Notes |
- 'n Greep uit Daniël Jacobs se voortgaande navorsing oor Alida Badenhorst wie se dagboek as Tant Alie van Transvaal gepubliseer is. Alida se suster Totie was getroud met Gabriël Johannes (Jan) Greeff, broer van Lenie Schoeman (gebore Greeff.)
In haar dagboek verwys sy na 'n besoek wat sy aan o.a. Generaal de la Rey gebring het. Daar word ook in die deel verwys na Hennie Schoeman se oupagrootjie en een van sy seuns, wat dan waarskynlik Hennie se Oupa Hendrik of sy broer Fanie was.
Hier volg 'n transkripsie van die betrokke deel.
Tant Alie (Alida) is op 19 Februarie 1902, toe sy in Klerksdorp gebly het, deur die Engelse toegelaat om 'n ou tannie Brits na Hartebeesfontein te vergesel waar die tannie se gewonde kleinseun in 'n Boerehospitaal was. Die ou tannie wou die seun terugneem Klerksdorp toe.
Sy vertel: "Om sewenuur op die môre van die 19e was ons ook by die hek en die wag het ons deurgelaat. Toe ek buite kom, sing ek: 'Dank, Vader, dank vir die genade...' en die ou moeder het saamgesing. Sy was 'n gelowige ou mens, altyd biddend.
Ons was nie ver nie toe begin die perd siek word. Ek ry op 'n stap; die ou moeder sit en bid en ek begin te lag of ek gek is. Dit was my swakheid: as iemand nood gehad het, kon ek nie help om te lag nie. Toe ons 'n uur gery het, moes ek die perd uitspan. Daar sit die ou moeder en bid, en as ek haar aankyk, skree ek uit van lag. Sy het my so verbaas aangekyk. 'Lag jy nog!' sê sy.
En toe lê ek teen die kar aan en lag tot ek nie meer kon nie. Maar eindelik sê sy: 'Nou het die perd lank genoeg gerus,' en ek span hom weer in. Dit het maar stadig gegaan. Hoewel dit 'n rit van slegs twee en 'n half uur te perd was, het ons die plek van ons bestemming eers om twaalfuur bereik.
Toe ons by die hospitaal aankom, het nog niemand ons gesien nie; daar het net 'n paar kaffers gestaan. Ek hou stil; die ou moeder klim af en vra die kaffers om uit te span. Ek hardloop so hard ek kon binne in die hospitaal in.
'Ek dag julle sou bly wees om my te sien,' sê ek, 'en julle kom nie eens uit nie!'
Hulle was verskrik. 'Het jy weggeloop?' vra hulle.
'Nee, ek het 'n permit!' antwoord ek.
Lenie Rothman, ons rooikruis-verpleegster, was daar, en ook mnr. Gericke. Sy was besig met brood knie. 'Kyk!' sê ek, 'ek het gehoor dat julle geen meel of brood meer het nie!' en sy lag lekker.
Daar was in die hospitaal sekere Mnr. Fourie en mnr. Van Vuuren en Erns, en nog twee ander; dit was die siekes en gewondes. Toe die ou moeder by haar kleinseun kom, vou sy haar hande saam en sê: 'O God, hoe goed is U! Dank, ewig dank vir U goedheid!' En die twee het saam gehuil.
'Pieter,' sê ek aan die seun, 'ons het jou kom haal.' Pieter skud sy kop. 'O nee,' sê hy, 'ek gaan nie saam nie. Ek gaan nie!'
'Wel,' dag ek, dit raak my ook nie; want ek is maar koetsier en hoef geen rekenskap te gee nie.'
Ons dokter wat daar was, het dadelik aan genl. Liebenberg gerapporteer dat daar 'n paar vrouens aangekom het, maar niks wou vertel nie. Die generaal stuur toe meteens 'n boodskap aan sy sekretaris, Jan de Villiers, wat 'n ent daarvandaan was, om hom te laat weet hy moet die vrouens onmiddellik terugstuur.
Maar 'n paar burgers was op Hartebeesfontein om vrugte te haal. Hulle kom by die kommando en sê aan die generaal: 'Generaal, het u gehoor dat Alie Badenhorst op Hartebeesfontein is?'
'My God!' sê die generaal. 'Daardie vrou moet ek sien, want sy weet miskien van my vrou.' En hy stuur 'n boodskap.
Na ons geëet het, sê Lenie aan my: 'Ons het nou 'n bietjie tyd om na die tuine te gaan kyk, en na die afgebrande huise. Want as ons later wag, sal die burgers jou geen kans gee nie. As hulle eers weet dat jy hier is, sal almal jou wil sien om iets te wete te kom omtrent hul families.'
Ek gaan toe mee om alles te sien. Vreeslik om te sien hoe alles verwoes en verbrand was! Ons pragtige skool, ons pastorie, ons kerk; die banke, die lampe, die klok in die toring, die preekstoel - dit het in een woord na 'n woesteny gelyk! Die bome is gespaar; maar alles het woes gegroei; die gras en bossies was hoër as my kop. Ek kon nie help om te lag nie - dit was of daar 'n klomp duiwels in gewees het.
Toe ons weer by die hospitaal kom, was daar reeds burgers wat vir my wag. Hulle was tog te bly om my te sien, en ook ek was verruk van blydskap om weer my dierbare Boere te sien - en almal so vet en mooi!
'Dit is my 'n wonder om julle so mooi te sien!' sê ek. 'Ek het gedink dat julle maer, verhonger en verflenterd is!'
'En wat het jy nou vandag hier geëet?' vra hulle.
'Wel,' antwoord ek, 'op tafel was daar mieliepap en gestoofde vrugte; daar was lekker stoofvleis en brood; en vir nagereg het ons perskes en ander vrugte gekry.'
Hulle klap in die hande van pret. Hoe bly was almal - alhoewel ook treurig om te sien hoe vervalle ek was in my gesig, sodat hulle my byna nie kon herken nie.
So het ek besoek gehad tot laat in die aand. Onder andere was daar Paul Roux, die skoolmeester van Goedgevonden; hy was so bly om my te sien en te hoor hoe dit met sy vroutjie gesteld was. Ek dink veel van hom; hy dra 'n ware Afrikanerhart in hom.
Toe ons die aand na bed gaan, het ek weer my pret met die ou tante gehad. Nou was sy tog te bang om na die dorp terug te gaan, want sy het die grootste vrees gehad vir die majoor op Klerksdorp omdat die kleinseun dan nie saam wou gaan nie. Dan bid sy en dan praat sy. Ek lag maar altyd, en dan kon sy my so verslae aankyk! So het ek aan die slaap geraak, met 'n gevoel van heerlike gerustheid. Toe ek die môre wakker word, was dit onder die gebed van die ou tante, en ek het saam gebid.
Ek was nog besig om te was, toe klop daar iemand aan die deur. 'Kom gou!' hoor ek. 'Generaal Liebenberg wil met jou praat!' Ek kon nie dink nie, want dit was pas sonop. Ek loop binnetoe met 'n gelaat stralende van geluk dat ek my ou vriend weer sou sien.
Ek is so bly,' sê hy, 'om jou te sien. Jy kan my seker tog iets van my vrou vertel!'
'Ja,' antwoord ek. 'Wonderlik, ek het 'n brief gekry van jou vrou van Howick-kamp in Natal. Sy sê dat die kinders siek was, maar weer beter is. Ek kon tog die brief aan jou meegebring het, maar ek was verbied om so iets te doen.'
'Ek kom jou haal,' sê die generaal onderwyl ons 'n koppie koffie drink, 'om jou na genl. De la Rey te stuur; hy is nie ver weg nie.'
Ek was baie bly oor die vooruitsig om weer oubaas Koos te sien, en ook my swaer Jan Greeff, genl. De la Rey se adjudant; ook die generaal se vrou. Spoedig was ek klaar. Toe sê die generaal: 'Maar jy moet jou inrig om môre eers terug te kom.'
Ek was amper bang om uit te slaap. 'Waarom is jy bang?' vra hy. 'Vir die Engelse' sê ek. 'Ag hulle is ver!' antwoord hy. En ons is weg. Het ek ooit kon droom dat ek weer so langs die generaal op 'n spaaider sou sit! Ons het byna twee uur gery toe kom ons by die laer aan.
Daar is ek na genl. Liebenberg se tent geneem. Almal sit rondom my en die generaal bestel vir my ontbyt, wat mnr. Gert Knobel bedien het: 'n Lekker beker koeimelk, mieliepap, brood en gestoofde vleis. O, die vleis en sous was so heerlik; die pap was so lekker! Nooit vergeet ek daardie ontbyt nie. Ek meisiemens alleen tussen al daardie helde - en hulle was manne van naam! So gelukkig as 'n kind het ek my gevoel, nie of ek 'n moeder met ses kinders was nie.
Al my neerslagtigheid, al my siekte, al die afmatting en vermoeienis was weg!
Daar was twee jongelinge in wie ek baie belang gestel het en ek was so bly om hulle te sien. Die een was die seun van genl. Liebenberg, en die ander van Abel Schoeman.
Een het aan my regter en een aan my linkersy gesit en in my gesig opgesien; albei het blou oë gehad. 'Kinders,' sê ek, 'hoe dankbaar is ek om julle hier nog in die lewe te sien!' "
Almal het my uitgevra, en van almal omtrent wie die vrae kom, kon ek min of meer rekenskap gee; maar aan hoeveel moes ek nie sê: 'Jy het geen vrou of geen kind meer nie!'
Dan antwoord hulle: 'Ons het geen vrou of kind nie, waarom moet ons dan oorgee?' Eenparig was die getuienis: 'Ons sal en moet ons land terugkry!'
Maar die tyd om te praat het verstryk; die kar is ingespan met twee vars perde en Abel Schoeman sou my na genl. De la Rey neem; ek moes groet en heengaan.
Dit was my daardie dag of ons nooit by die generaal sou aankom nie. Ek was daar onbekebd; my verlange was groot; die pad het my baie lank geskyn. Maar daar was iets te sien - troppe beeste, skape, perde; lande met mielies, pampoen; die bome geel van vrugte. Ek was verbaas, want ons het steeds gehoor dat die Boere sonder kos , sonder perde, sonder kleding was; en hier was van alles; perde, pragtig en baie; ek kon nie insien waarom ons mense nie sou kon voortgaan nie.
Eindelik sien ons 'n huisie. 'Daar,' sê Abel Schoeman, 'is ou Koos se huis.' Abel was die generaal se swaer.
Ons kom by die huis, maar ons sien geen mens nie. Toe ons stilhou, kom niemand uit nie. Ek loop na binne; ek neem die generaal om die nek en gee hom 'n soen; toe soen ek sy vrou. Daarna loop ek op my swaer af en sê: 'Nou is dit jou beurt om water te drink!'
Toe sien hy eers wie dit is. Hy slaan sy hande inmekaar. 'Alie, is dit jy!'
Maar die generaal sê: 'Help my dan uit die droom - wie is dit?' 'Dit is Alie Badenhorst!' antwoord Jan Greeff. En daar begin mev. De la Rey te huil omdat ek so veranderd was, so onkenbaar. 'Het jy weggeloop?' vra hulle ook.
Daar het ek 'n heerlike dag deurgebring; die nag het ek daar geslaap. Van al die kommando's het burgers gekom om my te sien en aan my geld te gee om vir hul families mee te neem. Alles het ek aangeteken. Ek moes in geen omstandighede die geld afgee nie, het die generaal aan my gesê. 'n Volksraadslid se vrou het van Mafeking gekom en 1 400 pond saamgeneem; toe het die majoor van Mafeking dit afgeneem. 'Ons majoor is 'n baie goeie man,' het ek geantwoord; 'hy sal die geld nie van my afneem nie.'
Daardie aand het ons predikant, ds. Strassheim, oorgekom; ek was so bly om hom te sien. Hy het 'n groot biduur gehou 'n ent van die generaal se huis af. Daar was baie mense; ek het my so gelukkig gevoel.
Die volgende môre na die ete het ek afskeid geneem van my dierbare vriend en sy vrou en teruggery na Hartebeesfontein."
Dan vertel sy van heelwat gesprekke te Hartebeesfontein met verskillende burgers. Oor die volgende oggend, 22 Februarie 1902 se terugreis na Klerksdorp vertel sy die volgende:
"Toe ons by die kar kom, was daar nog 'n dierbare vriend, Schalk Burger. 'Wat moet ek aan jou vader sê, wanneer sal jy inkom?' vra ek hom.
Hy gee my £3. 'Gee dit aan my broertjie,' sê hy; 'en sê aan my Pa hy moet my nie verwag nie; onder die dooies kan hy my soek, nie onder die hendsoppers nie.' "
Dit was drie dae voor die slag van Ysterspruit op 25 Februarie 1902 waar Generaal de la Rey 'n groot oorwinning oor die Engelse behaal het. Schalk Burger was een van die gesneuweldes aan Boerekant. Dit was om die Boere te vergeld vir die groot verliese wat hulle die Engelse by Ysterspruit toegedien het, dat o.a. Lord Methuen kort daarna teen Generaal de la Rey uitgetrek het en op 8 Maart ook 'n groot neerlag by Tweebosch gely het."
Tant Alie vertel verder oor die terugkeer na Klerksdorp: "Dit was 22 Februarie, daardie môre. 'n Paar van die burgers het my uitgeleide gedoen - Piet Human, Piet Badenhorst en Piet Boshof. Die drie Piets het my halfpad na die dorp gebring en daar het ons van mekaar afskeid geneem. Dit was my of ek in die hemel gewees het, en nou weer moes teruggaan.
Toe die hek agter my toe val, sê ek: 'Ja, ek gee myself gevange!' "
Maart 2017 [2]
Died:
|