Notes |
- Arrived 1696 as soldier from Wiedenbrück, Hanover, Germany, later owner of two farms Klipheiwel and Patrys Valley
Arrived as soldier from Germany and later owned to farms in Cape:Klipheuwel and Patrys Valley.
DIE HERKOMS VAN DIE EERSTE GESLAG BADENHORST UIT DUITSLAND
Die oorspronklike spelling van die familienaam was sonder enige twyfel “Batenhorst”. In die vroegste oorkondes wat in die Kaapse argief ten aansien van die stamvader te vind is, word die familienaam nog so gespel. Daar kan aan baie
moontlike verklarings gedink word waarom die skryfwyse hier te lande verander is - maar dit alles sal blote spekulasie wees. Feit bly dat die spelling “Badenhorst” in Suid-Afrika nou reeds sodanig ingewortel is dat dit onmoontlik “gesuiwer” sal kan word na die oorspronklike vorm.
Kennis van die oorspronklike skryfwyse van die familienaam is onontbeerlik ter verklaring van die ontstaan daarvan, en terselfdertyd vorm dit ook die belangrikste leidraad ter bepaling van waar ons voorvader vandaan gekom het.
Interessantheidshalwe mag gemeld word dat die ontdekking van die oorspronklike familieplaas en herkomsplek van ons stamvader juis moontlik gemaak is deur die besef dat die familienaam oorspronklik met ‘n “t” in plaas van ‘n “d” gespel is.
Omtrent tien kilometer van die Noordwes-Duitse dorpie Wiedenbrück bestaan steeds ‘n klein boerenedersetting genaamd Batenhorst. Die plekkie heet sedert die vroeë Middeleeue al so - Batenhorst is die bakermat van die Badenhorst-geslag. Dit is van daar dat ons stamvader kom.
Die Batenhorst-omgewing het ‘n beskawingsgeskiedenis wat terug reik tot in die vroeë Germaanse tyd toe die Brukterse volkstam die landsdeel bewoon het.1 Batenhorst se opgetekende geskiedenis strek van die Romeinse verowering af toe
die kamp Amisia teen 4 n.C. in Wiedenbrück opgerig is, tot Kersdag 800 n.C. toe Karel die Grote heerser van gans Europa geword het, nadat hy die kroon wat die pous hom aangebied het self op sy hoof geplaas het, en vandaar tot op hede. Die nedersetting in sy huidige vorm het teen 1225 ontstaan met die totstandkoming van die Ryk van Strömberg, wat omtrent 200 jaar lank onder die heerskappy van verskeie burggrawe sou bestaan. Oorblyfsels van die kasteel wat die sentrum van Middeleeuse ryk sou vorm, is nog naby Batenhorst te sien. Rondom die kasteel is destyds verskeie voorposte. buiteposte of vestings opgerig wat deur ridders en onderdane van die graaf van Strömberg bewoon is. Batenhorst was een van die vestings en oorblyfsels van ou skansmure is nog in die omgewing te sien. Die ruines van ‘n ou kerkie uit die tyd is ook nog in Batenhorst te sien. 2
Weens die besondere belangrikheid en gunstige posisie waarin die voorpos hom bevind het, is dit genoem Batenhorst. Volgens oud-Duitse idioom kan die woorde “nutzen” en “helfen” (respektiewelik nut en help) met “batten” en “baten” gelykgestel word. Die woord “baten” beteken hulp of ondersteuning. Die woord “horst” dui op ‘n vesting of ‘n buitepos. Met die jare het inwoners van die nedersetting eenvoudig die pleknaam Batenhorst as hulle familienaam aangeneem, aanvanklik met die uitsluitlike doel om hulle herkoms aan te dui.
Hierdie verklaring van die herkoms van ons stamnaam kan met weinige twyfel as die waarskynlikste en korrekste weergawe aanvaar word -daar bestaan ook ander wat veel minder oortuigingskrag inhou.
Die samelewingstruktuur van die Middeleeuse feodale ryk is ‘n komplekse verskynsel, wat beslis nie hier met verantwoordelikheid aangepak kan word nie - relevant is egter dat inwoners van die streek, ridders sowel as gewone burgers, mettertyd die naam Batenhorst as familienaam aangeneem het, en dit daarmee verewig het. Merkwaardig is natuurlik in die besondere geval van die Badenhorstfamilie dat naas die verewiging van die naam as familienaam dit ook verewig is in die rol van ‘n pleknaam in Wes-Duitsland.
Oor die vraag of die Badenhorsts afstammelinge van ‘n riddergeslag is of nie, sal waarskynlik nooit uitsluitsel gegee kan word nie - standpunte hieroor is uiteenlopend. Daar is gesaghebbende menings wat na weerskante toe dui - die mees waarskynlike verklaring is dat daar met die uitfasering van die feodale stelsel ‘n aftakeling van rigiede sosiale strukture plaasgevind het met ‘n gepaardgaande integrasie van sogenaamde “adellikes’ en “gewone” mense.
Die stamvader van die geslag in Suid-Afrika is op 29 Julie 1668 in St. Agidius, die Katolieke kerk van Wiendenbrück (nou Rheda-Wiedenbrück), Wes-Duitsland gedoop as Caspar Batenhorst. 3 Later in Caspar se Kaapse testament verskyn ‘n tweede naam, naamlik Heinrich. Waar en wanneer die tweede naam sy verskyning gemaak het, sal
moeilik vasgestel kan word aangesien dit blykbaar nie een van sy oorspronklike doopname was nie. Die naam Heinrich was egter wel bekend in Batenhorst se omgewing. Een van die peetouers wat by Franz Hermann (Caspar se broer wat hom ook Kaap toe begewe het) se doop op 1 April 1663 aanwesig was, heet Heinrich Weschenholt. Daarby was een van Caspar se broers ook Heinrich.
Caspar se vader, Gerdt Batenhorst. en sy moeder, Catharina Hemkens, is op 18 Julie 1656 in die eg verbind. Beide was volgelinge van die Rooms-Katolieke geloof, en Caspar is in die omstandighede natuurlik Katoliek gedoop. Een van die oudste geboue wat nog in Wiedenbrück te sien is, is die Katolieke setelkerk van St. Ägidius. Hierdie karaktervolle en imposante klipgebou wat die middelpunt van Wiedenbruck vorm, dateer uit die 15de eeu na Christus, en binne-in is die klip doopvont wat al sedert die jaar 1450 daar staan. Die geskiedenis toon aan dat Caspar by daardie einste doopvont
gedoop is op 29 julie 1668. Die getuies by die doop was Caspar Suthuiss en Catharina Busch.
Dit is interessant om net in die verbygaan te meld dat die noorde van Duitsland eintlik bekend is vir sy aanhang van die Protestantse geloof. Wiedenbruck is egter merkwaardig omdat die inwoners van die dorp tot vandag toe nog hoofsaaklik lojaal gebly het teenoor die Katolieke kerk.
Uit Gerdt se huwelik met Catharina Hemkens op 18 Julie 1656 is daar sewe kinders gebore - ‘n dogter Anne Margaretha (die oudste) en ses seuns. Naas Caspar en Franz Hermann was daar Everhardt, Heinrich, Johannes en Christoph. Gerdt het na die afsterwe van sy eerste vrou op 2 Oktober 1688 n tweede huwelik gesluit met Elizabeth Schlickman. Caspar se vader is op 23 Mei 1708 op ‘n hoe ouderdom oorlede.
Caspar het sy Iaaste jare in Duitsland deurgebring in die familie-opstal wat in 1680 opgerig is. Die hoënokhuis in tipies Noord-Duitse styl in merkwaardig goed behoue vorm is vandag nog te sien. Die grootste deel van die huis - en ook die
ingangsgedeelte - word deur ‘n stal beslaan vir welke doel die Duitse familie wat dit steeds bewoon, dit tans nog gebruik. Dit word gedurende die koue wintermaande so koud dat vee onderdak gehou moet word om hulle te beskerm. Die Batenhorstopstal is ‘n kosbare stuk kultuurerfenis waarin die boeretradisie steeds voortleef - orals op bree houtbalke aan die buitekant van die huis is daar name, datums en spreuke met ‘n godsdienstige inslag uitgekerf.
In die kombuis staan ‘n swaar houtkas waarop die name van verskeie Batenhorsts verewig is. Die plasie rondom die opstal beslaan deesdae maar sowat 30 hektaar en dit word hoofsaaklik vir graanproduksie benut. Die geskiedenis leer egter dat die opstal destyds op ‘n baie groter plaas gestaan het wat eintlik die kern van die nedersetting gevorm het. Dit is in hierdie opstal, die sentrum van die klein gemeenskap, dat die “Meier” gewoon het. “Meier” was ‘n amp wat deur ‘n
prominente persoon in die Middeleeuse nedersetting beklee was - die woord “Meier” hou klaarblyklik verband met die Engelse woord “mayor” (burgemeester). In die Latynse taal word natuurlik ook die woord “maior” aangetref wat die vergrotende trap vorm van die woord wat beteken “groot” of “belangrik” - die oorsprong van die woord lê klaarblyklik in die Latynse vorm.
Die l7de eeu staan in die geskiedenis bekend as die Goue Eeu vir die Nederlande - dit is in daardie eeu dat die Nederlandse provinsies, met Holland aan die voorpunt, die grootste rykdom en ontwikkeling op alle terreine ervaar het. Destyds is grense tussen gebiede nie so streng eerbiedig as tans nie, en het vrye menseverkeer plaasgevind tussen die noorde van Duitsland en Holland. Dit is merkwaardig om vandag nog die dialektaal, “plat Deutsch”, van die streek aan te hoor, en die ooreenkoms met Nederlands (en Afrikaans!) te herken. Dit was in daardie dae vir jong seuns gebruiklik om die plaasprodukte na Amsterdam te karwei om te verkoop of te ruil en om dan weer benodighede saam terug te bring. Dit is waarskynlik dat Caspar en Franz op sulke togte met Amsterdam en die skepe van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) in aanraking gekom het. Om welke spesifieke rede daar besluit is om na die Kaap te reis, sal ‘n geheim van die verlede bly. Om te spekuleer oor die moontlike redes hiervoor sal blote raaiwerk wees. Na Caspar en Franz se vertrek het die Batenhorst-geslag in Duitsland voortgegroei totdat die laaste Batenhorsts in die jaar 1881 die land verlaat het en hulle in die Verenigde State van Amerika gevestig het. Die laaste Batenhorsts het in die jaar
van hulle vertrek op die Batenhorst-familieplaas
n gedenkkruis opgerig wat vandag nog te siene is, en ook ‘n boom langs die ou opstal geplant wat nou reeds meer as honderd jaar oud is en nog sterk groei. Die Amerikaanse familie spel nog hulle van in die oorspronklike vorm Batenhorst. Daar is in verbinding getree met die familie in Amerika en dit blyk dat daardie tak reeds ‘n aansienlike sieletal beslaan, en verteenwoordigers het in verskeie takke van die gemeenskapslewe. Die Amerikaanse Batenhorsts is blykbaar oorwegend nog Katoliek, en op tipiese Amerikaans spreek hulle die van ook uit as òf “B-ê-t-e-n-h-o-r-s-t” Of “B-y-t-e-n-h-o-r-s-t”. Sover vasgestel kon word, is die familienaam Batenhorst blykbaar nie meer in Duitsland te vind nie.4 Die herkoms van die Badenhorst-familie bly ‘n interessante onderwerp. Navorsing in Duitsland het ook aan die lig gebring dat hulle in 1610 in ‘n skakelhuis gewoon het en die huurders van die aangrensende skakelhuis moes elke jaar twee mud hawer tydens die Michaelisfees betaal.
Verdere interessante gegewens wat nog in daardie area beskikbaar is, word gevind in die Burgerboek van die stad Wiedenbrück. Daar verskyn as ingesetene in 1637 die naam van Dietrich Batenhorst. In 1651 leef sy eggenote nog en by haar woon Otto Batenhorst. Die belastingregister van 1651 verwys na “in ‘n huis wonende die weduwee
Batenhorst, 3 seuns, 1 dogter en 1 diensmeisie”. Hulle is ooglopend voorsate van ons stamvader. Dit word ook bevestig deur ‘n inskrywing in die sterfregister van die gemeente St. Agiditis by Wiedenbrück, dat Otto op 1.3.1662 op die landgoed Batenhorst oorlede is.5 Caspar en Franz en hul familie. se doopseels wat nog in die St. Agidiuskerk te vinde is, tesame met die inligting in hierdie hoofstuk, maak die herkoms van ons stamvader Caspar en sy broer Franz ‘n ope boek.
1. Joseph Mellage, Geschichte der Westfälischen Landgemeinde Batenhorst in Fürstbischöflich-Osnahrücker und Königlichpreussischer Zeit. Rietberg, 1933.
2. Die meeste van die hedendaagse waarnemings in Batenhorst en omgewing is deur skrywer persoonlik gemaak. Gedurende ‘n besoek is waardevolle hulp verleen deur mnr. Hans-Georg Bleibaum van Hamein, en
n kosbare gesprek is ook gevoer met die negentigjarige dr. Flaskamp, stadsargivaris van Wiedenbrück.
3. Besonderhede van die en name is verkry uit kerkboeke van die Agidius- gemeente, veel waarvan tans in ‘n sentrale bewaarplek in Paderborn, Wes-Duitsland bewaar word.
4. Navorsing: C.H..J. Badenhorst.
5. Navorsing in Duitsland Deur Hans-Georg Bleibaum 02262. Leek en stadsargivaris en familienavorser.
DIE BADENHORSTFAMILIE IN SUID-AFRIKA:
EERSTE GESLAG
Ons keer dan nou terug na ons stamvader Casper Hendrik en sy broer Frans Hendrik. Die VOC se monsterrolle toon dat Casper in 1696 hier aangekom het,1 vanaf Duitsland via Holland as VOC-soldaat. Frans se teenwoordigheid aan die Kaap word in ‘n dienskontrak van 1698 bevestig.2
Dit is bekend dat ‘n garnisoen aan die Kaap gestasioneer was en dat by die ampsaanvaarding van Willem Adriaan van der Stel op 11 Februarie 1699 dit uit 140 offisiere en manskappe bestaan het, ‘n leerafdeling waarvan die Badenhorst-broers ook ingeskrewe lede was. Hulle het egter na verloop van tyd onder kontrak vir ander mense as knegte gaan werk.
Op 30 April 1697 verskyn Casper en Johannes Mulder, ‘n gewese landdros van die Kompanjie, as twee partye voor Hugo de Goijer, sekretaris van die goewerneur. Mulder word op daardie tydstip beskryf as ‘n “vryman” woonagtig op Stellenbosch. Die doel van hulle samekoms was om ‘n kontrak tussen Casper en Mulder op te stel waarvolgens Casper, met die goewerneur se toestemming, vir een jaar as boerkneg in diens van Mulder sou tree. Casper moes sy werkgewer “trouw en neerstig” dien in alles waarvoor laasgenoemde hom nodig gehad het. Die heer Mulder moes aan Casper
dertien guldens en een pond “tabacq” per maand betaal, asook behoorlike kos, drank en huisvesting verskaf. Sy salaris sou bestaan uit: “Vier en een halve gulden swaar geld en het resteerende in ligt geld aan denselven contant in de hand.”
Die kontrak is deur Mulder onderteken en deur Casper met ‘n kruis bekragtig. Ook verskyn op die kontrak die handtekening van die opsteller, Hugo de Goijer saam met die handtekeninge van die twee getuies, Willem Helot en Johannes Harenburg. Op 4 Mei 1699 word Casper se kontrak hernu, maar die keer tree hy in diens van “den Ed. Samuel Elsevier, Opper Coopman en Administrateur dezes Goewerments”.
Die diensvoorwaardes was dieselfde as by die vorige werkgewer. Op 5 Desember 1702 word Casper onder kontrak in diens van die predikant Henricus Beck geplaas. Volgens kontrak sou hy ook vir ‘n jaar as boerkneg werk en alles doen waarvoor sy werkgewer hom sou nodig kry. Sy salaris was nou “sestien Gulden ligt geld” asook huisvesting en
onderhoud. In die kontrak onderneem Casper om mettertyd weer na die kasteel terug te keer om daar sy diens te hervat. Dit word betwyfel of hy ooit na die Kompanjie se diens terug gegaan het.3 Dit is egter ‘n feit dat hy deur sy loopbaan ‘n rol gespeel het in die land se verdediging. Nadat hy vryburger geword het, hoor ons van hom as dragonder en het hy klaarblyklik militêre wapens onder sy sorg gehad, want in die opgaafrolle meld hy die volgende vuurwapens in sy besit: sewe snaphane, drie pistole en sewe degens.4
Tien vuurwapens is meer as wat ‘n indiwidu vir eie gebruik nodig het, veral as gelet word op die groot getal wapens van dieselfde maak. Daarteenoor maak sy broer Frans in sy opgawes slegs van drie vuurwapens melding. Nou moet ons eers verneem wat tot dusver met broer Fransz Heinrich gebeur het. Frans, soos ons hom later leer ken, se loopbaan het baie dieselfde patroon gevolg as die van sy broer Casper. Op 1 Oktober 1698, een jaar en vyf maande nadat Casper onder huurkontrak in privaat diens uitgeplaas is, verskyn Frans Hendrik Badenhorst en Andries Renden van Herstveld, beide soldate, saam met die onder-goewerneur Sameul Elsevier voor Hugo de Goijer, sekretaris van die goewerneur. Hulle is in die Kasteel in Kaapstad byeen waar ook twee geloofwaardige getuies t.w. Willem Helot en Philip de la
Fontaine teenwoordig is.
Die doel van die samekoms is om ‘n kontrak op te stel waarvolgens Badenhorst en Van Herstveld as bouknegte in diens van die ondergoewerneur, Samuel Elsevier, sal tree. Die kontrak was ook vir een jaar en die voorwaardes naastenby dieselfde as die waaronder Casper in privaat diens getree het. Die kontrak is deur Badenhorst met sy kruis onderteken terwyl dit ook deur Elsevier, Hugo de Goijer en die twee getuies onderteken is. (Van Herstveld het ook op ‘n manier
probeer teken!)
Op 16 Augustus 1700 is die kontrak hernu. “Zoo blyven de tweede en derde Cornparenten (d.w.s. Badenhorst en Van Herstveld) by consent van den Edele heer Goewerneur, in huur en leening by den heer eerste comparent continueerd”, d.w.s. in diens van Elsevier. Dit is interessant dat van Mei 1699 af die Badenhorst-broers albei in diens van sekundus Elsevier was. Blykbaar het Frans nie in 1702 saam met Casper in ds. Beck se diens oorgegaan nie. Nadat hulle vryburgers geword het, kry ons hulle weer saam tot aan die einde van hul lewe.
Wat nou vir ons duidelik is, is dat dit algemene praktyk was om die soldate onder huurkontrak in privaat diens uit te verhuur. Blykbaar was die garnisoen se militêre diens nie voltyds nodig nie en het die owerheid hul kragte op ander terreine benut. Sekundus Elsevier het ook daarvan gebruik gemaak om sy privaat belange te bevorder. Hy het hulle wel betaal volgens kontrak, rnaar die vraag is: Wat het van die soldate se salaris geword wat deur die VOC uitgekeer is? Ek kan nie glo dat hulle dit ontvang het bo en behalwe die loon wat in privaat diens aan hulle uitgekeer was nie.
Elsevier is deur sommige ‘n idiotiese ja-broer genoem omdat hy ja en amen gesê het op alles wat Willem Adriaan van der Stel gesê het. Hy het o.m. voorgestel dat Adam Tas en Van der Heiden se regterhande afgekap word en dat hulle daarna opgehang moes word!6 Elsevier het ‘n plaas van sowat 103 hektaar gehad wat tydens die bewind van Willem Adriaan van der Stel met 60 hektaar uitgebrei is. Hy het o.m. die mooi plaas Elsenburg naby Klapmuts besit.7 So was menige amptenaar wat Van der Stel se vriend was, baie goed versorg.
Casper en Frans moes seker ‘n aansienlike bydrae gelewer het om Elsevier se boerdery op gesonde voet te plaas. Dit het met sy boerdery so voorspoedig gegaan dat hy in 1705 aan Van der Stel kon sê “dat er over drie of vier jaren geene Vryburgers meer aan de Kaap vannoden waren; en dat er voor hen (die beamptes) kans was, om met hun vieren of vyven de Maatschappye en de Kaap van alles te voorsien.” 8 Ja, met die Badenhorsts se arbeid en vernuf en die VOC se hulpmiddels kon hy dit seker doen.
Vergelykenderwys kan genoem word dat Arnoldus Gildenhuys, ‘n vryburger wie se dogters later met Casper se nakomelinge sou trou, in 1706 twee leer wyn geproduseer het teenoor Elsevier se dertien leer! ‘n Maklike pad het die twee Badenborst-broers nie geloop nie. Dit was moeilike jare. Die volksplanting het nog nie van sy groeipyne ontslae geraak nie en Willem Adriaan van der Stel se wanbestuur het alles verbrou en ‘n heftige stryd het tussen amptenare en boere gewoed. Dit was ook ongeveer die tyd dat die twee broers vryburgers geword het. Casper was by ds. Henricus Beck onder kontrak tot einde 1703. Daarna kry ons geen hernuwing van hul kontrakte nie en het die broers blykbaar vir hulself begin boer.
Hulle was nog ongetroud. Frans sou nooit trou nie. In daardie tydvak van ons volksgeskiedenis was daar blykbaar heelwat mans wat nie getrou het nie omdat daar ‘n tekort aan hubare vroue was. Die bevolkingsgroei was in groot mate van immigrasie afhanklik en vrouens emigreer nie maklik na ‘n onontwikkelde land soos die Kaap destyds was nie. Vrouens was so skaars dat daar op ‘n tydstip weesmeisies uit Holland na die Kaap gestuur is om die vroue-bevolking aan te vul.
Ongeveer een sewende van die blanke bevolking aan die Kaap was van Duitse afkoms.9 Dat hulle nie vroue met hulle saamgebring het nie, blyk uit die meting van dr. H.T. Colenbrander in sy boek, De afkomst der Boeren (Kaapstad, 1964): “De meeste Franschen hadden vrouwen van hun eigen landaard, maar er is slechts een geval van een Duitsche vrouw die naar Zuid-Afrika kwam in de l7de, en geen enkele geval in de I8de eeuw. Al de vrouwlijke immigranten, met uitzondering van de Hugenooten, kwamen uit Nederland. Dan ook dient mets wel in het oog te houden dat de Franschen veel vruchtbaarder waren dan de Duitschers. Zy kwamen naar Zuid-Afrika op jeugdiger leeftyd en hadden zich nooit aan uitspattigen, van welke aard ook, overgegeven. Onder de. Duitschers waren zonder twyfel lieden van onbesproken wandel, maar over het geheel waren het avonturiers, die niet trouwden en zich vestigden voor de beste
lewenskracht verbruikt was” 10
Latere navorsing deur dr. J. Hoge gee egter die name van ongeveer 100 vroue uit Duitsland. In vergelyking met die ongeveer 4 000 Duitse mans wat in dieselfde tyd permanent aan die Kaap gevestig was, bly dit steeds ‘n ongunstige verhouding tussen die twee geslagte.’’ 11
Vanuit hierdie gegewens lees ons die die gees van die tyd en ook die omstandighede waarin ons voorvaders hul bevind het. Aan die leefwyse van Casper se tweede vrou sien ons die dat latere huweliksnorme nog nie inslag gevind het nie.
Standaarde van vandag kon onmoontlik in daardie tyd toegepas word. Ek wil uitwys dat, alhoewel die twee Badenhorsts moontlik avonturiers was, daar oorvloedige getuienis is dat hulle met die kerk geskakel het. So bv. het albei in hul testamente bepaal dat 25 guldens as ‘n eerste uitkering aan die diakonie van Stellenbosch moet gaan. Die doop
van Casper se kinders, met Frans as doopgetuie, bewys ook hul goeie geloofsgesindheid. As hulle sommer loslopers was, sou ons nie kerklike verbintenis gevind het nie.
Soos reeds gemeld, het hulle vryburgers geword en word in die opgaafrolle as burgers van Stellenbosch beskryf waar hulle in vennootskap geboer het. 12 Na Casper word verwys as ‘n aansienlike boer-slagter.13 Op Dinsdag, 11 Maart
1727, is ‘n slagterslisensie aan hom toegeken. Op ‘n heel formele geleentheid het die Politieke Raad die aansoek “door de burger Casper Batenhorst versogt synde omme ten behoeve deser ingesetenen teegens twee stuijvers het lb. soo schaapen als beesten vleesch te mogen slagten”. Hy moes hom aan die bestaande regulasies onderwerp en selfs twee borge voorsien. 14
Nadat Casper reeds sewentien jaar aan die Kaap gewoon het en met ‘n inkomste van sy eie, was hy blykbaar in staat om ‘n vrou te onderhou en gesin te beplan. Op 19 November 1713 tree hy in die huwelik met Aletta Putter. 15 Sy was ‘n Kaapsgebore dame, ook Aaltjie genoem. Casper het dus die vroeëre Duitse avontuurlustigheid, waarvan Duitsers beskuldig was, afgeskud. Soos reeds vermeld, het Frans ongetroud gebly, en dit word bevestig in sy testament en die opgaafrolle.
Uit Casper en Aletta se huwelik is op 28.10.1714 ‘n seun, Frans Hendrik, gebore. Aletta is jonk oorlede. Haar sterfdatum is onbekend, maar Desember 1714 se landbousensus toon Casper se naam sonder sy vrou s’n, maar wel dat hy ‘n seun gehad het.
Op 4 Augustus 1724 word Casper die tweede keer in die huwelik bevestig, die keer met Christina Matthys, ‘n dogter van Elizabeth van Wyk.16 Aangesien Christina Matthys, of Mattysen, soos sy self haar naam geskryf het, die stammoeder van die Badenhorst-familie in Suid-Afrika is, is dit seker heel van pas om haar lewensgeskiedenis kortliks te skets. Om haar agtergrond te begryp sonder om haar summier te veroordeel, is dit nodig dat ons by haar moeder, Elizabeth van Wyk, begin.
Elizabeth was ‘n vrou met ‘n wilde, losbandige verlede en ‘n tipiese voorbeeld van talle vroue uit daardie tyd, wat ten spyte van hul leefwyse
n belangrike rol gespeel het in die vestiging van menige eerbare familie in hierdie land. Elizabeth was die moeder van minstens tien buite-egtelike kinders by verskeie mans. Christina Matthys was die tweede oudste van die kinders. Sy is ongeveer in die jare 1700 gebore van ‘n onbekende vader. Sedert 1706 het Christina se moeder met Nicolaas von Willigh buiteegtelik saamgewoon en is ses kinders uit die verhouding gebore. Op 21.8.1718. ‘n week na hul jongste kind se doop, is hulle in die huwelik bevestig. Twee jaar later is sy oorlede. 17
In so ‘n buite-egtelike saamwoon-atmosfeer het Christina opgegroei en in 1715 op ongeveer vyftienjarige ouderdom buite-egtelik die moeder van seun, Hermanus Stockfletch geword. van wie Johan Jacob Stockfletch die vader was.
Waar die vanne Van Wyk en Matthys vandaan kom, is totaal onbekend. Dit op sigself dui daarop dat die lewenspatroon van daardie tyd nie op vaste reels en morele norme gerus het nie. Vergeleke by vandag se sosiale en morele standaarde bring dit onwillekeurig afkeer mee. Dat daar nie so streng aan morele standaarde soos later jare gekleef is nie, is waar, maar was daardie mense - omstandighede en ontwikkelingspeil in ag geneem - nou juis sleg? Wanneer ons onsself in die omstandighede en lewensklimaat van daardie tyd indink, kan ons slegs sê dat ons nie die eerste klip wil gooi nie.
Nicolaas von Willigh was ‘n vermoënde man by wie Elizabeth van Wyk en haar dogter Christina, ons stammoeder, ‘n veilige hawe kon vind. Sy boedelinventaris toon aansienlike bates. Hy het 17 hektaar grond besit - Blok no. 8 in Tafelvallei. Dit is die deel van die huidige Kaapstad se middestad begrens deur Lang-, Kasteel-, Loop- en
Houtstraat. 18 Dit is duidelik dat Elizabeth van Wyk sedert haar kennismaking met Von Willigh bestendigheid bereik het en dieselfde kan van haar dogter Christina gese word na haar huwelik met Casper Hendrik Badenhorst. Uit laasgenoemde twee se testament en boedelinventaris is dit duidelik dat sy tot ‘n sorgsame huisvrou ontwikkel het wat haar sake na behore kon behartig. Sy het haar kinders opgevoed en haar voorkind, Hermanus Stockfletch, saam met die Badenhorst-kinders grootgemaak. Almal is gedoop as verbondskinders en in haar testament versorg. Elkeen is by sy naam genoem, ook haar eersteling, Hermanus Stockfletch. Laasgenoemde is egter nooit in die Badenhorst-stroom opgeneem nie.
Daar was ‘n aansienlike verskil in ouderdom tussen Casper en Christina, want sy is eers omstreeks 1700 gebore, terwyl hy op 29.7.1668 gebore is. Verder word sy in 1750 in haar seun Casper se testament vermeld as Christina Matthys, die weduwee van die burger Christoffel Burgers,20 (d.w.s.Christina is na Casper se oorlye getroud met Burgers.)
Uit Casper en Christina Matthys se huwelik is vyf seuns gebore:
Datums en Getuies:
b2 Casper Hendrik 20.5.1725 Frans Hendrik Badenhorst en Magaretha von Willigh
b3 Gerrit Hendrik 21.12.1727 Frans Hendrik Badenhorst †Sept. 1800
b4 Johan Hendrik — 29.7.1731 Nicolaas von Willigh en sy vrou Maria Kleeft
b5 Willem Hendrik 1.11.1733 Frans HendrikBadenhorst en Catharina Kervel
b6 Floris Hendrik 13.5.1736 Floris Meijboom en Cornelia de Kock 21
Casper die stamvader, het dus ses seuns gehad: een by sy eerste vrou en vyf uit sy tweede huwelik. Dit is opmerklik dat al ses die seuns se tweede naam Hendrik is. Hulle is almal in Kaapstad gedoop.
Die getuies by Casper se kinders se doop bewys in die eerste plek dat die Badenhorst-broers se paaie nooit ver uitmekaar gegaan het nie. Die doopgetuies se name vertel ons verder dat die Badenhorsts ‘n noue skakel met die familie Meijboom gehad het, ‘n familie wat Adam Tas goed geken het. By Casper se oudste kind se doop in 1714 was ‘n Meijboom teenwoordig en ook by die jongste dopeling, Floris Hendrik, in 1736 - blykbaar na Floris Meijboom vernoem. Die doopgetuies se name bewys ook dat Nicolaas von Willigh deur sy verbintenis met Elizabeth van Wyk in daardie dobberende familie permanente bestendigheid bewerkstellig het. Feit is dat getuie Margaretha von Willigh ‘n halfsuster van Casper se vrou Christina was, dus dogters van Elizabeth van Wyk. Nicolaas von Willigh was Christina se stiefvader en Maria Kleeft was sy tweede vrou. Dit herbevestig die stelling dat Christina Matthys, ons stammoeder, in die Von
Willigh-gesin saam met haar moeder die regte pad gevind het. Hier kry ons haar nou in die kerk waar sy haar kinders doop, bygestaan deur haar halfsuster, Margaretha von Willigh en haar stiefvader, Nicolaas von Willigh, en sy tweede vrou, Maria Kleeft.
Die Badenhorst-familie in Suid-Afrika het dus nou tot agt manlike lede aangegroei. Wanneer ons wil aantoon wat van hulle geword het, moet ons dadelik meld dat van die ses seuns slegs b2 Casper Hendrik getrou en die Badenhorst-geslag voortgeplant het. Die stamvader, Casper Hendrik Badenhorst en sy broer, Frans Hendrik, het fluks geboer. Hulle het met niks begin en binne tien jaar op ekonomiese gebied verbasend gevorder. Ons sou nie graag die leser met statistiek wil vermoei nie, maar meen dat enkele vergelykende syfers tog insiggewend mag wees.
Eers verwys ons na hul grondbesit. Op 22 April 1713 bekom hulle die plaas Patryse Valley by Stellenbosch.22 Op die oudste kaart van Stellenbosch staan hy aangedui as Den Ouden Hans. Tans is die naam Weltevreden en is geleë naby
Cloetesdal ten noorde van Stellenbosch.23 Volgens ‘n erfpaggrondbrief gedateer 22 September 1714 word ook die plaas Klipheuwel, geleë aan die Mosselbanksrivier, naby die huidige Caledon, hul eiendom. en ‘n opstal genoem De Botjeskraal geleë aan die Breërivier.24 Beide eiendomme verskyn op die kaart Reise-en-Uitstappies van Feenstra (sI., 1825). Boontjieskraal is volgens hierdie kaart aan die Swartrivier geleë terwyl Christina Matthys se boedelrekening dit aandui as “de Breëde Rivier”. Soos reeds genoem, het die twee broers se paaie nooit geskei nie en op hierdie plase net hulle tot aan die einde van hulle lewe geboer.
Uit hul testamente en uit Casper en Christina Matthys se boedelrekening na Casper se oorlye is dit duidelik dat die broers nooit ver uitmekaar gewoon het nie en saam geboer het. Hoe hulle winsverdeling plaasgevind het, is moeilik te bepaal. Moontlik het hulle aanvanklik in vennootskap geboer, want in 1714 verskyn hulle name saam op die opgaafrolle, met al die bates ten gunste van Casper en slegs drie vuurwapens ten gunste van Frans. In 1732 kry ons Frans in die opgaafrolle, nog ongetroud. maar hier word sy besittings agter sy eie naam vermeld.25 Reeds in 1726 stel Frans sy testament op en bemaak sy besittings aan sy broer Casper en die se twee seuns soos volg: 7 000 “Caabse Guldens” aan sy kleinneef b1 Frans Hendrik, seun van Casper en Aletta Putters. Hierdie begunstigde het ook die
erflater se naam gedra;26 3 000 guldens aan b2 Casper Hendrik, die tweede oudste seun van sy broer Casper (d.w.s. Christina Matthys en Casper se kind); as sy “eenige en algeheelen erfgenaam” word verder sy broer Casper Hendrik Badenhorst benoem. Sy broer kon met die eiendom, roerende sowel as onroerende, na goeddunke handel. Die kinders moes egter eers mondig wees voordat hulle oor hul erfdeel beheer kon kry. Frans se testament wat in 1726 op Patrys Valley deur Johannes Pleunes opgestel is, meld dat Frans ernstig siek in die bed is, maar by sy volle verstand. Hy moes herstel het, want eers Op 8 Januarie 1738 word sy boedel by die Weeskamer geregistreer.27 Op 28 Julie 1738, ‘n paar maande na Frans se dood, stel Casper sy laaste testament op en maak melding dat die 7 000 guldens wat Frans (Sr.) aan Frans (jr.) bemaak het, tog in berekening gebring moet word. Op 7 Junie 1741 word Casper (ons stamvader) se oorlye by die Weeskamer geregistreer, waarna sy weduwee, Christina Matthys, in Mei 1742 ‘n volledige en insiggewende boedelrekening by die Weeskamer indien.28
Hierdie gegewens toon hoe ineengeweef die twee broers se hele lewensbestaan was. Van begin tot einde het hulle saamgestaan en mekaar se voorspoed en teespoed, mekaar se vreugde en leed gedeel en gedra. Hulle gehegtheid aan mekaar is dan ook
n eienskap van die Badenborst-familie tot vandag toe. Om tot die statistiek van hul vooruitgang te kom. Jaarliks op 7 Desember het die landbousensusjaar afgesluit en moes die opgawes in Januarie daaropvolgende
verstrek word. Gelukkig het die opgaafrolle bewaar gebly. Nou moet ons onthou dat Casper en Frans in 1703 nog niks besit het nie.Die opgaafrolle in 1714 en die boedelinventaris in 1741 toon die Badenhorst-eiendom in ondergenoemde jaartalle soos volg:
1714
2 plase
10 slawe
I5 perde
20 osse
550 skape
7 000 wingerdstokke
1741
2 plase en
n addisionele opstal
14 slawe
45 perde
100 beeste, groot en klein
1 160 skape
24 varke
Hoeveel wingerdstokke daar in 1741 was, is onbekend, maar Frans alleen het in 1732 nege leer wyn gepars en Casper het in 1732 ses-en-twintig mud graan gesaai en 242 mud geoes.
Hulle het ook baie ander roerende eiendom besit en was goed voorsien van waens, karre en landbougereedskap. Aan meubels en huishoudelike artikels asook Kaapse silwerware, het hulle geen gebrek gehad nie. Voorwaar
n aantreklike boedel vir daardie tydperk. Volgens die inventaris wat vir taksasie opgestel en ingelewer was, word die eiendom op die plase en opstal elkeen afsonderlik gespesifiseer en alles getuig van orde en goeie beplanning. Vandag nog weet ons presies wat hulle besit het en waar hulle dit gebruik het, selfs hoeveel lepels, messe en vurke hulle gehad het -
alles so pragtig opgeteken.
Wat ‘n wonderlike vooruitgang sedert 1696 toe hulle kaalhand aan die Kaap geland het en vir ‘n kneg se gasie moes werk! Hulle was beslis twee manne met murg in hulle pype.
So is die eerste hoofstuk in die Badenhorst-geskiedenis in hierdie land dan afgesluit en kan daar net met agting aan hulle teruggedink word.
I. Staatsargief Kaapstad: VC 39, Monsterrollen Officieren, Soldaten, 1685 tot 1693, 6,7,8; Mooc 7/1/6, p. 76, vol. 6.
2. Staatsargief Kaapstad: CJ 2872 no. 219, p. 443.
3. Staatsargief Kaapstad: C.J 2872 no. 167, p. 334 en CJ 2873 no. 305, p. 591.
4. In Leo Fouché, Dagboek van Adam Tas 1705-1706. Van Riebeeck Vereniging, reeks 2 no.1, Kaapstad, 1947, p. 169 word WilIem Helot as ‘n deurtrapte skelm beskryf.
5. Staatsargief Kaapstad: CJ 2972 no. 219, p. 443.
6. lzak W. van Tonder, Van Riebeeck Se stad. Kaapstad, 1950.
7. S.F.N. Gie, Geskiedenis van Suid-Afrika. Stellenbosch, 1924, p. 123.
8. Ibid., p. 138.
9. Dr. D.F. du Toit Malherbe, .Stamregister van die Suid-Afrikaanse volk. Stellenbosch, 1966.
10. H.T. Colenbrander, De afkomst der Boeren, pp. 12-13.
11 J. Hoge, Personalia of the Germans at the Cape, 1652-1806. Argiefjaarboek, Kaapstad, 1946, pp. 488-492.
12. Staatsargief Kaapstad: J188. Opgaafrolle.
13. Dr. Mossop.
14. Resolusie van die Politieke Raad 7, p. 334.
15. CC. de Villiers en C. Pama, Geslagregisters van die ou Kaapse families. Kaapstad, 1981.
16. J. H. Redelinghuys, Die Afrikanerfamilienaamboek. Kaapstad, 1954.
17. Familia, 1975: Margaret Cairns.
18. Ibid.
19. Staatsargief Kaapstad: Mooc 8/6, p. 55.
20. Staatsargief Kaapstad: Mooc 7/1/14, p. 27.
21. Hy is as jong kind oorlede in 1738.
22. Staatsargief Kaapstad, Mooc 8/6, p. 55.
23. Leo Fouché, Dagboek van Adam Tas. Voetnota, p. 91.
24. Staatsargief Kaapstad: Mooc 8/6, p. 55.
25. Staatsargief Kaapstad: .T 188 & 1197.
26. E.E.. Mossop, Journals of C.F. Brink &J.J.. Renius. Van Riebeeck Vereniging no. 28, Kaapstad. 1947.
27. Staatsargief Kaapstad: Mooc 7/1/6, p. 1.
28. Staatsargief Kaapstad: Mooc 8/6, p. 55; Mooc 7/1/6, p. 76. [2]
|