Notes |
- Volgens Pama 1 arriveer hy omstreeks 1649 aan die Kaap van Plettenberg in Wesfale. Hy werk as meester-houtkapper vanaf 1693. In 1714 word hy genoem as boer in die opgaafrolle. Hy was ongetroud, en daar is nie volledig bewys dat b1, b2 en b3 sy kinders was nie.
Van Plettenberg, Wesfale, meester-houtkapper vanaf 1693. In 1714 genoem as boer. Hy was onget roud en dit staan nie vas dat die onderstaandes sy kinders was nie.
"De Villiers and Pama" describes him as a master wood cutter (borne out by Cape Archive files which include several works contracts). He was listed as a "hout kapper" (wood cutter) in 1693 through to 1714 where in he was named a farmer. He is said to be unmarried but it is believed that he had children by several slave women. The mothers of the children are listed per child
Daniel Jacobs dmjacobs@freemail.absa.co.za
het die volgende inligting uit sy boek aan my beskikbaar gestel:
HOOFSTUK 7
Stamvader Jan Vosloo en sy kinders
Een van die Vosloos wat self ook probeer het om van die onduidelikhede rondom sy stamvader opgeklaar te kry, het in 'n brief, gedateer 6 Desember 1986, aan sy neef die volgende opmerking gemaak:
Die eerste Johannes, wat voor 1689 uitgekom het, bly vir my 'n raaisel ... In sy testamente het hy self gesê dat hy geen vrou of kinders gehad het aan wie hy, volgens wet, iets hoef te bemaak nie. Dit lyk amper of hy daarop sinspeel dat hy wel miskien onreëlmatig kinders, of selfs 'n vrou gehad het!’’
Daar bestaan ’n Babelse verwarring of Jan Vosloo wel kinders gehad het en indien wel, wie sy kinders was. Met die begin van die 18de eeu was daar naas Jan Vosloo nog 'n aantal persone aan die Kaap wie se vanne Vosloo was en wat volgens sommige navorsers moontlik sy kinders kon gewees het.
Het Jan Vosloo kinders gehad en indien wel, wie was sy kinders?;
Ons het baie tyd spandeer aan navorsing oor die identiteit van die moeders van vier kinders wat Jan Vosloo se van aangeneem het, asook m.b.t. nog twee kinders wat vermoedelik sy kinders was. Uit die bespreking wat hierna volg, sal dit blyk dat ene Maria beslis Jan Vosloo se kind was en dat hy hoogs waarskynlik ook kinders gehad het met die name Johannes, Helena en Casper. Dan was hy moontlik ook die vader van ene Jannetie en Catrijn. Volgens De Villiers/Pama se Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families was Maria bekend as Martha. Ons sal later sien dat dit waarskynlik foutief is en dat haar naam waarskynlik Maria was.
Vir die doeleindes van genealogiese notering het ons net die kinders wat hoogswaarskynlik sy kinders was in ag geneem. Volgens De Villiers/Pama se Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families was Johannes die oudste kind met Maria die tweede oudste. Ons kon nie enige bewyse opspoor dat Johannes wel die oudste kind was nie en daar is eerder aanduidings dat Maria dalk die oudste kind was. Waarvan ons wel seker is, is dat Helena jonger was as Johannes en Maria en dat Casper, wie se naam nie in die publikasie voorkom nie, waarskynlik die jongste van die vier kinders was. By gebrek aan bewyse aangaande die ware toedrag van sake het ons, maar De Villiers/Pama se orde vir die oudste twee kinders behou en is Johannes gevolglik b1 met Maria b2 terwyl Helena b3 is en Casper b4.
Inleiding
Volgens CC de Villiers se Geslacht-Register der Oude Kaapsche Familiën, wat reeds in 1894 verskyn het, sou Jan Vosloo met Anna Maria Been in die huwelik getree het en het hulle drie kinders gehad nl. Johannes, Martha en Helena. Daar word dan ook in heelwat oorspronklike dokumente soos kerkrekords, testamente, opgaafrolle ens. na hierdie drie persone verwys. Die latere uitgawe van De Villiers se werk, bygewerk deur o.a. dr. Cor Pama en gepubliseer in 1981, verwys egter nie meer na Anna Maria Been nie. Verder word die volgende stelling in die uitgawe gemaak:
Hy was ongetroud en dit staan nie vas dat onderstaande (Johannes, Martha - ons het reeds gesien dat haar naam waarskynlik Maria was - en Helena) sy kinders was nie.’’
Ons kon nie bewyse opspoor dat Anna Maria Been die ma van bogenoemde drie kinders was nie. Daar is wel ’n aanduiding dat sy moontlik die ma van Maria was. Volgens dr. HF Heese, voormalige dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, was daar 'n VOC-slavin met die naam Maria Beun wat in 1692 by Klapmuts gestasioneer was. Hy noem ook dat haar pa 'n blanke was en dat sy 'n dogter met die naam Anna gehad het. Mansell Upham, wat tans besig is met 'n omvattende studie oor alle nie-blanke stammoeders van blanke families, het aan ons genoem dat Maria Beem/Beun/Been die volgende kinders gedoop het: Anna, Dorothea en Frans.
Op 23 Februarie 1684 kry die bekende reisiger Isaac Schryver instruksies vir 'n reis wat hy na die koperberge in Namakwaland moes onderneem. Een van die lede van die ekspedisie was Sersant Frans Been. Dit kan aanvaar word dat hy 'n goeie kandidaat is vir Maria Beun/Beem/Been se pa.
Alhoewel ons geen bewyse kon opspoor van 'n verbintenis tussen Jan Vosloo en ’n Anna Maria of Maria Been nie, is dit egter baie onwaarskynlik dat CC de Villiers sonder enige bewyse sou genoem het dat Jan Vosloo 'n verbintenis met haar gehad het. Dit is daarom interessant om daarop te let dat Maria Vosloo wat met Arnoldus Kruysman getroud was, en wat volgens haar testament ’n dogter van Jan Vosloo was (sien bl. 74), 'n dogter gehad het met die naam van Anna Maria Kruysman. 'n Mens wonder dus of Maria Been van Klapmuts en die Anna Maria Been van De Villiers se Geslacht-Register der Oude Kaapsche Familiën nie dalk dieselfde persoon en ma van Maria Vosloo was nie.
'n Rede waarom o.a. Margaret Cairns (baie bekende en gerespekteerde navorser) meen dat die kinders wat sy van aangeneem het, nie Jan Vosloo se kinders was nie, is omdat o.a. Hoge in sy Personalia of the Germans at the Cape beweer het dat Jan Vosloo in sy testamente sou gesê het dat hy geen kinders het aan wie hy regtens enigiets verskuldig is nie. Hoge het verwys na bv. sy testament van 24 Januarie 1714 waarin Jan Vosloo volgens hom sou verklaar het:
... geen kinderen of magen in't leven te hebben die hij na regten enige makinge schuldig is ...’’
Die opmerking impliseer dat
kinderen of magen” volgens die reg aanspraak op bemakings in sy testament kon gemaak het. Die vraag ontstaan egter of enigiemand enige reg tot bemakings in 'n testament het; In ons dag het die testateur volkome vryheid om sy besittings te kan bemaak soos wat hy goeddunk. In daardie jare kon 'n ouer egter nie enige van sy wettige kinders onterf het nie.
Ons het weer na die betrokke testamente gaan kyk en dit is duidelik dat die woord wat Hoge as
kinderen’’ gelees het inderdaad "vrinden’’ is. Die Nederlandse woord "magen’’ kan egter
"bloedverwante’’ beteken en hy het dus nog steeds indirek verklaar dat hy geen kinders gehad het aan wie hy volgens die reg iets verskuldig was nie. Let egter daarop dat hy nie gesê het dat hy nie kinders het nie, hy het bloot gesê dat hy geen bloedverwante het aan wie hy
na regten€ enigiets verskuldig is nie. Selfs al sou hy buite-egtelike kinders gehad het, sou die stelling dat hy "na regten” aan niemand iets verskuldig was nie, volgens Mansell Upham nog steeds korrek gewees het, aangesien 'n buite-egtelike kind geen aanspraak op 'n erfporsie sou gehad het nie. (Mansell is ’n advokaat!)
Een van die Vosloos wat self ook probeer het om dié onduidelikhede rondom sy stamvader opgeklaar te kry, het in 'n brief, gedateer 6 Desember 1986, aan sy neef die volgende opmerking gemaak:
Die eerste Johannes, wat voor 1689 uitgekom het, bly vir my 'n raaisel . . . In sy testamente het hy self gesê dat hy geen vrou of kinders gehad het, aan wie hy, volgens wet iets hoef te bemaak nie. Dit lyk amper of hy daarop sinspeel dat hy wel miskien onreëlmatig kinders, of selfs 'n vrou gehad het!’’
Daar bestaan egter geen twyfel dat Jan Vosloo wel kinders gehad nie. Ons kon die volgende twee waterdigte bewyse in dié verband opspoor:
1; die opgaafrol (opgawe van belasbare inkomste) van 1719 wat noem dat Jan Vosloo ‘n seun en ‘n dogter gehad het wat nog deel was van sy huishouding. Hy kon dus meer as net die twee kinders gehad het indien van hulle alreeds uit die huis was. Op daardie stadium was drie van die kinders wat sy van aangeneem het alreeds getroud nl. Johannes, Maria en Helena.
2;‘n testament van Maria Vosloo, gedateer 6 Januarie 1725, waarin sy na Jan Vosloo van Drakenstein as haar pa verwys het. Later meer oor die opgaafrol van 1719 en Maria Vosloo.
Ons gaan nou elkeen van die kinders bespreek en kyk na inligting wat daarop dui dat Jan Vosloo hul pa was aldan nie.
Johannes (1696)
In sommige dokumente word na hom verwys as Johannes Vosloo junior. Daar is navorsers wat van mening is dat Johannes se moeder Helena van Malabar was. Die betrokke dokumente wat as bron van die stelling aangegee word, ondersteun egter nie so 'n afleiding nie. Dr. Anna Böeseken het in haar Slaves and Free Blacks at the Cape verwys na 'n dokument waarvolgens Jan Vosloo op 20 November 1696 die slavin Helena van Malabar en haar twee-jarige kind vrygestel het. Sy verwys op een plek in die publikasie na die kind as Jannetje, wat €˜n meisienaam is, en op 'n ander plek weer as Jantje, wat ‘n seunsnaam is. Dit terwyl die spelling in die oorspronklike dokument Jannetie, ‘n meisienaam, is. Die dokument meld ook dat die kind ‘n dogtertjie was. Ander navorsers het moontlik op grond van Dr. Böeseken se transkribsie van die naam as Jantje aangeneem dat hierdie kind Johannes was.
Ekself het dit ook aanvaar totdat ek na die oorspronklike dokument in die Akteskantoor in Kaapstad gaan kyk het. Ons hoor nooit weer van Jannetie nie.
Prof. Leon Hattingh, voormalige direkteur van die Instituut vir Historiese Navorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het verder gegaan en verklaar:
Hierdie Johannes en Helena (nog 'n moontlike kind van Jan Vosloo) was die kinders van die Kompanjieslavin met die naam van Helena van Malabar .’’ As bron gee hy 'n dokument aan wat betrekking het op Helena, 'n slawemeisie, wat in 1708 deur Jan Vosloo van die VOC gekoop is.
Daar is geen verwysing na Helena van Malabar of Johannes Vosloo in die betrokke dokument nie. Die dokument bevat gevolglik geen inligting op grond waarvan die afleiding gemaak kan word dat Helena van Malabar die moeder van Johannes was nie. Prof. Hattingh het moontlik die afleiding dat die twee kinders haar kinders was, gemaak op grond van die foutiewe aanvaarding dat die kind wat saam met Helena van Malabar vrygestel is, Johannes Vosloo junior was en omdat Helena Vosloo dieselfde voornaam as Helena van Malabar gehad het. Ons sal later terugkeer na Helena Vosloo se storie.
Ons kon nog nie 'n doopseel vir Johannes Vosloo junior opspoor nie. Mansell Upham het egter genoem dat hy gedoop moes gewees het anders sou hy nie in die huwelik kon getree het nie. Met die aantekening van slawekinders se dope is dikwels bloot die kind en moeder se voorname gegee wat dit dan feitlik onmoontlik maak om hulle identiteit te bepaal.
Johannes maak die eerste keer sy opwagting in die opgaafrol van 1712. Ons het nie toegang gehad tot die opgaafrolle vir elke jaar nie. Ons het wel die opgaafrol van 1709 geraadpleeg en sy naam kom nie daarin voor nie. Sy naam kon dus moontlik ook reeds in die opgaafrolle van 1710 en 1711 voorgekom het. Dit kan aanvaar word dat hy in 1712 waarskynlik ten minste 16 jaar oud was, wat sal beteken dat hy in circa 1696 of vroeër gebore is.
Jan Vosloo het in sy testament van 1714 verwys na “zijn vrije jonge Johannes van de Caap”, wat dan heelwaarskynlik Johannes junior was, as “vrygeboren”. Dit impliseer dat sy moeder met sy geboorte ‘n vry persoon moes gewees het. Ons weet egter ook dat alhoewel Jan Vosloo se “vrij jonge Casper van de Caap”, in sy testament van 1714, as “vrygeboren” beskryf word, hy as die kind van ‘n slavin gedoop is (sien bl. ;). Dit beteken dat Jan Vosloo in die geval van Casper die term “vrygeboren” gebruik het om te verwys na ‘n slaaf wat na sy geboorte vrygestel is en dat ook Johannes junior dus nie noodwendig vry gebore was nie, maar moontlik ook later vrygestel kon gewees het.
“Zijn vrije jonge Johannes van de Caap" was ook ‘n begunstigde in Jan Vosloo se testament van 1719. As die Johannes, wat ‘n begunstigde in die twee testamente was, nie Johannes Vosloo junior en dus Jan Vosloo se seun was nie, ontstaan die vraag waarom sou hy een van die begunstigdes in sy testamente gewees het?; Die verwysing na hom as “van de Caap”, sonder dat sy vader se naam of van (familienaam) gegee word, dui daarop dat hy ‘n persoon van gemengde afkoms was wat aan die Kaap gebore is.
Johannes Vosloo junior tree op 2 Januarie 1718 in die huwelik met Gerbrecht Herbst. Sy was ook van gemengde afkoms en dit dien ter ondersteuning van die vermoede dat hy ook van gemengde afkoms was en gevolglik 'n slawemoeder kon gehad het. Soos wat die spreekwoord sê: Soort soek soort. Ons sal later sien dat van Jan Vosloo se ander kinders en ten minste een kleinkind (sien bl. Error! Bookmark not defined.), ook verbintenisse gehad het met persone van gemengde afkoms. Gerbrecht Herbst was die dogter van Johan Herbst van Bremen en Lysbeth Sanders. In 1686 was Johan Herbst die opsigter van die VOC se veepos in Hottentots Holland en in 1690 was hy ’n burger in Drakenstein. Daar is nog onduidelikheid oor wie die moeder van Lysbeth Sanders was. Op grond van navorsing wat deur Mansell Upham gedoen is, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat haar moeder moontlik Lysbeth van Angola was. Hoe dit ookal sy daar bestaan geen twyfel dat Lysbeth Sanders van nie-blanke afkoms was nie.
Lysbeth Sanders het 'n veelbewoë lewe gehad. Sy het met verskillende mans verhoudings gehad en was die moeder van vyf dogters wat baie nasate onder blanke Afrikaners het. Sy is in 1696 gegesel en moes drie jaar in kettings deurbring nadat sy die juwele van Jacob Cornelissen van Bengale gesteel het. Nadat sy vrygelaat is, het sy by Johann Herbst onderdak gevind en die moeder geword van sy twee dogters Clara en Gerbrecht. Clara het getrou met Johannes Harmensz Potgieter en so het Lysbeth Sanders ook die stammoeder geword van 'n deel van die Potgieter-familie. 'n Aantal van haar meer bekende nasate is pres. Paul Kruger, genl. Louis Botha, die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter en die bekende genl. Koos de La Rey. Lysbeth Sanders was al oor die tagtig jaar oud toe sy in 1742/43 oorlede is..
Nog 'n sterk argument dat die kinders wat Jan Vosloo se van aangeneem het wel sy kinders was, kom na vore as 'n mens kyk hoe hulle oor en weer by mekaar se kinders as doopgetuies opgetree het. So bv. tree Helena Vosloo en haar man Jan Pretorius as getuies op by die doop van Johannes en Gerbrecht se seun Arnoldus wat op 27 Augustus 1724 in die Drakenstein-gemeente gedoop is. Hoekom sou Helena Vosloo by Johannes Vosloo se kind as doopgetuie opgetree het as daar nie 'n familieverwantskap tussen hulle was nie? Hulle moeders was weliswaar heel moontlik twee verskillende slawevroue, maar hulle pa was verseker Baashoutkapper, Jan Vosloo. Later meer oor Helena.
Casper (1701)
Ons vind onder datum 12 Junie 1701 die volgende inskrywing in die Kaapstad-gemeente se doopregister vir slawe: "Een kind van Apollonia, onder getuyge van Jan Wirik Vormer en Jannetie van Wyk,
gen:[aem]t Casper” (Jannetie van Wyk was ‘n prominente vrygestelde slavin en die stammoeder van die Hartogh-familie). Op 29 Julie 1703 vind ons die volgende inskrywing in dieselfde register: "Een Slavin van Jan Vosloo na voorgaande belydenis gedoopt gen: [aem]t Apollonia." Die feit dat Casper en sy moeder gedoop is, beteken dat daar vir beide van hulle 'n besondere plekkie in Jan Vosloo se hart moes gewees het. 'n Gedoopte slaaf kon nie verkoop word nie, met die gevolg dat slawe nie maklik deur hulle eienaars gedoop is nie.
Hierdie twee persone is dan ook begunstigdes in van Jan Vosloo se testamente. So bv. bemaak hy in sy testament van 1714 5000 guldens aan: "zijn jonge Casper, zijnde de soon van zijn Comp. Meijt genaamd Apollonia.’’ Aan "de meijden Apollonia en Constantia" word 1000 guldens elk bemaak. Die feit dat Casper verreweg die belangrikste begunstigde was in sy testamente van 1714 en 1719 dui ook daarop dat hy 'n besondere plek in die hart van Jan Vosloo beklee het. In die testament van 1714 is bv. net 2000 guldens aan Johannes bemaak terwyl Casper se bemaking 5000 guldens was. Die enigste ander Vosloo-kind wat 'n begunstigde van die betrokke testament was, was Helena en haar bemaking was ook 2000 guldens. Die feit dat Casper en Johannes ook die erfgename sou wees van Jan Vosloo se opstal op die leningplaasVogelvallei, is 'n verdere sterk aanduiding dat hulle wel sy kinders was. 'n Mens bemaak nie somaar jou huis aan jou slavin se buite-egtelike kind, tensy daar 'n baie goeie rede daarvoor is nie.
Ons het reeds vroeër gesien dat die naam Casper voorgekom het onder die familie in Duitsland waarvan Jan Vosloo waarskynlik deel was (sien bl. ?). As Casper Vosloo nie Jan Vosloo se seun was nie, ontstaan die vraag of dit dan bloot toevallig sou wees dat hy 'n naam ontvang het wat voorgekom het in sy familie? Gegewe al die ander getuienis wat daarop dui dat hy wel Jan Vosloo se kind was, is dit dus baie meer waarskynlik dat sy naam Casper was omdat hy inderdaad Jan Vosloo se seun was en dus ’n Vosloo-familienaam het. Dit is ook interessant om daarop te let dat Johannes (1696) sy derde oudste seun ook Casper (1727) gedoop het. Dit is te betwyfel of dit toevallig is. Hy het die kind verseker vernoem na sy broer. Hierdie Casper was die enigste Casper in die tweede generasie na die stamvader. Die laaste keer dat ons die naam Casper in die Vosloo-familie teengekom het, was in die Swellendam-opgaafrol vir 1806. Daar word ’n Casper Vosloo, sonder enige besittings, gelys. Dit is onbekend waar hy in die Vosloo-geslagsregister inpas.
Casper het heel waarskynlik 'n verbintenis met ene Anna de Klerk gehad. In De Villiers/Pama se Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families verskyn die naam van Anna de Klerk as die kind van Jan Vosloo se goeie vriend Abraham de Klerk. Sy was volgens Mansell Upham heel moontlik 'n buite-egtelike kind van Abraham de Klerk en ook van gemengde afkoms. Die afleiding word o.a. gemaak op grond van die feit dat geen doopseel vir haar opgespoor kon word nie in teenstelling met die feit dat daar doopseels vir al Abraham de Klerk se ander kinders bestaan.
Volgens die publikasie was Anna de Klerk se eerste huwelik met Jan Willem Minnie en haar tweede huwelik met ’n Casper Vosloo. Die feit dat geen huweliksdatums verskaf word nie kan daarop dui dat sy bloot verbintenisse met die twee persone gehad het. In De Villiers/Pama se Vosloo-geslagsregister word vermeld dat sy met Casper (1727) seun van Johannes (1696) getroud was en dat hulle ’n seun Johannes gehad het wat in 1755 gedoop is. Ons kon nie die doopseel van die kind opspoor nie. Ons is egter van mening dat sy ’n verbintenis met Casper (1701) gehad het en nie met hierdie Casper wat die seun van sy broer was nie.
Ene Francina Vosloo tree nl. op 15 April 1743 in die huwelik met Hans Jurgen Gilbert. Hy kom ook in die dokumente voor as Gilber, Kelber of Kelver en was afkomstig van Flammersbach. Hy arriveer in 1734 as soldaat. In die egpaar se testament, gedateer 16 April 1755, word haar moeder aangegee as Anna de Clercq. Francina was dus heel waarskynlik die dogter van Casper (1701) en Anna de Klerk aangesien Casper (1727) ontmoontlik haar pa kon gewees het. Na Gilbert se dood circa 1766, tree Francina in die huwelik met Jacobus Swanepoel. Hulle stel op 20 Junie 1774 'n testament op te "de Rietvalleij gent. geleegen agter de Coggemans Cloof”. Hy was die weduwee van Susanna Catharina Rabie en sy ouers was die Swanepoel-familie se stamouers, Pieter Swanepoel en Maria Sibella Sachs.
In Swellendam se opgaafrol vir 1762 kom ’n Johannes Vosloo Casper’s z voor wat beteken dat sy pa se naam Casper was. Hierdie Johannes was waarskynlik die seun van Casper (1701).
Volgens die opgaafrolle wat ons geraadpleeg het, het Casper (1701) nooit veel besittings gehad nie. Waar Johannes (1696) volgens die Drakenstein-opgaafrol van 1724 o.a. 3 perde, 30 beeste en 6000 wingerdstokke gehad het, was Casper se enigste besittings sy perd, snaphaan, degen en pistool. In 1729 het hy nie eers meer ’n perd op sy naam gehad nie en was sy enigste besittings ’n snaphaan en degen. In die baie interessante verslag, gedateer 30 Januarie 1732, wat Goewerneur De La Fontaine opgestel het, met o.a. opmerkings oor die Kaapse burgers van sy tyd, word na Casper verwys as “Heeft wijnig of niet in de weereld.”
Maria (1689)
Maria Vosloo se eerste huwelik was met Arnoldus Kruysman. Arnoldus Kruysman arriveer voor 1699 as adelbors vanaf Mörs in Duitsland. Op 7 September 1703 sluit hy ’n kontrak met Jan Vosloo waarkragtens hy as boerkneg by hom in diens getree het. Hierdie kontrakstelsel was sedert 1692 van krag toe daar bepaal is dat 'n behoorlike kontrak tussen 'n kneg en sy meester opgestel moes word. Sien ook bl. 61. Hy was later diaken van Drakenstein en Heemraad van Stellenbosch. Hy was dus ’n baie vooraanstaande man in die ou Kaapse samelewing.
By die doop van Kruysman se oudste kind, Christina, op 28 Junie 1705 in die Paarl, word die moeder net as Martha aangedui. Dit is deur ander navorsers aanvaar dat hierdie Martha dieselfde persoon as Maria Vosloo is. Dit is natuurlik nie ’n uitgemaakte saak dat hierdie Martha wel Maria Vosloo was nie. As Martha en Maria Vosloo wel dieselfde persoon is, is die doopseel van Christina die enigste dokument waarvan ons kennis dra waar na haar as Martha verwys word.
Christina Kruysman was getroud met Peter Bertram Oortmann van Keulen. In 1722 beveel die Politieke Raad hom om terug te keer na Europa. Hy neem sy vrou saam en vestig hom in Rheinberg. As Christina wel Maria se dogter was, beland ’n kleindogter van Jan Vosloo dus weer in Europa.
As Maria wel die moeder van Christina is, kan ons met sekerheid verklaar dat sy wel Jan Vosloo se kleindogter was, aangesien Maria in ’n testament wat sy op 6 Januarie 1725, na die dood van haar tweede man, Arnoldus Basson, opgestel het, verwys het na
haare vader Jan Vosloo woonagtig onder’t distrikt van Drakenstijn”. Hierdie sinsnede is waarskynlik die belangrikste bewys dat Jan Vosloo wel kinders gehad het, al is dit dan net vir Maria.
Dit sal interessant wees om te probeer vasstel of Christina Oortmann ’n nageslag gehad het en indien wel wat van hulle geword het. Dit is egter ’n ondersoek wat sal moet oorstaan vir die toekoms.
Ons weet nie wie die moeder van Maria Vosloo was nie. Ons het vroeër reeds gesien dat dit moontlik Maria Been kon gewees het (sien bl. 70). As Christina wel haar kind was en ons aanvaar dat sy ten minste 16 jaar oud was met Christina se doop op 28 Junie 1705, beteken dit dat sy in 1689 of vroeër gebore was. Met die doop van Anna Maria Kruysman op 8 April 1708 word die moeder as Maria Vosloo aangegee. Jan Vosloo was die enigste doopgetuie. Sy het getrou met Jan Bothma. Twee van hulle kleinseuns, en dus agterkleinkinders van Jan Vosloo, nl. Abraham Carel Bothma (1787) en Stephanus Cornelis Bothma (1773), is op 9 Maart 1816 by Slagtersnek tereggestel (sien bl. 91).
Arnoldus Kruysman wat op 4 Oktober 1722 oorlede is se plaas was Kruishoff gelegen aan de Groenebergh. Uit aangehegde kaart is dit duidelik dat die plaas in die omgewing van die huidige dorp Wellington geleë was. Maria se tweede eggenoot, Arnoldus Basson, was die kleinkind van Arnoldus Willemsz Basson, die stamvader van die Basson-familie. Sy ouma was Angela van Bengale wat die vrygestelde slavin van die sekunde, Abraham Gabbema was. Arnoldus Basson het op die plaas Halfmanshof geboer. Na sy afsterwe op 3 Oktober 1724 is sy plaas verkoop aan bg. Jan Bothma.
Op 22 April 1725 tree Maria Vosloo in die huwelik met Jan Andreas Dissel van Oos-Vriesland. Volgens Mansell Upham was hy afkomstig van Jever. Hy het in 1720 as ’n soldaat gearriveer en word in 1724 ’n burger. Volgens die opgaafrol van 1725 was Maria Vosloo redelik welaf. Sy het o.a. 13 slawemans, 2 slavinne, 100 beeste, 300 skape en 20 000 wingerdstokke besit. Sy het ook 25 mud koring gesaai en 400 mud gewen. Jan Dissel wat vanaf 1720-1725 ’n boerkneg was, het dus met ’n ryk vrou getrou. Teen 1728 het die egpaar reeds 15 slawemans, 25 000 wingerdstokke, 600 skape ens. gehad. Volgens Shell het die egpaar ook ’n smitswinkel op hulle plaas gehad.
Op 11 Julie 1728 tree die egpaar op as doopgetuies by die doop van Jan Pretorius en Helena Vosloo se seun Willem Sterrenberg. Dit dui dus ook op ’n waarskynlike familieverwantskap tussen Maria en Helena. Maria sterf in 1731 en op 18 Januarie 1735 verskyn die volgende inligting in die Resolusies van die Politieke Raad:
Soo als ook op het ingediende versoekschrift van den burger Jan Andries Dissel aan hem geaccodeert is om onder betaling van de daartoe staande transport en costpenningen voor’t logement in de cajuit met een der aanweesende retourscheepen na het vaderland te moogen overvaaren.'' Op 12 Maart 1740 was daar weer ’n Johann Andreas Dissel van Wittmund aan die Kaap. Op daardie datum het hy ’n boerkneg-kontrak aangegaan. Dit is nie onmoontlik dat dit dieselfde persoon was nie. Hierdie keer net heelwat armer as toe hy nog met Maria Vosloo getroud was.
Helena (1696)
Ons het reeds vroeër daarna verwys dat ander navorsers van mening was dat Helena se moeder Helena van Malabar was (sien bl. 71). Behalwe vir die feit dat hulle dieselfde voorname gehad het en beide verbintenisse met Jan Vosloo gehad het, kon ons geen ander inligting opspoor wat daarop dui dat hulle beslis moeder en dogter was nie. Daar is egter nog omstandigheidsgetuienis wat daarop dui dat hulle moontlik wel moeder en dogter kon gewees het. Helena van Malabar en haar dogtertjie Jannetie is op 20 November 1696 vrygestel. Op 1 November 1707 het Jan Vosloo in ’n petisie aan die Politieke Raad genoem dat Lena, ’n slawemeisie, ongeveer tien of elf jaar vroeër in sy huis gebore is. Hy noem ook dat die moeder ‘n Kompanjie slavin was, wat na hom in die bos omgesien het. Vir Helena om ’n dogter van Helena van Malabar te kon wees moes Helena van Malabar dus ’n Kompanjie slavin gewees het. Die feit dat sy egter deur Jan Vosloo vrygestel is beteken dat sy Jan se persoonlike slavin was. Hy sou immers nie ’n Kompanjie slavin kon vrystel nie. Dis egter moontlik dat hy vir haar en Jannetie by die Kompanjie kon gekoop het en toe vrygestel het.
Afhangende van presies wanneer Helana gebore is en indien Helena van Malabar wel op daardie stadium ‘n Kompanjie slavin was, kon sy wel Helena se moeder gewees het. Die feit dat Helena se oudste kind, Johannes Pretorius, reeds op 21 Maart 1711 gedoop is, versterk die vermoede dat sy op 1 November 1707 waarskynlik eerder 11 as 10 jaar oud sou gewees het, aangesien sy selfs in so ‘n geval maar slegs veertien jaar oud sou gewees het by die doop van haar oudste kind.
Dit sou beteken het dat sy op of voor 1 November 1696 gebore sou gewees het. Ons weet Helena is eers op 20 November 1696 vrygestel met die gevolg dat sy in so ‘n geval nog ‘n slavin sou gewees het met die geboorte van Helena. As Helena van Malabar wel Helena se moeder was, ontstaan die vraag waarom net sy en Jannetie deur Jan Vosloo vrygestel was en nie ook Helena nie. ‘n Mens wonder of Helena van Malabar nie dalk ‘n Kompanjie slavin was wat na Jan Vosloo moes omsien nie. Beide Jannetie en Helena is toe uit ‘n verbintenis tussen Helena en Jan gebore. Jan besluit om vir Helena en Jannetie vry te koop. Helena word nie ook vrygekoop nie, aangesien haar moeder nie kans gesien het om ook na haar om te sien nie. Helena en Jannetie verlaat Jan Vosloo se huishouding met Helena junior wat by hom agterbly en in sy huis groot word.
Jan Vosloo noem in sy versoek van 1 November 1707, dat hy verneem het dat die Kompanjie vir Helena van hom wou wegneem en in die sorg wou plaas van Kaij Jesse Slotsboo wat ’n goed gevestigde familie gehad het. Die Kompanjie het die reg daartoe gehad omdat sy as kind van ’n Kompanjie slavin gebore is en derhalwe die eiendom van die Kompanjie was. Hy noem dan dat hy bereid is om haar vry te koop wat hy dan ook uiteindelik vir die bedrag van 25 riksdaalders gedoen het. Hy noem ook in sy petisie dat hy na al haar behoeftes omgesien het. Dit het ’n onderwyser ingesluit wat vir haar moes leer lees en skryf. Die Kompanjie staan sy versoek toe en op 10 April 1708 word sy vrygestel op voorwaarde dat hy verantwoordelik sou wees vir haar versorging totdat sy in die huwelik sou tree.
Ons het reeds gesien dat haar oudste kind, Johannes Pretorius, gedoop is toe sy, maar ongeveer 14 jaar oud was. Sy was getroud met Johannes Pretorius, wat die derde oudste kind van die Pretorius-stamvader was. Sy en haar man was die ouma- en oupagrootjie van die bekende Voortrekkerleier, Andries Pretorius. Haar oudste kind, na wie ons hierbo verwys, was Andries Pretorius se oupa. Een van hulle kleindogters, Johanna Helena Pretorius, was ook die moeder van die bekende Gert Houtkanon, stamvader van die Queenstown- en Somerset-Oos-takke van die Vosloo-familie (sien bl. Error! Bookmark not defined.). Gert Houtkanon en Andries Pretorius was dus kleinneefs. Helena en haar eggenoot het 10 kinders gehad, waarvan die jongste in 1730 gedoop is. Volgens die opgaafrol van 1728 het hulle in Drakenstein gewoon en o.a. 3 slawe, 6 perde, 500 skape en 8 varke besit.
Jan Vosloo bemaak in sy testament van 24 Januarie 1714 2000 guldens
aan de huijsvrou van den landbouwer Jan Pretorius”. Dit is interessant dat hy haar nie by die naam noem nie. Dit was seker nog deel van sy poging om te bewys dat hy geen kinders het wat enige aansprake op bemakings in sy testament gehad het nie. ’n Jan Vosloo teken ook as doopgetuie by die doop van Helena se tweede kind, Gerrit Pretorius, wat op 12 November 1712 in die Paarl gedoop is.
Anna Maria Kruysman en haar man Jan Bothma tree op 31 Augustus 1721 as doopgetuies op by die doop van Lodewicus Pretorius, een van Helena en Jan Pretorius se kinders. Dit dui weereens op die sterk familiebande tussen die kinders wat Jan Vosloo se van aangeneem het. Anna Maria Kruysman was die dogter van Maria Vosloo en Arnoldus Kruysman en sy tree dus as doopgetuie op by die doop van haar neef. Helena en haar man het selfs hulle agste oudste kind Arnoldus Kruysman Pretorius gedoop, wat beteken dat hy vernoem was na haar suster se man. Die naam Arnoldus wat so volop voorkom onder die Vosloos, veral in die kombinasies Johannes Arnoldus en Arnoldus Francois het sy oorsprong by hierdie Arnoldus Kruysman.
Catrijn (1716)
Ons het reeds gesien dat Jan Vosloo volgens die opgaafrol van 1719 nog ’n seun en dogter in sy huis gehad het. Drie van sy kinders, Maria, Joahnnes en Helena was op daardie satdium reeds getroud gewees. Die seun was moontlik die ongetroude Casper en die dogter kon Catrijn, die dogter van sy slavin Catrijn van Madagaskar, gewees het. In sy testament van 31 Oktober 1719 verklaar hy die volgende:
dat na sijn overlijden in volle vrijheijt sal werde gestelt, sijn slavin Catrijn van Madagaskar out omtrent 30 jaaren benevens haar kint mede Catrijn genaamt en geboortig aan deese plaats out 3 jaar.'' Volgens dieselfde opgaafrol het hy op daardie stadium 10 slawemans, 3 slawevroue, 1 slaweseun en 3 slawemeisies besit. Dit is interessant dat net die een slavin en haar kind vir vrystelling uitgesonder word. Dit is ook interessant om daarop te let dat sy slavin Apolonia (Casper se moeder) volgens dieselfde testament reeds oorlede was. Dit lyk heel moontlik dat hy na haar afsterwe ’n verbintenis met Catrijn van Madagaskar kon gehad het en dat hy haar en die kind Catrijn wou laat vrystel omdat sy sy kind was.
Jan Vosloo as slawebesitter
Volgens die opgaafrol van 1712 het Jan Vosloo op daardie stadium ’n totaal van 18 slawe besit (sien bl. 65). Naas die slawe waarna ons reeds hierbo verwys het, weet ons ook nog van die volgende slawe en slavinne wat hy volgens Mansell Upham besit het.
Op 21 Junie 1696 verkoop Jacob Joppe de Jongh die slaaf Coridon van Batavia aan hom vir 100 Riksdaalders. Jacob Joppe de Jongh was ’n groot slawehandelaar. Hy was getroud met Maria Bothma, wat ’n niggie was van Jan Bothma wat getroud was met Anna Maria Kruysman, ’n kleindogter van Jan Vosloo.
Op 4 Julie 1698 koop hy Isabella van Madagaskar vir 80 Riksdaalders van Willem Corsenaar.
Op 6 September 1699 doop ’n slavin met die naam Tamar ook ’n onbekende kind. Haar eienaar was Baas Jan. Ons het reeds gesien dat Jan Vosloo ook as Baas Jan en later Jan Baas bekend gestaan het (sien bl. 17).
[ Die stamvader se nie-Vosloo nageslag
Deur sy nageslag se ondertrouery met ander families is stamvader Jan Vosloo natuurlik 'n voorvader van baie ander Suid-Afrikaners wat nie vandag die Vosloo-van dra nie. Ons het reeds gesien dat baie van die Pretoriusse van sy dogter Helena afstam en 'n deel van die Bothma-familie weer van sy dogter Maria. Prof. Leon Hattingh noem ook dat belangrike takke van die volgende families ook afstam van Jan Vosloo omdat hulle voorouers reeds vroeg met sy afstammelinge ondertrou het nl. Pietersen, Jonker, Spies, Van den Bank, Raats, Colesky en Gous.
Die Hartzenberg-familie se stammoeder was ook ’n agterkleindogter van hom. Dit is interessant om daarop te let dat alhoewel alle Hartzenbergs van Jan Vosloo afstam geen Hartzenberg daarna weer getrou het met enige van die 4560 (qw2) Vosloos wie se inligting in die boek verskyn nie. Dit is verder interessant om daarop te laat dat Gerbrecht Elisabeth (1754), stammoeder van die Hartzenberg-familie se pa, Johannes (1721), geen manlike nageslag het wat die Vosloo-van kon voortdra nie. Sy enigste seun, Johannes (1761) se vrou Eva de Lange het gesterf by die geboorte van hulle enigste kind. Ons weet nie wat van die kind geword het nie. Alle Vosloos in Suid-Afrika stam af van Johannes (1721) se drie broers nl. Arnoldus (1724), Gerrit (1732) en Wessel (1740). Hy leef egter vandag voort in die nasate van die 18 kinders van sy drie dogters. Sy ander twee dogters was getroud met twee Meyer-broers.]
|