Notes |
- Lewensverhaal van Jan (G. J.) GreeffGebore in Benoni op 1 April 1943 en voltooi sy skoolloopbaan in dieselfde dorp, eers by Northmead Afrikaans Medium en matrikuleer in 1960 by die aangrensende Hoërskool Brandwag. Reeds in sy voorskoolse jare is hy fanaties oor enigiets meganies. Hy maak ou horlosies wat Pappa Piet met sy horlosieherstelstokperdjie versamel uitmekaar, verlustig hom in die uitdagings ven Meccano en timmer ‘n houtvliegtuig in die agterplaas aanmekaar. Een waarin hy kan sit en waarvoor hy vir Pappa vra om ‘n enjin te bring sodat hy dit kan laat vlieg.By sy geboorte het Pappa Piet vir hom ‘n wilgerboom geplant. Daardie boom was die middelpunt van die meeste van sy kinderfantasiespeletjies. Swaai aan die wilgertakke, aan toue wat Pappa van die myn af gebring het, as denkbeeldige Tarzan en baie ander fiksiekarakters. Die gevolg van Pappa se wyse vêrsiendheid was ‘n baie fikse en atletiese kind met uitstekende ko-ordinasie en verbeeldingskrag. Hy is ook van kleins af deur sy liefdevolle ouers aangemoedig om baie rou en vars groente en vrugte uit die tuin te eet. Pappa was nooit ongelukkig wanneer hy die groentetjies sommer al pluk en eet lank voordat dit ryp word of selfs sodra die koppies uit die grond kom nie.Jan skryf in 1961 by TUKS in met ‘n vakkeuse vir ‘n graad in dier- en plantkunde wat deur voorligters aanbeveel is. Hy het geen belangstelling, aanvoeling of aanleg vir die studie-onderwerp nie, is eerder aangelê vir iets in die rigting van meganika. Aan die einde van sy eerste studiejaar kry hy tydelike vakansiewerk by die Stadsraad van Benoni en nadat sy studie-uitslae die rampspoedige jaar bevestig, ontvang hy ‘n aanbod vir permanente werk wat lei tot ‘n loopbaan in Plaaslike Bestuursadministrasie. Ten spyte van sy voorliefde vir meganiese dinge, help sy veelsydigheid hom om ‘n sukses te maak van ‘n loopbaan in munisipale administrasie.Hy sluit intussen in 1963 aan by die Kommando’s en vorder binne 6 jaar tot die rang van kaptein en later tot kommandant.Hy verwerf die Diploma in snelskrif en ook in “shorthand” wat sy pad baan na sy eerste groot bevordering, na die pos van komiteeklerk. In 1966 volg ‘n verdere stap na ‘n senior komiteeklerkpos by die personeeldepartement van die Stadsraad van Pretoria. Hierdie aanstelling was buitengewoon omdat die Pretoria Stadsraad ‘n streng beleid van bevordering uit eie geledere op grond van senioriteit gehandhaaf het. Dit was dus bykans onmoontlik vir ‘n buitestaander om in ‘n bevorderingspos aangestel te word.Hierdie beleid van senioriteit lei tot ‘n meevaller vir Jan wanneer ‘n toesighouerspos in die personeeldepartement geskep met die doel om hom daarin te bevorder. Die departement word verplig om die pos intern te adverteer. Aansoeke stroom in van meer senior kollegas in die hierargie en ten spyte van sterk motivering deur Jan se departementshoofde dat slegs hy die pos behoorlik sal kan baasraak, word die senioriteitsbeleid streng toegepas en ‘n meer senior kandidaat uit ‘n ander departement kry die pos. Na drie maande dien die betrokke hoofde ‘n verslag in waarin uitgespel word dat die nuutaangestelde toesighouer nie die werk sonder Jan se hulp kan verrig nie, wat ‘n onuithoudbare situasie skep. Na lang beraadslaging word ‘n nuwe pos op die volgende hoër rang bokant die nuwe toesighouer geskep en word Jan daarin aangestel.In hierdie tyd sit Jan eendag tydens etenstyd in sy kantoor op die vyfde verdieping van Munitoria toe hy ‘n geskarrel oorkant die gang hoor. Die volgende oomblik hardloop ‘n man verby en Jan hoor die departementshoof skree dat die man die sekretaresse se handsak gesteel het. Hy sit die dief in die lang gang agterna. Die jaagtog snel by die trappe af na die vierde verdieping en op in daardie gang. Die handsakdief hoor dat hy van agter ingehaal word en probeer by die volgende stel trappe verder na ondertoe wegkom, maar Jan kom in die draai by en duik sy voete onder hom uit sodat hy homself half bedwelmd val teen die hoek van die muur by die trap. Die dief het so mak soos ‘n lam bly sit totdat die polisie opdaag, en in die daaropvolgende hofsaak is hy skuldig bevind en ‘n swaar straf opgelê.Jan het vir vier en ‘n halwe jaar in Pretoria gewerk. Die eerste jaar het hy in die Jeugtuiste in Pretoria gewoon, maar daarna elke dag van sy ouerhuis in Benoni af werktoe gery. In 1966 pak sy meganiese aanleg hom weer en hy ontwerp en bou ‘n visvang- en strandvoertuig op die onderstel van ‘n DKW. Hierdie voertuig het baie aandag getrek en het in die daaropvolgende jare langs die hele kus van die destydse Transkei af tot by Pomene in Mosambiek diens gedoen. In 1973 omskep hy die voorwielaangedrewe voertuig na permanente vierwielaandrywing.In 1970 raak Jan moeg vir die heen en weer ryery van Benoni af na sy werk in Pretoria en doen suksesvol aansoek vir ‘n bestuurspos, weer by die Benoni Stadsraad.Gedurende sy bedankingsmaand in Pretoria in September 1970 speel ‘n kollega, ‘n Noord-Transvaalse hokkie-administrateur by name Myrtle Lazar ‘n suksesvolle rol as “matchmaker” met Juanita Leach, ‘n onderwyseres in liggaamlike opvoeding wat vir die Noord-Transvaalse hokkiespan uitdraf. Sy het ook haar provinsie in atletiek en gimnastiek verteenwoordig.In 1971 verstewig Juanita die militêre bande met ‘n aanstelling as Luitenant [Instrukteur in Liggaamlike Opvoeding] in die pioniersjaar van die SA Leërvrouekollege [SALVKOL] op George.Die kaptein en die luitenant reel ‘n militêre huwelik op 11 Desember 1971, waarna Juanita in bevel bly ten spyte van Jan se meer senior rang. By die huwelikseremonie tree die offisiere van Jan se eenheid saam met studente van SALVKOL op as erewag, waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis van die SA Weermag dat so ‘n gemengde erewag optree.In 1963 begin ‘n lang pad as ampsdraer in die NG Kerk, eers as diaken en vanaf 1972 as ouderling. Tydens ‘n seminaar van Campus Crusade for Christ by Kempton Park in 1971 ontvang hy ‘n geskenk van die Here: Bevestiging van geloofsekerheid. In daardie stadium ervaar hy dit as ‘n bekering, maar sewe jaar later begelei Jesus hom na die besef dat Hy Jan se lewe reeds tydens sy kinderjare nuut gemaak het, danksy die onwrikbare toewyding, liefde, gebed en voorbeeld van sy ouers.Antoinette word in 1973 gebore en in 1991 doen sy suksesvol aansoek vir ‘n jaar by SALVKOL as die eerste student wat ‘n kind is van ‘n oud-offisier of oud-student. In 1976 arriveer Sanet en sy volg in haar moeder en ouer suster se voetspore toe sy in 1994 ook diens doen by SALVKOL.In 1974 word Jan aangestel as Assistant-Stadsklerk op Empangeni en die hele gesin word Zoeloelanders in murg en been. Pieter word in 1979 gebore en die laatlam, Henno in 1985.Gedurende sy dienstyd bewys Jan homself van tyd tot tyd as ‘n amptenaar wat nie terugdeins vir uitdagings en gemaksones nie. Wanneer daar byvoorbeeld iets gedoen moet word waarvoor bestaande wetgewing nie voorsiening maak nie dan pak hy die bestaande orde sonder handskoene aan. Eers moet sy kollegas wakkergemaak word met die realiteit dat wetgewing nie in beton gegiet is nie en vir die gemeenskap se behoeftes gemaak en aangepas moet word. Dan moet die besluitnemers, die stadsraadslede dienooreenkomstig ingelig en oortuig word. Vandaar moet die voorgestelde wetswysiging na die Provinsiale owerhede gaan waar die groot manne met die dik brille daaraan moet herkou alvorens die proses verder kan vorder. Dan moet dit deur advertering aan die openbare mening vir kommentaar en beswaar voorgehou word en laastens word dit in die Provinsiale Koerant as wysigingswet gepubliseer.So byvoorbeeld, in die tagtigerjare toe die land aan’t kook was met opstande en politieke woelinge, is daar landwyd aandag gegee aan die beskerming van strategiese instellings soos die groot brandstofopslagplekke by talle dorpe, veral aan die kus. Alhoewel die logiese eerstelynbeskerming die plaaslike brandweerdienste was, het bestaande wetgewing geen mag aan plaaslike owerhede verleen om hierdie depots te beveilig of selfs te betree nie. Jan het met die hulp en ondersteuning van sy regterhand, die destydse hoof van beskermingsdienste, Coen Breytenbach aan die werk gespring en die owerhede oortuig van die logika om die gesentraliseerde beheer oor die veiligheid en beskerming van die brandstofdepots na plaaslike owerhede te desentraliseer. Dit was nodig om sentrale sowel as plaaslike wetgewing te wysig om dit te bewerkstellig en was waarskynlik ‘n unieke geleentheid waar ‘n klein plaaslike owerheid se insette daartoe gelei het dat sentrale regeringsbeleid en wetgewing gewysig is sodat plaaslike owerhede hulle verordeninge kon uitbrei om take wat voorheen van hulle weerhou is te kon uitvoer.Die plaaslike regulasies wat so by Empangeni ontstaan het, is later as ‘n model gebruik vir die uitbreiding van die sentrale regering se wetgewing wat beheermaatreels oor strategiese hulpbronne voorskryf.In 1984, tydens die aanloop tot die welbekende sikloon Demoina en die rampspoedige vloede wat gevolg het, het Zoeloeland een van die ernstigsle droogtes in sy geskiedenis ervaar. Huishoudings is beperk tot 250 liter water per dag en etlike ander streng beperkings is ingestel. Water moes vir huise in Empangeni se hoërliggende gebiede aangery word. Desnieteenstaande het die dorp se waterbron, die Nsesemeer letterlik begin opdroog. Die Munisipaliteit was besig om ‘n noodpyplyn vanaf ‘n kanaal uit die Mhlatuzerivier aan te lê, toe ‘n onverwagse krisis opduik. Die verwagting was dat daar nog water vir vyf tot ses weke in die meer sou wees. Dit sou tyd toelaat om die pyplyn te voltooi. Wat niemand egter geweet het nie was dat die profiel van die bodem van die meer van so ‘n aard was dat geen water na die pompstasie sou kon vloei sodra die watervlak daal tot ‘n bepaalde laagtepunt nie. Modderbanke wat voorheen onder water was het die vloei belemmer. Skielik, ‘n maand voordat dit verwag is, was daar geen water om te pomp nie.Alhoewel watervoorsiening nie deel van Jan se portefeulje was nie, het hy die inisiatief geneem om verteenwoordigers van die suikerbedryf op die Mfolosivlakte te kontak. Hy het verneem dat hulle baggertoerusting het wat kanale in moddertoestande kan grawe. Binne dae is onderhandelings afgesluit en ‘n kontrak beding. ‘n Yslike baggerplatvorm is vanaf Mtubatuba na die suidelike oewer van die Nsesemeer vervoer. Daar het kollega en vriend Coen Breytenbach weer eens hand bygesit deur ‘n glipweg met ‘n laaigraaf te stoot sodat die platvorm by die oewer te water gelaat kon word. Van daar af het dit ‘n kanaal deur die modder gebagger tot by die pompstasie. Die tydsberekening was kritiek maar volmaak, en deur die Here se genade het die baggeroperasie die res van die water in die meer na die pompstasie laat vloei op die dag toe die watervoorraad finaal sou opdroog.In Desember 1986 neem Jan waar in die pos van Stadsklerk. Vroeg die oggend van 11 Desember, die dag van sy en Jua se 15de huweliksherdenking, ontvang hy ‘n oproep van ‘n paniekbevange kollega. Die werkers by die siviele werkplaas staak! Hy moes inderhaas gaan kyk wat aangaan en die saak hanteer. Uiteraard was die betrokke vakbond se verteenwoordigers op die toneel om hul saak te stel en Jan moes met hulle onderhandel. Dit was ‘n sensitiewe aangeleentheid in verband met ‘n vakbondlid wat ontslaan is en toe later in ‘n laer besoldigde pos herindiens geneem is. Daar is oor en weer eise, ultimatums en dreigemente uitgeruil en die uiteinde van die saak was dat ongeveer die helfte van die arbeidsmag, 159 in getal, hulleself teen 12:30 die middag ontslaan het deurdat hulle nie gehoor gegee het aan ‘n finale ultimatum om te begin werk nie. Die saak het in die Nywerheidshof gedraai waar die uitslag ten gunste van die werkgewer uitgewys is. Die volgende brief is op 30 April 1987 deur die Stadsklerk en Jan se baie gewaardeerde kollega, Lourens Kotzé aan hom gerig:“Die Raad het by sy jongste vergadering kennis geneem van die beslissing van die Nywerheidshof. Die feit dat dit in die Raad se guns is, is tot ‘n groot mate toe te skryf aan die wyse waarop u die saak in my afwesigheid gehanteer het en ek het opdrag om die Raad se dank daarvoor aan u oor te dra.Wees ook verseker van my dank vir u optrede in hierdie verband. Dit is goed om te weet dat die kantoor in veilige hande is in my afwesigheid.”Hierdie uitslag het vriend en vyand verras. Totdat die uitslag bekend was moes Jan baie kritiek verduur. ‘n Regsgeleerde by die Universiteit van Zoeloeland wat ook op die Stadsraad gedien het, het wyd en syd verkondig dat die ontslag van die werkers ongehoord was en dat daar geen twyfel was nie dat die Stadsraad sal moet instaan vir massiewe kostes om die betrokke werkers herindiens te neem omdat dit ‘n uitgemaakte saak sou wees dat die Nywerheidshof die saak teen die Raad sou uitwys. Daarenteen is dit uit die volgende uittreksels uit die 28 bladsy relaas van die verrigtinge duidelik dat die saak op slegs een uitslag afgestuur het:· “Greeff’s statement is specific as to times, subject matter and events, whereas except for certain ‘specific’ denials, Mr. Ngubane’s statement is vague and general.”· “It has been established that the contracts of employment of the employees concerned were lawfully terminated at 12:30 on 11 December 1986.”· “The respondent acted fairly and reasonably in this matter.” Sewe punte word aangehaal op grond waarvan hierdie afleiding gemaak is. Dan weer “Respondent acted legally and fairly when it terminated the employment of the striking workers” en “It has been established that the respondent was entitled to terminate the employment of the employees when it did and that in doing so it acted fairly and reasonably.”Op Empangeni word sy tyd bestee aan sy gesin, kerkraadsake, hengel, weermagaktiwiteite en sy loopbaan by die Stadsraad totdat hy besef dat verdere akademiese kwalifikasies nodig is vir vordering in sy loopbaan. Hy skryf in vir die diploma in Plaaslike Bestuursadministrasie by die Instituut vir Administrasie en Handel en verwerf tydens hierdie studies die J R Finchprys vir die beste vraestel in Munisipale Administrasie. Later erken hy dat hy die betrokke eksamen gaan skryf het sonder voorbereiding van enige aard, deur geheel en al staat te maak op sy praktiese ervaring en kennis van die vak. Na die verwerwing van hierdie diploma bekom hy ook lidmaatskap van die Instituut van Stadsklerke. Met hierdie studies agter die rug kan hy meer gereeld optrek vir lang hengelvakansies by eksotiese bestemmings soos Mapelane, Kaap Vidal en sy destydse gunsteling, Kosibaai. Sedert 1993 het die hengelgogga die gesin gereeld na die warm, tropiese waters van Mosambiek gelok.In 1989 raak Jan betrokke by netwerkbemarking. In 1993 verkoop hy sy eerste netwerk en sluit aan by Sportron Internasionaal, ‘n dinamiese maatskappy wat fokus op natuurlike gesondheid. Hierdie besluit werk lewensveranderend vir hom en sy gesin, en hy begin om op te tree as Lewenstylkonsultant. Hierdie rol stel hom en sy gesin in staat om voortaan elke jaar gesonder te word en van bykans al hulle vorige skete ontslae te raak terwyl hulle ‘n groeiende passiewe inkomste geniet.Jan maak in 1990 die grootste blaps van sy lewe. Een wat verreikende impak op die hele gesin uitoefen. Sonder om seker te maak dat dit binne die wil van die Here is, deur dit behoorlik met sy gesin en geloofsgesin te bespreek en dit deeglik by die Here uit te klaar, belê hy in ‘n besigheid wat advertensietekens vervaardig en syskermdrukwerk doen. Sy vennoot en bestuurder raak met die intrapslag betrokke in ‘n afgryslike motorongeluk wat hom bykans permanent buite aksie stel. Jan self skryf die maatskappytjie se ander motor byna af teen ‘n bees (die Here het hom wonderbaarlik bewaar, geen skrapie nie). ‘n Vriend wat daarna aanbied om die plek te bestuur kom nie die mas op nie en uiteindelik sit hy met so ‘n groot finansiële las dat die gesin se huis wat afbetaal is sowel as bykans al hulle roerende bates van die hand gesit moet word om likwidasie te vermy.Hierdie traumatiese ervaring het gedien om hulle meer bewus te maak van die Here se liefde en sorg. Vir bykans 15 jaar het hulle gestoei om kop bo water te hou, maar Hy het telkemale as dit lyk of daar geen uitweg meer is nie, uit die een of ander ongelooflike bron uitkoms gestuur.Die grootste voorreg en vreugde uit hierdie krisis was toe Pieter een dag vertel hoedat hy kan sien dat die Here die gesin hierdeur geleer het om dinge te waardeer en nie enigiets as vanselfsprekend te aanvaar nie. Dat die gesin, al het hulle so baie verloor, daardeur meer saamgebind is en ook meer innig die Here se hand van genade in hulle lewens ervaar.Dan tree die genade weer eens in oortreffende trap in. Jan se Munisipale loopbaan het sy tol op sy gesondheid begin eis en op sy 50 ste verjaarsdag, 1 April 1993 gee die Here vir hom ‘n wonderlike verjaarsdaggeskenk - die voorreg om met volle pensioen uit sy pos van Stadsekretaris te tree. Hy en sy gesin kan die Here nie genoeg prys en dank vir hierdie en baie ander voorregte nie. Op dieselfde 50ste verjaarsdag is dit sy voorreg om by die Greeff-gedenkterrein te Witklip naby Lichtenburg die eer aan die Here te gee vir al die onuitspreeklike genade wat Hy oor die jare op die nasate van Hendrik Adriaan Greeff uitgestort het.Die gesin se bande met Zoeloeland word verbreek toe hulle einde 1996 na Barberton, die juweel van die Laeveld verhuis. Hier mis hulle die subtropiese see en die goeie vriende van Zoeloeland maar die berge kompenseer in ‘n mate en hulle geniet die meer matige klimaat na die hoë humiditeit van Zoeloeland. Nou is hulle ook nader aan Mosambiek waar hulle gereeld langs die wit strande en skoon, warm water gaan uitspan en ook nader aan die kinders en ander familie in Pretoria.Jan se betrokkenheid by die verkryging van grond vir ‘n vakansieplek in Mosambiek lei tot sy verkiesing, in 1995, as Voorsitter van die Pomene Grondeienaarsvereniging wat in 2004 verander na Direksievoorsitter van die Reserva de Pomene SARL, ‘n openbare maatskappy in Mosambiek wat hom beywer vir die vestiging van ‘n reservaat / wêrelderfenisgebied by hierdie allermooiste en mees unieke plek aan die hele kuslyn.Intussen lei die Here hom oor ‘n tydperk van baie jare na ‘n punt waar hy in 2007 betrokkenheid by formele kerkstrukture met ‘n klubsoortige aard stopsit. Hierdie besluit word nie ligtelik geneem nie, en is voorafgegaan deur baie jare se gestoei met die probleem van kerkbetrokkenheid wat inhoudloos bly. Sy oortuiging is dat die kerk van Jesus Christus daar is vir twee redes: Om gelowiges aan Hom en aan mekaar saam te bind met liefdesbande en die tweede, wat daaruit voortspruit, om Jesus se liefde so aan die wêreld uit te leef dat ander Hom ook as Verlosser sal leer ken. So wil Jesus Sy kerk bou op opregte, diensbare en liefdevolle verhoudings tussen mense wat Hy bymekaarbring. Jan glo dat die Here langs hierdie weg vir hom en vele ander wil gebruik om weer gestalte te gee aan Jesus se visie vir Sy kerk, die ekklesia, dit wil sê alle gelowiges wêreldwyd. Saam moet hulle (meervoud) Sy stem hoor en Sy opdragte so uitvoer dat hulle as Sy liggaam (enkelvoud) sigbaar sal wees. Jan glo dat die gewoonte om “kerk-toe te gaan” plek moet maak vir ‘n kerk wat uitreik en uitgaan na ‘n verloregaande wêreld.Hy vind dit moeilik om na meer as 60 lewensjare in ‘n geloofslewe gebou op ‘n basis waarby die N G Kerk intiem betrokke was, ‘n nuwe koers in te slaan. Hy bly egter vasberade om nie weer in die strik te trap van sy eie wil of die leiding van mense te volg nie, maar om eers te wag op die Here se duidelike leiding, soos bevestig deur die Woord en deur medegelowiges wat God op sy pad bring. Hy word in hierdie proses begelei en ondersteun deur sy mentor en vriend oor baie jare, Marius Potgieter. Jan en Marius se paaie het in die laat sestigerjare in Benoni gekruis en sedertdien kon die lang afstande wat hulle geskei het slegs hulle vriendskapsbande versterk. Marius het na George verhuis waar hy as teoloog veral bekendheid verwerf het vir sy baanbrekerswerk aan die sogenaamde Selgemeentemodel.
|