Notes |
- Die Namas laat Engelse prospekteerders, soos die Great Namakwaland
Mining Company – wie se konsessie in 1856 oorgeneem
word deur die Phoenix Mining Company – net toe om
langs die kus suid van Angra Pequena te prospekteer.
Toe Adolf Lüderitz besef dat daar reeds ander is wat in die
gebied belangstel, bespreek hy in Duitsland met Vogelsang en
seekaptein Timpe die moontlikheid om in Groot-Namaland ’n
kolonie vir Duitse setlaars te stig. Dan stuur hy vir Vogelsang om
grond te gaan koop.
Saam met Vogelsang en kaptein Timpe reis die Switser Pestalozzi
en die Hollander De Jongh, asook twee handelaars,
Franke en Lahnstein. Hulle vertrek met die skoener Tilly en land
op 16 Januarie 1883 aan die Kaap.
Vogelsang soek eers vir dr. Theophilus Hahn, ’n ou kenner
van Namaland, op. Hy is die seun van Samuel Hahn, wat 35 jaar
vantevore in Bethanie Namibia sendeling was en in Aus koring probeer
plant het. Dr. Hahn vertel vir Vogelsang dat kanse vir handeldryf
taamlik skraal is, maar hy reken dat as damme gebou kan word
om reënwater op te vang, hulle diere soos byvoorbeeld muile sou
kon teel.
Nadat hulle ’n rukkie in die Kaap vertoef het, seil hulle na
Angra Pequena, waar hulle in April l883 aanland. Daar tref hulle
onder andere vir David Radford aan, na wie Radfordbaai in Namibia vernoem
is. Radford en sy vrou Christina Jemima, gebore Powell,
woon al sedert 1879 in Angra Pequena. Radford dryf handel met
die Boesmans en Namas vir die De Pas Maatskappy.
Die Radfords se beskeie huisie is uit dryfhout en balke van
gestrande skepe gebou en hulle boer met sowat 20 bokke en ’n
paar beeste. Christina het as een van die heel eerste Europese
vroue die land binnegekom. Sy is ’n gerespekteerde vrou wat
baie vir die Namas en Boesmans doen. Op haar innemende manier
laat sy ook vir Vogelsang-hulle in haar eenvoudige huisie
welkom voel.
|