter carrier at the Graaff-Reinet post office. At the time of the alleged adultery he was engaged to a Johanna Maree who, at James's suggestion, was staying with Edith during James's absence from Graaff Reinet. In his testimony he claimed he was never alone in the house with Mrs Thelland, he never went to the house of Jeremias Frederick Meintjes where the alleged offence was said to have taken place, and never had "connection" with Mrs Thelland. The Judge didn't accept the "evidence" against them in the first case or, as far as I can see, the appeal. By the time of the final case in 1911, however, Edith was living with another man and had his child so the divorce went through."

Ek skryf toe vir hom terug:

"...If you ask me, Diederich did it. He strikes me as typical of the Greeff clan, and he has inherited the same trouble that most of us have. The problem is in his jeans."

 Francois Greeff.

Meer omtrent ons nuusblad:

Die Lichtenburgstam

Hierdie nuusblad word maandeliks deur Jan Greeff en Francois Greeff saamgestel en gesirkuleer. Almal in die familie is welkom om 'n bydrae te maak. Enige stories oor die familie is welkom. Stuur jou bydrae aan: Jan@verslank.net of Posbus 4181, Barberton, 1300. Ons verwelkom veral bydraes wat iets oor mense en hulle lewens vertel, en wat in die reeks 'Wie is Ek' kan verskyn.

Die adres van ons familie webblad is www.Greeff.info Al die name van die afstammelinge van Kommandant Hendrik Adriaan Greeff wat tans op rekord is verskyn op die webblad www.Greeff.info. Dit is omdat ons almal Greeff afstammelinge is, ongeag van wat ons vanne nou is. Om al die vanne in die stamboom te sien, gaan na:
http://www.greeff.info/tng01/surnames-all.php?tree=Lichtenburgstam Klik dan op enige van.

Klik op die skakel (http://www.greeff.info/tng01/searchform.php) om te kyk of jou naam daar is, en of jou detail korrek aangeteken is. Indien daar nog nie 'n foto van jou of jou voorouers verskyn nie, stuur asseblief een aan my by Jan@verslank.net en ek sal dit op die webblad plaas. Wees net asb geduldig, daar is tans ‘n agterstand met die laai van fotos omdat ons die webblad oorgeplaas het na ‘n beter program. Die fotos is ongelukkig in die proses verloor en moet almal weer opgelaai word.

Vir die familie wat nie internetfasiliteite het nie, vra asseblief een van die jonger geslag of vriende om jou te help kyk na die webblad en die kuiernet-stories.

Die Kuiernet bestaan sodat alle lede van die familie maklik met die hele familie kan kommunikeer. Om by ons kuiernet aan te sluit, stuur asseblief 'n epos aan GREEFF-L-request@rootsweb.com, met net die enkele woord, subscribe, as onderwerp en as inhoud. Om weer daaruit te kom, stuur unsubscribe.

Met vriendelike familiegroete,
Jan Greeff
Barberton
Tel: 013 712 2436
E-pos: jan@verslank.net

 

Hier is een honderd vanne van mense wat deel is van die Lichtenburgstam:

 

1. GREEFF (130)
2. DE WET (55)
3. SCHOEMAN (41)
4. VAN WYK (38)
5. DU PREEZ (38)
6. CARROLL (30)
7. DE VOS (25)
8. DE LA REY (20)
9. DU PLESSIS (17)
10. VAN DEN BERG (17)
11. [no surname] (14)
12. HUMAN (12)
13. KOTZE (12)
14. VAN NIEKERK (10)
15. LANGENHOVEN (10)
16. JACKSON (10)
17. BOTES (10)
18. JOUBERT (10)
19. FOURIE (9)
20. DE KOSTER (8)
21. PRETORIUS (8)
22. BOSHOFF (8)
23. BOUWER (8)
24. VAN DER MERWE (8)
25. MEYER (8)

  

26. FERREIRA (8)
27. KRUGER (7)
28. SNYMAN (7)
29. STEYN (7)
30. SWART (7)
31. ROOS (7)
32. GELDENHUYS (6)
33. PIENAAR (6)
34. HEUER (6)
35. KOEKEMOER (6)
36. CONRADIE (5)
37. LABUSCHAGNE (5)
38. CRONJE (5)
39. BARNARD (5)
40. LEMMER (5)
41. PERRY (5)
42. HENNING (5)
43. BEZUIDENHOUT (5)
44. WELS (5)
45. VAN AARDT (5)
46. MEINTJIES (5)
47. VAN DER WESTHUIZEN (5)
48. MYBURGH (5)
49. NEWMAN (4)
50. SHAW (4)

  

51. VAN SCHALKWYK (4)
52. GALVIN (4)
53. LAUBSCHER (4)
54. DE JAGER (4)
55. LEIGHTON (4)
56. DE KLERK (4)
57. BEHRENS (4)
58. LOURENS (4)
59. DE NYSSCHEN (4)
60. DELPORT (4)
61. HOUGH (4)
62. RAS (4)
63. BOTHA (4)
64. MENTZ (4)
65. REYNOLDS (4)
66. DUXBURY (4)
67. BURGER (4)
68. MUNTINGH (4)
69. VAN HEERDEN (4)
70. COETZEE (4)
71. KRIGE (4)
72. NAUDE (3)
73. VAN ROOYEN (3)
74. NIEHAUS (3)
75. CRUNDWELL (3)

  

76. VAN STADEN (3)
77. BADENHORST (3)
78. CUBITT (3)
79. BECKER (3)
80. WARNER (3)
81. HOLLMAN (3)
82. WATSON (3)
83. DREYER (3)
84. MATHEWS (3)
85. VAN DEN HEEVER (3)
86. DU TOIT (3)
87. MENKVELD (3)
88. KARSTEN (3)
89. KELLY (3)
90. ECKARD (3)
91. VAN DER WATH (3)
92. ROSS (3)
93. CLARK (3)
94. FORBES (3)
95. FOUCHé (2)
96. NEL (2)
97. SCHOLTZ (2)
98. SMIT (2)
99. SMITH (2)
100. LEACH (2)