Notes |
- Kon destyds ook sy van soos volg gespel het MORITZ - MARIS - MARISSE Van beteken "naam van 'n martelaar"
Stamvader: Jan of Johannes Maritz, ook gespel Moritz en Maris, oorspronklik waarskynlik Marisse, van Barntrup in Lippe (Duitsland), gebore 27.3.1696, seun van Johann Heinrich Moritz en Anna Elisabeth Kroisen. Kom in 1718 hier aan vanaf Vlissingen as soldaat op die "Raadhuys"; later boukneg. Burger in 1724; kleremaker op Stellenbosch en later in die Paarl. Oorlede Junie 1734. Trou met Johanna Barendina Labuschagne, van Enkhuizen (Nederland), oorlede 1734, dogter van Pieter en suster van Jan Labuschagne (4 kinders).
Hy het nie 'n familiewapen nie; In 1947 het 'n nuwe wapen ontstaan? wat 'n variant is van die wapen van die familie Mauritz, nl. Gevierendeel; 1 in blou 'n dwarsbalk, in die kwartierhoof vergesel van 'n verkorte kruisie, alles goud; 2 in goud 'n skuinsbalk, in die kwartierhoof vergesel van 'n ruit, alles groen; 3 in rooi twee goue dwarsbalke; 4 in blou 'n dwarsbalk vergesel bo en onder van 'n eiketakkie met steel en blare; oor alles heen 'n hartskild; in rooi 'n golwende skuinsbalk van silwer en 'n vrykwartier van goud.
Jan Marits die stamvader:
Op 7 November 1717 vertrek een van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie se skepe, van Holland na die verre Oos-Indie. Gedurende die eerste paar dae word met gunstige wind goeie vordering gemaak, sodat die skip op 11 November reeds 'n gedeelte van die Engelse Kanaal agter die rug het en reg teenoor Portsmouth vaar. Maar hier kom kwaai teenwinde voor, en die vordering word langer hoe moeiliker. Twee maande lank moet die matrose in die Engels Kanaal swoeg en spook om 'n afstand van ongeveer 200 myl af te lª, maar nadat hulle middel Januarie 1718 Falmouth verbygesukkel het, gaan dit weer beter aan.
Verder was die reis na die halfwegstasie, die Kaap die Goeie Hoop , baie voorspoedig: die vordering was goed, en daar het min siekte en sterfgevalle aan boord voorgekom: uit 'n bemanning van 188 slegs agt siek en vyf dood, wat vir die tyd bepaald gunstig is. Op Woensdagoggend, 27 April 1718, kort nadat die dag deur 'n bewolkte hemel aangebreek het, laat in Tafelbaai anker laat val.
So het die reis van Jan Moritz Marits na sy nuwe vaderland verloop. 'n Mens kan jou voorstel dat die opvarendes van na die lang seereis met 'n sug van verligting in die vroeë oggenduur die indrukwekkende, donker vorm na Tafelberg uit die see sien opdoem het, en dat hulle ook weldra vol belangstelling hulle blikke op die vlekloos-witgekalkte huisies op die strand laat val het. Onder hulle sal veral Jan Marits 'n belangstellende gewees het, want hy sou aan die Kaap agterbly en het hom dus waarskynlik voorheen reeds allerhande voorstellings omtrent die nuwe land gemaak. Toe sy skip drie weke later die reis na Oos-Indië voortsit, was dit vir hom 'n finale afskeid van sy reisgenote.
Jan Marits, 'n Duitser van geboorte, was afkomstig van Barntrup in die graafskap Lippe in Wes-Duitsland. Soos baie ander Duitsers ook gedoen het, het hy as soldaat in die diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie getree en in hierdie hoedanigheid, met 'n salaris van nege gulden per maand aan die Kaap aangekom. Hier dien hy sy tyd as soldaat uit en tree hy in die huwelik met Johanna Barendina Labuschagne. Na sy troue word die lokstem van sy eintlike beroep nl. die kleremakersambag, vir hom egter te sterk en besluit hy om die soldatelewe vaarwel te sê.
Aan die end van 1724 nader hy die waarnemende Kaapse gesaghebber, Jan de la Fontaine en die Politieke Raad met 'n versoek om onslag uit die owerheidsdiens; "Vertoond met veel eerbiedigheid u Ed. Agtb. seer onderdanigen dienaar Jan Mourits Maris...hoe hij supplt. vermeijnd onder Godes zeegen in staat te weesen met desselfs kleedermaakers ambagt voor hem en zijnhuijsvrouw op een behoorlijke wijse de kost te kunnen winnen, ende te aansien des Zupplts. verbonden tijd al voor lange is komen te expireeren, soo neemt hij die vrijheijd sig in alle nedrigheijdt te wenden tot u Ed. Agtb.. oodmoedig suppliceerend dat deselve van die goedheid ge lieven te sijn hem uijt sComps. dienst te largeeren, en als burger deser plaatse aan te stellen.
Die Regering het sy versoek toegestaan, en aldus tree Jan Marits uit die Kompanjiesediens. Kort daarna begewe hy hom met sy vrou na Drakenstein, waar hulle van 1725 tot 1729 woon, sodat die stamvader en moeder van die familie Maritz reeds vroeg met die binneland verband gekry het. In Drakenstein is hulle eersteling gebore, Johannes Stephanus, asook twee ander kinders. Hulle bly egter nie lank in die binneland woon nie, want in 1729 is hulle terug in die Kaap, waar hulle vierde en laaste kind gebore is.
Dit was hulle egter nie gegun om nog baie jare met mekaar aan die hoofplaas deur te bring nie, want reeds aan die begin van 1734 is Johanna Barendina Marits oorlede. Waar die naam van Jan Marits en sy vrou in die voorafgaande nege jaar gereeld naas mekaar op die monsterrolle van die vryburgers voorkom, staan sy naam in 1734 vir die eerste keer alléén. Hieragter skuil daar 'n tragedie waarvan die koue amptelike stukke van die tyd slegs die hooflyne laat sien.
Na 'n huwelikslewe van elf jaar moes Jan Marits van sy vrou afskeid neem. Hy het met vier jong wesies agtergebly: Johannes Stephanus, nege jaar oud; Catharina Magdalena, agt jaar oud; Hans Hendrik, sewe jaar; en Maria Margareta, vier jaar. Met hierdie kindertjies, juis in die jare toe hulle die sorg van 'n moeder die meeste nodig gehad het, moes Jan Marits die toekoms alléén tegemoet sien.
Die boedelsake van sy vrou het nou aandag geverg. Hy stel 'n inventaris van haar nagelate goedere op en lewer dit by die Weeskamer in; weesmeesters Van Schoor en Artoijs gaan dit na en keur dit goed. Daarna takseer hulle die boedel. Daar is o.a. 'n jong slaaf, Jonas van Ternate, wat op 300 gulden gewaardeer word, en 'n slawemeid, Leijs, van die Kaap, met haar kind, 500 gulden. Die totale bates, bestaande hoofsaaklik uit skulde aan die diakonie van Drakenstein en aan private persone, tot 'n totale bedrag van 1,631 gulden 10 stuiwers. Genoemde weesmeester konkudeer dus : "Sulx den boedel te quaat een somma van f. 282:10.
Die dood van Johanna Marits was egter nog maar die voorspel tot die eintlike tragedie. Binne nege weke nadat Jan Marits die inventaris van sy vrou se nagelate goedere onderteken het, is ook oorlede. die vier weeskindertjies het nou alléén agtergebly: die oudste Johannes Stephanus, was nog veels te jonk om vir homself te sorg; die jongste, Maria, nog te jonk om hulle toestand te besef.
Na die dood van Jan Marits het gekommiteerde weesmeesters sy goedere kom inventariseer. In die inventaris, gedateer 3 Junie 1734, kom daar niks besonders voor nie: min of meer maar gewone goedere soos klerasie, porseleinware, potte, panne, en dan ook enkele dingetjies wat 'n mens onder die goedere van 'n kleremaker kan verwag: 1 doosje met vingerhoeden en naayringen en 2 kopere strijkzers. 'n Paar ander poste is ook interesant nl. 16 boek klijn formaat papier, 1 schrijff leij en 1 schoolbank.Dit laat dink dat Marits ook skoolmeester was, maar positiewe bewyse hiervoor het ons nie.
'n Paar dae na voltooiing van die inventaris is die goedere per openbare veiling verkoop. Volgens sertifikaat van die weesmeesters De Wet en Cruijwagen het die vendusie altesame slegs 233 riksdaalders opgelewer, wat bewys dat Jan Marits maar 'n arm man was. Die erfenis van die vier minderjarige weeskinders was so gering dat dit met die oog op hulle onderhoud en toekoms nie noemenswaardige waarde gehad het nie.
Dit is kortliks 'n paar hoofpunte uit die lewe van Jan Moritz Marits, die stamvader van die familie Maritz in Suid Afrika, waar as Kompanjiesoldaat na die Kaap gekom het, maar na 'n paar jaar uit die owerheidsdiens getree en hom as kleremaker by die geledere van die vryburgersbevolking aangesluit het. Hiermee het hy 'n belangrike stap gedoen, want hy het nou nie meer tot die losse, vlottende beampte-element behoort nie, maar 'n vruburger, 'n kolonis, geword; hy het nou tot die gevestigde, plaaslike bevolking toegetree en sou deur sy nageslag aan die opbou van 'n volk en die uitbreiding van die beskawing in Suid Afrika deel hê.
Kom van Duitsland. Vertrek Vanaf Holland op die 7/11/1717 met die skip "Raadhuijs van Vlissingen" Kom in die Kaap aan in 1718 as 'n soldaat. Word later 'n boukneg. Word 'n burger in 1724. Kleremaker op Stellenbosch.
|