Notes |
- Pieter word vernoem na sy oupa Piet wie se derde doopnaam "Steyn" aan hom gegee is vanwee die vriendskap tussen sy vader, Kol G J Greeff en die eertydse President Steyn. Oupa Piet is op die president se verjaarsdag gebore.
Hierdie aantreklike en nederige ligtekopseun se minlike geaardheid maak hom van kleinsaf geliefd by almal wat hom leer ken. Sy besondere handvaardighede kom ook reeds van kleintyd af duidelik na vore. Die behendigheid waarmee hy byvoorbeeld sy aas voorberei terwyl hy hengel trek belangstellende aandag.
Dit word ook op 'n baie vroee ouderdom duidelik dat Pieter oor besondere balvaardighede en hand-oog ko-ordinasie beskik en dat hy in enige sportsoort kan uitblink.
Hy matrikuleer in 1997 aan die Hoër Landbouskool, Vryheid. Daarna steur hy hom min aan studies en verkies om self te eksperimenteer en te leer uit praktiese ervaring.
In sy vroee twintigs kan hy reeds die fynste houtwerkprojekte doen. Of gee hom 'n sweismasjien en hy toor daarmee. Sy talente en innoverende geaardheid vang gou die oog en hy word as vakman by konstruksiewerke aangewend alhoewel hy geen vakpapiere besit nie. Binne 'n kort tyd word hy bevorder na voorman en word hy selfs as toesighouer oor voormanne aangewend. Sedert 2008 funksioneer hy as Superintendent op groot konstruksiepersele.
Pieter onderskei hom as 'n werker wat nie net sy werk doen nie maar ook vrywilliglik betrokke raak by veiligheidsaspekte in die werkplek en die instelling van besparingsmaatreels en innoverende werkpraktyke. Hy ontvang in September 2006 'n toekenning van Multiplex Bateman Joint Venture vir uitstaande veiligheidswerkverrigting nadat hy 'n netelige situasie gered het deur buite die bestek van sy normale pligte van 'n gevaarlike swerm bye ontslae te raak by sy werkperseel op die Moma Mineral Sands projek.
Hy word 'n gesogde werker wat in een stadium bevorderingsaanbiedinge ontvang van drie verskillende projekbestuurders binne die bestek van twee weke.
Hy word binne die eerste vyf jaar waarin hy by konstruksiewerk betrokke is na Potchefstroom, Richardsbaai, Maputo, Botswana, Zambie, Moma in Mosambiek en Fort Dauphin in die suidooste van Madagaskar gestuur.
In 2013 word hy na Nacala in Mosambiek gestuur waar hy as Superintendent optree by uitbredingswerk aan die hawe om te voorsien vir steenkooluitvoere. In 2014 word hy aangestel as die bestuurder van die multi-miljoen dollar konstruksiekamp van die maatskappy waarvoor hy in Nacala werk.
Op Nacala kon hy ook sy geliefde sport, scubaduik, tydens sy vrye tyd beoefen. As gekwalifiseerde duikmeester en -instrukteur, kry hy ook hier heelwat geleentheid om duiktoere as instrukteur of duikmeester te vergesel.
In 2016 verbreed hy weer eens sy kennis deur te kwalifiseer as 'n installeerder van optieseveselkabel. [4]
|