Notes |
- Methuen was captured at Tweebosch on 7 March 1902, the only British general taken during the war. It is on record that Mrs de la Rey gave him boerebeskuit and killed her last chicken for him. Source: Emily Hobhouse, Boer War Letters, Human & Rosseau, ISBN 0 7981 1823 7
Max du Preez skryf op 9 Januarie 2009 in Beeld soos volg:
Die stortvloed heldeverering vir Helen Suzman na haar dood op Nuwejaarsdag het my weer laat wonder hoekom ons gemeenskap so traag bly om die merkwaardige vrouehelde uit ons verlede te erken en te eer. Dink maar aan Albertina Sisulu. Selfs skoolkinders weet wie en wat Walter Sisulu was, maar al wat die meeste Suid-Afrikaners van Albertina weet, is dat sy Walter se getroue eggenote was.
Ek het albei mense geken. Ek dink 'n eerlike ontleding sal aantoon dat Walter, wonderlike, eerbare man wat hy was, se belangrikste rol dié van aanvulling tot Nelson Mandela was.
Albertina, daarenteen, was tot in die vroeg 1990's 'n merkwaardige leier in eie reg, want haar man was in die tronk. Geslagte jong swart leiers is deur haar huis en haar hande. Sy is die Moeder van die Nasie; Winnie Madikizela was dit nooit nie.
Ek het in my jongste boek, Of Tricksters, Tyrants and Turncoats, ook na enkele ander vrouehelde gekyk, en twee uitgelig wat ek gedink heeltemal onderskat is: die BaTlokwa-leier en bobaas-kryger van die vroeg 1800's, Mantatisi, en Nonnie Greeff-de la Rey, vrou van Generaal Koos. Dit is vir my interessant dat die meeste reaksie wat ek oor die boek kry, juis oor Nonnie de la Rey gaan. Dit is die meeste lesers se gunstelingstorie, swart en Engelssprekend ingesluit. Soos haar ma, Suzanna, het Nonnie (in 1865 gedoop Jacoba Elizabeth) trou aan haar man gesweer, hom gedienstig bygestaan en aanvaar hy is die leier in die huwelik. Maar Suzanna en haar dogter (soos MaSisulu en soveel ander sterk vroue) was eintlik net sulke sterk - of sterker - persoonlikhede as hul mans, wat eintlik maar net toegelaat het dat hul mans glo hy is die geeerde patriarg net om nie die orde te versteur nie.
Diep godsdienstig was Nonnie wel, maar nie so 'n fundamentalistiese Christen soos Koos nie. Terwyl sy en haar ma op nog 'n lang tog saam met haar ewig-trekkende pa, Hendrik, heeltemal sonder water gaan staan het, het Hendrik aan God gesê as Hy vir hulle water gee en hul lewe red, hy op sy vyftigste verjaardag na daardie selfde plek sou teruggaan om vir God dankie te sê. Hendrik het van sy kniee opgestaan en vir sy gesin gese God het aan hom gese daar is water in daardie boom, en hy wys na 'n ou boom daar naby. Hulle dag eers die arme man het sonsteek, maar toe hulle by die boom kom, sien hulle 'n klomp water van die laaste reenbui was in 'n vurk in die boomstam opgevang. Daar was genoeg water vir hulle en hul diere.
Hendrik het wel in 1878 op sy vyftigste verjaardag met sy familie, vriende en sy dominee na dieselfde plek teruggegaan om God te bedank. Toe sy vyftig word in 1906, het Nonnie haar familie en vriende ook na die plek teruggeneem om weer dankie te gaan se - en in 1937 het haar dogter, Polly, dieselfde op haar vyftigste verjaardag gedoen.
Die Greeffs het in Lichtenburg tot ruste gekom. Nonnie en Koos is in 1876 in die Hervormde kerk in Zeerust getroud. Sy het nie veel onderwys in haar lewe gehad nie, maar kon darem genoeg lees en skryf om 'n dagboek oor haar lewe te hou.
Die De la Reys het op een van Hendrik Greeff se stukke grond begin boer, maar Koos was meestal weg om Naturellekommissaris, landmeter en kommandoleier te speel. Nonnie het die boerdery oorgeneem. Tussen 1878 en 1897 het Nonnie die lewe geskenk aan sewe dogters en vyf seuns - twaalf kinders in negentien jaar! Twee van die seuns is as babas dood.
Ná haar ma se dood het Nonnie ook haar ma se vier jongste kinders en sommer twee ander kinders ook aangeneem. Sy het dus sestien kinders gehad om groot te maak en kos te gee. Koos self het volgens van sy biograwe nie veel met die opvoeding te make gehad nie.
Maar die merkwaardige deel van Nonnie se lewe het eintlik begin toe die oorlog in 1899 uitbreek en Koos 'n militêre sleutelfiguur geword het. Binne 'n maand ná die uitbreek van die oorlog is haar seun Adaan, wat saam met sy pa geveg het, by die Slag van Tweerivieren doodgeskiet. Nonnie was diep getref, maar het dit haar plig geag om eerder haar man te troos. Sy het in 'n verlate huis naby haar man se kommando in die Magersfontein-distrik gaan bly en haar man gereeld gesien in die weke ná Adaan se dood. Op Kersdag en Oujaarsdag het sy vir hom 'n groot maaltyd gegee. Sy is eers op 7 Januarie 1900 terug huis toe nadat Koos Colesberg toe gestuur is.
Die Britte het gou agtergekom Koos de la Rey gaan een van hul grootste nagmerries wees. Hulle het gehoor Koos gaan kort-kort terug plaas toe om vir Nonnie en die kinders te sien en het 'n veldtog geloods om hom te vang. Maar elke keer as Nonnie Britse soldate op haar plaas gesien ronddwaal het of probeer het om vee of perde te vang, het sy perd opgesaal en die Britse bevelvoerders gaan konfronteer. Generaals Archibald Hunter, CWH Douglas en Lord Methuen self het so onder haar skerp tong deurgeloop en elke keer hul manskappe opdrag gegee om hulself te gedra.
Nonnie het gou 'n gevreesde figuur onder die Britse offisiere geword. Lord Methuen het haar op haar plaas gaan besoek, eers om vir haar te gaan se sy opdrag was om al haar perde te konfiskeer (wat sy hom toe oorreed het om nie te doen nie) en later om met haar te onderhandel oor sy opdragte van bo om haar huis af te brand. Hy het aangebied om een gebou te los sodat sy en die kinders daarin kon woon, maar sy was nie bereid tot enige kompromis nie. Hy is uiteindelik weg sonder dat die De la Rey-opstal afgebrand is.
Haar bestaan in Lichtenburg was gou onhoudbaar. 'n Indiese handelaar wat langs die De la Reys se dorpshuis gewoon het en 'n goeie vriend van Koos was, Ajam Abed, het haar voorraad kos, koffie, suiker en medisyne aangevul en in November 1900 het sy en die kinders - en 'n paar koeie vir melk en skape en hoenders vir vleis - begin swerf.
Vir byna agtien maande, tot en met die einde van die oorlog, was Nonnie en die kroos nomadies. Hulle het soms in grotte gebly, soms, wanneer dit veilig geag is, saam met families wat nog op hul plase was en andersins in die veld of in verlate geboue.
Haar hoenders en skape was goud werd en sy het soms vleis vir mieliemeel en broodmeel geruil. (Toe Lord Methuen in Maart 1902 deur haar man se magte gewond is, het sy vir hom beskuit gestuur wat sy in die veld gebak het.) Toe die koffie begin opraak, het sy soetpatats gerooster en gemaal en met die laaste bietjie koffiemoer gemeng. Stysel uit groenmielies en salpeter van 'n verlate muur afgekrap was genoeg om haar eie seep te maak.
Die kinders se klere was gou kapot. 'n Union Jack-vlag en 'n groen snoekertafelkleed wat 'n soldaat uit die hotel in Wolmaransstad gesteel het, het in kledingstukke vir die kinders 'n nuwe lewe gekry.
Nonnie se formidabele, legendariese teenwoordigheid op die vlaktes van konflik was 'n groot bron van inspirasie vir ander Boeregesinne, vir die Boerekrygers en natuurlik vir haar generaalman. Hoewel Koos se gevegstyl baie beweeglik was, het hy en Nonnie blykbaar altyd geweet waar die ander een is. Nonnie het baie keer by hom op kommando gaan oorslaap en gewoonlik spesiale dae soos Kersdag en Nuwejaarsdag by hom deurgebring.
Die twee het beplan om hul 25ste huweliksherdenking op 24 Oktober 1901 romanties te vier en Koos het vroegoggend al sy kispak aangetrek. Maar die volgende oomblik het die Britte sy kommando aangeval en pleks van romanse moes hy en sy manne veg vir hul lewe. Hy het die hele geveg in sy kispak aangevoer en glo die aand ontdek dat twee van sy baadjieknope deur 'n Britse koeel afgeskiet is . . .
Nonnie se groot vrees was dat die Britte haar sou vang en in 'n konsentrasiekamp sou toesluit. En tog is daar getuienis dat Britse aanvalsmagte verskeie kere op haar afgekom en nooit probeer het om haar te arresteer nie. Sy het altyd haar man gestaan en die offisiere was dalk 'n bietjie bang vir haar - of dalk was dit net groot respek, vir haar en vir haar man.
Die laaste groot veldslag van die oorlog was by Tweebosch op 7 Maart 1902, 'n veldslag wat oorweldigend deur Koos de la Rey en sy manne gewen is. Lord Methuen se perd is onder hom doodgeskiet en sy been is gebreek. Koos de la Rey het hom soos 'n mede-offisier behandel en Methuen het glo selfs verskoning gevra vir die konsentrasiekamp-beleid van sy weermag. Hy het ook dadelik na Nonnie se welstand verneem.
Nonnie is dadelik Tweebosch toe en het Methuen in sy tent gaan sien. Volgens haar dagboek het hy gese hy was jammer dat hy en sy magte haar soveel moeilikheid veroorsaak het. Nonnie het een van haar kosbare hoenders geslag en vir Methuen as padkos saamgegee toe hy na Krugersdorp se hospitaal vervoer is.
De la Rey se manskappe was kwaad dat die vyand se bevelvoerder sulke behandeling kry en het hul generaal verplig om die ambulanswa te laat omdraai. Terug by Tweebosch het Koos en Nonnie saam aan die Boerekrygers verduidelik dat dit die Christelike ding sou wees om te doen, en dié keer het die manne dit aanvaar en Methuen is vort. Koos en Nonnie het 'n telegram aan Methuen se vrou laat stuur om te se hy is gewond, maar sou gou gesond word.
Nonnie Greeff-de la Rey se omswerwinge het eers in Mei 1902 tpot 'n einde gekom toe die twee Boererepublieke en Brittanje 'n vredesverdrag gesluit het. Sy is op 12 Augustus 1923 dood, nege jaar nadat haar man per ongeluk deur die polisie in Johannesburg doodgeskiet is.
Viva, Nonnie, viva!
Christened:
- Gedoop deur Ds van der Lingen.
|