Notes |
- Pieter word vernoem na sy oupa Piet wie se derde doopnaam "Steyn" aan hom gegee is vanwee die vriendskap tussen sy vader, Kol G J Greeff en President Steyn. Klein Pieter is op die president se verjaarsdag gebore.Hierdie aantreklike en nederige ligtekopseun se minlike geaardheid maak hom van kleinsaf geliefd by almal wat hom leer ken. Sy besondere handvaardighede kom ook reeds van kleintyd af duidelik na vore. Die behendigheid waarmee hy byvoorbeeld sy aas voorberei terwyl hy hengel trek belangstellende aandag.Dit word ook op 'n baie vroee ouderdom duidelik dat Pieter oor besondere balvaardighede en hand-oog ko-ordinasie beskik en dat hy in enige sportsoort kan uitblink.Hy steur hom min aan studies en verkies om self te eksperimenteer en te leer uit praktiese ervaring.In sy vroee twintigs kan hy reeds die fynste houtwerkprojekte doen. Of gee hom 'n sweismasjien en hy toor daarmee. Sy talente en innoverende geaardheid vang gou die oog en hy word as vakman by konstruksiewerke aangewend alhoewel hy geen vakpapiere besit nie. Binne 'n kort tyd word hy bevorder na voorman en later na toesighouer oor vakmanne.Pieter onderskei hom as 'n werker wat nie net sy werk doen nie maar ook vrywilliglik betrokke raak by veiligheidsaspekte in die werkplek en die instelling van besparingsmaatreels en innoverende werkpraktyke.Hy word 'n gesogde werker wat in een stadium bevorderingsaanbiedinge ontvang van drie verskillende projekbestuurders binne die bestek van twee weke.Hy word binne die eerste vyf jaar waarin hy by konstruksiewerk betrokke is na Potchefstroom, Richardsbaai, Maputo, Botswana, Zambie en Moma in Mosambiek gestuur.
|