• First Name:   
  • Last Name:   
Albertus Stephanus DU PLOOY

Albertus Stephanus DU PLOOY

Male 1833 - 1891  (57 years)

Generations:      Standard    |    Compact    |    Vertical    |    Text    |    Register    |    PDF

Generation: 1

  1. 1.  Albertus Stephanus DU PLOOYAlbertus Stephanus DU PLOOY was born on 19 Jan 1833 in Cradock, Cape, South Africa; was christened on 9 Apr 1833 in Cradock, Cape, South Africa; died on 16 Jan 1891 in Paardekraal.

    Albertus married Petronella Jacoba Willimiena MOCKE on 20 Aug 1861 in Bloemfontein, South Africa. Petronella was born in 1845; died on 18 Aug 1904. [Group Sheet] [Family Chart]

    Children:
    1. 2. David Stephanus DU PLOOY  Descendancy chart to this point was born about 10 Febr 1877 in Potchefstroom, Transvaal, South Africa; was christened on 12 Feb 1877 in Potchefstroom, Transvaal, South Africa; died on 12 Oct 1939 in District Roodepoort, Transvaal, South Africa.


Generation: 2

  1. 2.  David Stephanus DU PLOOYDavid Stephanus DU PLOOY Descendancy chart to this point (1.Albertus1) was born about 10 Febr 1877 in Potchefstroom, Transvaal, South Africa; was christened on 12 Feb 1877 in Potchefstroom, Transvaal, South Africa; died on 12 Oct 1939 in District Roodepoort, Transvaal, South Africa.

    Notes:

    Die Storie van David Stephen du Plooy

    Ek gaan vir julle die storie vertel so goed as wat ek nog kan onthou.

    Ek was 'n seun van dertien of veertien jaar toe my vader vir my altyd graag Boere oorlog-stories vertel het.

    David du Plooy was getroud met sy suster, Maggie. Kort daarna het die Anglo-boere oorlog uitgebreek. Alle weerbare mans is opgeroep. My pa en sy broer Fanie, sy pa Abel Schoeman, en David wat so pas getroud was.

    David was omtrent vier-en twintig jaar oud en was n regte vuurvreeter. Seker omdat hy met een van die mooiste jong meisies van daardie tyd getroud was en hy nie eers tyd gehad het om eers oordentlik die wittebroods-dae te hou nie.

    Op kommando het hy hom gou-gou as l waardige soldaad bewys. Nie baie lank en hy word in die spion-korps opgeneem waar hy al hoe meer waaghalsig opgetree het. Hy kon die Engelse taal goed praat en was van groot waarde vir die Boeremagte.

    Die oorlog was omtrent agtien maande aan die gang toe David se geluk uitgeloop het. In n ongelyke stryd, teen n oormag van Britte moes hulle oorgee. Hy en 'n paar van sy maats is gevang en na Bermuda toe gestuur as krygsgevangenes.

    Soos u weet, die Bermudas bestaan uit 'n paar eilande. Die hoofeiland het hul die dorp op gebou waar ook die Hawe is. Die Boere-krygsgevangenes is daar aanwal gesit, en toe met 'n kleiner boot na die kamp geneem wat op een van die kleinere eilande opgerig was.

    Die kamp het bestaan uit n klomp tente met 'n hoge doringdraadheining daarom. Buitekant die hek was die Offisierstent en twee tente waarin die wagte geslaap het.

    Bedags was die krygsgevangenes toegelaat om op die eiland rond te loop, maar elke middag 3 uur blaas die beul en dan moet al die gevangenes by die hek rapporteer.

    Dit het egter net n rukkie goed gegaan, toe makeer David du Plooy. Die alarm word geblaas en dadelik begin 'n soektog na die vermisde. Na 'n groot soektog word hy gevang en voor die Offisier gebring. Sy verskoning was maar flou, hy het met 'n waarskuwing weggekom die eerste paar maal.

    Gou-gou het die offisier agtergekom dat David sommer moedswillig is, en toe het die strawwe begin, eers gering, maar toe al groter. David was nie baie gediend met die strawwery nie, met die gevolg dat hy hom verset het. Die gevolg hiervan was groter verbittering van hom teen die Britte. Hy was nie meer toegelaat om die kamp bedags te verlaat nie. Dit het hom egter nie gepla nie, sien David was baie atleties en rats en om oor die doringdraadheining te spring was vir hom 'n grappie. Elke keer moes die beul geblaas word wat 'n ontsnapping aankondig. Hy was elke keer weer gevang. Hy mag toe nie meer sy tent verlaat nie en 'n wag moes aangestel word om hom persoonlik te bewaak, maar dit het ook nie gehelp nie, want dawid het gou geleer wat die wag doen en sodra die wag nie kyk nie is dawid onder die agterkant van die tent uit, soos 'n kat oor die draad en weg in die veld. Die wag wat dan sy prisonier verloor het moes toe ook gestraf word.

    Na 'n lang soektog is hy weer opgespoor, gevang, en toe tot sy verdriet is hy toe deeglik gestraf .In die Offisierstent was hy toe in voetboeie gesit, met 'n 'n ketting aan 'n paal vas gemaak, moes hy sit en vir sy tydverdryf moes hy dan 'n dik ou skeepstou sit en uitpluis, waar hy nooit onder die oog van die offisier of die wag kon uitkom nie. Ontsnapping was toe letterlik onmoontlik.. Die toue was so hard en vol teer dat dit nie baie dae geneem het nie voordat sy vingers so sleg beskadig was dat dit die ene bloedswamme was. Hy het ook baie min kos gekry, uiteindelik het hy baie siek geword, sodat hy soms in floutes gegaan het. Hy was dan net natgegooi en geslaan en geskop. Hy was letterlik soos 'n dier behandel.

    Op n sekere dag het daar 'n hoër offisier ingekom, die gemartelde man gesien het en 'n vreeslike lawaai gemaak en die bedremmelde man laat losmaak en hom na die veldhospitaal geneem. Na baie lang behandeling is hy uiteindelik terug na die kamp toe, nou des te meer beheb met die wil om vir goed van die Engelse te ontsnap, selfs al sou dit sy lewe kos. Hy het sy planne agtermekaar gekry. Nee, 'n ontsnapping na die hoofeiland sal die enigste wees. Hierdie plan was menslik onmoontlik, want die groot eiland was omtrent vier myl geskei met see. Om die gevangeniseiland was ook nog 'n aantal Britse oorlogskepe wat die eiland dag en nag bewaak het. Geen klein bootjie kon die eiland bereik of verlaat sonder om gesien te word nie. Die skepe het omtrent 500 treë van die kant gelê en sodra dit begin donker word het die soekligte die strand helder verlig. Die kanse van 'n ontsnapping was gering, en die see het ook gewemel van die haaie, maar David du Plooy was gedetermineerd om te waag.

    Hy het 'n groot mes in die hande gekry, dit vlymskerp gemaak, met 'n sakkie aan sy lyfband. Dit moes dien as wapen teen die haaie as hy sy swemtog aandurf.

    Die ontsnapping was hierdie keer baie fyn beplan. Hy het dit met sy beste maats bespreek, maar hulle wou niks verstaan nie, dit sou heeltemaal buite sy vermoë wees om die distansie tussen die twee eilande te swem sonder om gesien te word en geskiet te word, ook is die haai-gevaar en seestrome bespreek. Nee wat dit sou onmoontlik wees, het sy maats gesê. Dit sal nie die moeite wêrd wees nie, vergeet van die plan. Maar David was gedetermineerd, hy wou niks meer weet nie. Onder die Engelse wou hy nie langer buig nie, dan liewers sterf. Sy maats het toe maar ingegee en begin om hom te help. Daar moes hard geoefen word. Lang ente is toe bedags gehardloop en ook geswem, elke dag om hom fiks te kry vir sy selfmoordpoging. Die wagte was baie bly want skielik het David baie voorbeeldig geword. Intussen het hy 'n waterdigte seilsakkie gekry waarin hy sy klere kan sit, asook sy skoene. Hy het ook die sparre van 'n ou vat in die hande gekry wat hom sou moes help om makliker te kan dryf . Seegras was ook gevind wat as vermomming op sy kop moes dien. Dit alles was mettertyd sorvuldig op die strand weggesteek in 'n rots by die see naby die plek waar hy die see sou ingaan.

    Die tyd het aangebreek. Gerugte het die kamp bereik dat daar 'n Amerikaanse boot by die Eiland sal aandoen om goedere in te skeep. Die volgend aand moes die swemtog aangepak word, want die vragboot sou alreeds weer die daaropvolgende dag vertrek na New York, Amerika. Die aand ongeveer agtuur is daar 'n stille afskeid van David geneem. Sy vriende het hom alles wat goed is toegewens, maar hulle was baie bedroef, want hulle het geweet dat hulle hom seker nooit weer sal sien nie. Geruisloos het hy die tent verlaat en oor die hoë draadheining gespring, en toe draf hy versigtig af na die strand. Die strand was helder verlig deur die soekligte van die oorlogskepe. Daar moes wagte op dek wees wat die wit strand gedurig dophou. Agter die rots het hy die seegras bo om sy kop gebind, sy houtsparre en die sakkie met sy klere geneem, 'n stille gebed gedoen toe haastig oor die sand gehardloop en in die golwe verdwyn, verwagtend enige oomblik op hom begin skiet sou word want vir 'n paar oomblikke was hy soos 'n wit teiken aan die vyand blootgestel. Toe hy reken hy is onder die water toe besef hy eers dat die houtsparre hom te hoog uit die water lig en dat hy te maklik gesien kan word van die skip af wat sy verblindende skerp lig in sy oë skyn. Inderhaas moes hy toe die sparre laat los. Alleen die sakkie met sy klere in het hy maar voor hom gehou om nie so maklik gesien te word nie. Die beste plan vir die oomblik was om reguit na die skerp lig te swem totdat hy by die skip kom sodat hy uit die verblindende skerp lig van die skip kon uitkom.

    Hy het die voorstewe van die skip bereik sonder om bemerk te word. Nou is hy in die skaduwee van die skip en swem hy langs die skip tot by die agterkant waar hy heeltemaal in die donker gehul is. Met 'n sug van verligting pak hy nou die lang waterpad na die hoofeiland toe, waar sy skip lê en wag. Op hierdie oomblik het hy nie besef hoe vêr en vermoeiend die lang swem gaan wees nie, alleen 'n klein liggie op die horison was sy mikpunt, dit was die vuurtoring naby die hawe van die hoofeiland. Sy hart het opgewonde geklop want dit was dan sy vryheids-simbool. Met lang en kragtige hale swem hy nou. Soms lyk dit vir hom asof die liggie verder van hom af wyk en die donker oseaan al groter en groter word. Soos wat minute soos ure verbysleep, word hy stadig moeër en moeër en hoop en wanhoop begin al vinniger mekaar opvolg. Sy hale is nou nie meer so kragtig nie maar net aanhoudende bewegings. Die besef is net aanhou en aanhou. Dit is sy keuse tussen lewe en dood. Stadig swem hy voort. Hy moet nou begin veg teen die slaap wat hom onrustig maak. Skielik voel hy 'n groot gladde liggaam by sy maag verby gly, hy skrik so groot want haaie was hy mee geindoktrineer. Dit moet die einde wees, flits dit deur sy brein. Hy gryp na sy mes, pluk dit uit, en begin wild in die water rondsteek. Skielik voel hy 'n brandpyn in sy been. "Hy het my" flits die gedagte deur sy brein, die mes gly uit sy hand en toe besef hy dat hy homself raak gesteek het en die wond besig is om baie te bloei. Met een hand druk hy die wond toe en swem hy toe stadig voort. Die sogenaamde haai het net nie weer teruggekom nie. Uiteindelik in die middel van die nag, hoor hy vêr voor hom 'n geluid soos golwe wat teen rotse breek. Hy kon dit eers nie verklaar nie maar toe besef hy dat die seestrome hom heeltemaal van koers af gedryf het. Die vuurtoringliggie was nog net so vêr as aan die begin. Dink, dink, dink gaan dit deur sy brein. Hy onthou toe met sy baie uitvraery oor die hoofeiland, dat hulle hom vertel het dat die eiland uit twee eilande bestaan. Die een is baie rotsagtig en die ander een wat die hawe en die dorp het is sandstrand, dis waar hy moes geland het. Die gedreun van die branders het stadig nader gekom. Hy was nou te moeg om teen die stroom op te swem waar die ligtoring nou was. Nader en nader aan die rotse het hy sonder baie moeite beweeg, met die onrus dat hy daar te pletter geslaan mag word.

    Uiteindelik het 'n groot brander hom teen 'n rots vasgeslaan en dadelik hom weer afgesuig in die see in. Sy wind was amper uit, en vir 'n tweede keer word hy wreedaardig teen die rotse gegooi en beland weer in die see. Dit was byna klaar met David. Toe die derde golf hom gooi toe klou hy met al sy krag aan die klip vas en toe die golf weer terugtrek klouter hy op en oor die rotse. Van uitputting het hy daar 'n lang ruk gelê. Toe hy uiteindelik opsit en sy seil-sakkie oopmaak vind hy tot sy onsteltenis dat die water tog ingekom het en al sy klere nat was. Hy het hulle toe maar uitgedroog so goed hy kon en aangetrek. Toe het hy maar begin aanstap in die rigting waar hy laas die lig gesien het. Die maan het toe begin skyn, en hy het mense gesien loop in 'n paadjie wat in die rigting van die dorpie loop. Hy het toe maar ook op die paadjie geloop. Hulle het hulle nie aan hom gesteur nie en maar bly loop. Toe kom hulle by water.
    Die water was soos 'n rivier maar dit was die skeiding tusen die twee eilande. Daar was 'n roeibootjie met 'n man wat die mense oor en weer vervoer het teen 'n klein fooitjie. Hy het die doenigheid vir 'n rukkie so staan en kyk, en dit oorweeg om ongemerk weer deur te swem, maar daarteen besluit. Toe die bootjie weer aan die duskant passasiers oplaai, stap hy ook na die boot, betaal die man en klim in, hy verloor sy balans en die skipper gryp na hom om te help, voel toe dat sy klere klam is, en vra toe in engels, "why are your clothes so wet ?" Sy antwoord het gou gekom: "Oh I was fishing, and fell in the water", die man het niks verder gevra nie, maar hy kon sommer voel dat hy hom nie geglo het nie.

    Op die eiland was daar 'n beloning vir enigiemand wat 'n Krygsgevangene s ou kon vang. David was deeglik daarvan bewus, en alhoewel hy 'n sterk man was en bang vir niemand was nie, het maar min krag oorgehad. Hierdie skipper was 'n besonder groot inboorling van die eiland, en David het nie lus gehad om met die man slaags te raak nie. Aan die anderkant aangekom, het hy ewe op sy gemak uitgeklim en saam met die ander mense na die dorpie gestap. Toe die ander mense in verskillende rigtings begin stap, merk David dat hierdie groot man hom ongemerk agtervolg. Hy versnel sy pas en die vreemdeling doen dieselfde. Toe was hy seker dat hy agtervolg word. Toe hy by n hoek van 'n straat kom draai hy om die hoek, hardloop vinnig en duik sommer soos 'n kat onder die digte laning in en bly roerloos stil lê. Sekondes later hardloop die man om dieselfde hoek en na 'n paar tree van waar hy lê steek die man vas, kyk op en af in die straat en toe begin hy vinnig hardloop na die volgende hoek toe. Versigtig het hy uitgekruip en sy weg stadig na die dokke gevind, waar die skip nog lê en wag.

    Die honger en dors het nou baie hard begin knaag, en hy moes iets te ete kry, maar drie uur in die môre was alles in die dorpie gesluit en almal het geslaap. Nou was hy by die dokke. Met die gesoek sien hy n flou liggie in een van die winkeltjies brand, hy loer versigtig deur die gordyntjie wat voor die venster hang en merk 'n ou man wat aandagtig by 'n tafeltjie sit en werk. Hy klop saggies aan die deur, niks. Toe klop hy weer 'n bietjie harder. "Hoos there" kom dit van die binnekant. "A friend" antwoord hy, en sy hart klop hard, hy hoor toe hoe die man naderkom en die deur oopsluit. "What do you want?" "Some food Please sir" antwoord David. "Can't you see what the time is?" "Yes, but I come from very far" antwoord David. Die man kyk hom deursoekend aan, en sê toe "Come in" en sluit die deur vinnig toe.

    Al wat daar was, was ses eiers, 'n blikkie bief, brood en gemmerbier. Hy betaal gou-gou, stop dit in sy sakkie, bedank die man en glip uit voordat enige vrae gestel kan word. Die maan was nou alreeds onder, dit was nou baie laat in die nag, en skielik baie donker. Hy stap toe vinnig na die hawe se kant toe, toe gaan sit hy eers om sy honger maag te versterk. Drie rou eiers, 'n halwe brood en gemmerbier, die res sit hy versigtig terug in die sakkie. Gelukkig het hy darem n paar sjielings gehad om vir sy kos te kon betaal asook vir die man wat hom oor die riviertjie geroei het.

    Toe sit hy en kyk hoe ongemerk hy op die vragboot kan kom want hy weet die boot sal die volgende dag vertrek en hy moét net daarop kom. Hy sien toe dat daar net twee wagte is wat op die skip se dek op en af stap en so die skip bewaak. Op die kaai self kan hy geen lewe bespeur nie.
    Hy merk toe iets snaaks. Elke keer as die wag op die agterkant van die skip kom dan tel die wag 'n sak vol van iets wat nie so swaar is nie, op gooi dit oor sy rug en stap dan na die voorstewe en gooi dit daar af. Hy kon dit nie verstaan nie. Miskien was dit n manier om die volgende môre te kan sien of die wagte nie geslaap het nie.

    Hy sien toe die looplank is nog van die boot na die dokke, net asof dit vir hom daar gelaat was. Hy trek sy skoene uit, sit hulle weer saam met sy kos in die seilsakkie, en sluip toe weer soos 'n kat al in die donker tot naby die loopplank. Daar sit hy toe en wag vir sy kans.

    Toe die een wag met sy vol sak op sy rug verby die plank stap waag hy dit. So vinnig en stil as wat hy kan, loop hy oor die plank en al agter die wag aan tot by die luik, toe gly hy in an af met die leertjie. Hy klim net af en af, todat hy heel onder in die skip kom. Daar was die groot stoomenjins en die koolkamers. Sy hart klop nou baie onrustig, het iemand hom nie dalk gesien nie? Hy was vir n paar sekondes heeltemal sigbaar daar op die dek. Maar hy moes dit waag.

    Toe gaan hy by 'n koolkamer in, bo op die kole kruip hy in tot heelagter in die hoekie. Daar het hy vir hom 'n nes geskop. Die opening tussen die kole en die plafon was maar omtrent agtien duim en toe skop hy dit ook toe met sy voete. Hy het omtrent dadelik aan die slaap geraak van uitputting.
    Hoe lank hy geslaap het weet hy nie, maar toe hy wakker word, was hy natgesweet en baie dors. Die bietjie gemmerbier het gehelp. Die res van die kos het hy ook opge-eet, en toe die lang wag vir die skip om te beweeg. Sy lyf is seer van die swem en die rotse, en nou begin die wond aan sy been weer bloei. Die kole waarop hy lê is hard en warm en hy sweet baie. Dit voel vir hom skielik asof die kole harder word as die rotse waarteen die see hom geslaan het.

    Iewers in die masjienkamer hoor hy stemme, twee mans stry en redeneer met mekaar. Hy kan nie mooi uitmaak waaroor dit gaan nie. Uiteindelik kan hy hoor dat die enjin van die skip begin draai.
    Nog 'n geruime tyd gaan verby voordat hy kan voel dat die skip stadig begin heen en weer beweeg, toe weet hy dat hulle op die oop see gekom het. Sien, hy het nie eerste of tweede klas gery nie maar wel laaste klas, want sy kajuit was warm, donker en sy bed baie hard en 'n bietjie vuil. Nog 'n dag het verbygegaan, en toe was die dors so erg dat hy dit nie meer kon hou nie, maar hy moes. Sy vryheid kos hom baie duur.
    Kort-kort het een van die manne 'n kruiwa vol kole uit sy kamer kom haal om die groot stoomketel mee te stook. Naderhand was die kamer byna leeg en was hy bang dat hy gesien word. Hy moes uit sy nes vlug. Hy ontdek toe nog 'n kolekamer en kruip weer daarin weg. Nie lank daarna toe besluit hy, maar voordat hy sterf van dors sal hy moet water kry. Hy strompel toe daar uit die koolkamer en gaan staan reg agter die twee stokers. Hulle was twee Iere. Toe hulle omkyk skrik hulle hulle byna dood. Versteen staan hulle hom en aangaap. "Water" probeer hy sê, maar geen geluid kom uit sy droë mond nie. Een van hulle sê naderhand "This thing wants water" en begin hardloop na 'n kan water en skep 'n groot beker vol en gee dit vir hom. Hy het byna verdrink, terwyl die Iere hom met groot oë aangaap. "Thank you", en toe reën die vrae op hom. Met sy antwoord was hulle nie tevrede nie. Hulle wou niks glo wat hy hulle probeer vertel het nie. Uiteindelik, die enigste dokument wat hy in sy sak gehad het was 'n brief van sy vrou, met die Zuid-Afrikaanse Republiek se seel daarop. Hulle gaan hom nou self wegsteek sodat die Britte hom nie sal vang nie. Een van die ketels wat uitgebruik was is die ware Jakob, hy moes daar inklim. Hulle gee hom toe 'n groot stuk ys, om hom koel te hou. Hy moes toe binne-in die stoomketel gaan sit, sien want hulle besef as hy betrap word is die twee ook aanspreeklik en kan ook tronktoe gaan. In die nuwe wegkruipplek kon hy egter nie lank uithou nie, dit was byna so warm as die hel. Met die stukke ys het hy sy gesig so met ys en roet en sweet besmeer dat hy naderhand soos die duiwel self gelyk het. Toe klim hy daar uit en staan weer voor die twee stokers, wat nou sy beste vriende geword het. Weer skrik hulle hulle byna dood, maar begin toe vreeslik lag. Hy vra toe "what's the joke?"

    Hulle bring toe 'n spieël en toe hy sy gesig sien, moes hy ook lag. Die roet was oral, selfs die wit van sy oë was swart. Hulle was nou nie meer so bang nie, 'n skottel warm water en seep. Hy moes hard skrop om hom skoon te kry. Vir hom was dit baie lekker. Dit was nou alreeds die derde dag van sy onsnapping, en die Engelse soek dat dit bars. Nie lank nie en hulle vind uit van sy gewaagde plan. Toe eers was daar gesoek op die hoofeiland. Daar het hulle wel informasie gekry dat daar wel so 'n verdagte persoon gemerk was, maar na 'n deeglike soektog, wat niks opgelewer het nie, is daar besluit om die vragskip agterna te sit. David het nou verseg om weer in die stoomketel te gaan skuil, dan liewers oorgee. Die een Ier het toe voorgestel dat David maar in sy bed kon gaan slaap, maar hy moes eers belowe dat hy nie sal sê dat hy, David, deur die Iere gehelp was, indien hy gevang sou word, en dat hy sy kop goed sal toemaak sodat die ander matrose hom nie sal sien nie. Hulle het vermoed dat die Engelse die skip agterna sou sit sodra hulle hom sou mis. Die teken sou wees as die skip se enjins skielik sou stop en een van hulle sal net die deur tweemaal oop en toe maak, dan moes hy weet: "Gevaar!"

    Hy is toe met die gang af tot by die matrose se slaapkamer. Hy het in die een hoek onder die komberse gekruip en probeer slaap. Nie baie lank daarna nie, dit het gevoel asof hy net aan die slaap geraak het, toe gewaar hy dat die skip se enjins het tot stilstand gekom. Hy hoor haastige voetstappe met die gang afkom, die deur gaan vinnig oop en toe, en toe weer. Toe weet hy, die Engelse oorlogskip het langs die vragboot tot stilstand gekom. Hy was skielik baie moeg en het net sy kop dieper onder die komberse vasgewikkel en gebid. Nie te lank daarna het die deur weer oop gegaan. Dit was toe die Skeepskaptein en drie Engelse offisiere. Hy kon toe hoor hoe die komberse van die slapers afgetrek word en elkeen sy naam moes sê. Toe hulle by hom kom klou hy so al wat hy kan aan die komberse vas. Hy kry toe 'n paar geniepsige skoppe in sy ribbekaste en moes toe maar ewe gedweë opstaan en ook sy naam uit roep. "David du Plooy, Sir", kom dit traag oor sy lippe. Vir 'n paar sekondes, 'n doodse stilte. Almal het ewe veel geskrik. "You damned rascal" sê die offisier wat vir David geken het, "is it really you, David? Thank God you are still alive. How did you survive? You are a hero David, but I shall have to take you back."
    "Yes, of course, Sir," sê David ewe galant, maar hy het alweer 'n plan in sy kop reg. Sodra hy aan dek kom gaan hy weer in die see spring. Daar bestaan glo 'n seewet dat as hy uit die see gered word deur die bemanning van die skip dan is hy die prisonier van die Kaptein van die skip. Sy hart klop skielik in sy keel, hy ruk skielik weg en storm so vinnig as wat hy kon na die reëling van die skip en duik oor.
    Ongelukkig vir hom storm twee offisiere agter hom aan en kry hom aan sy voete beet, terwyl sy kop al see toe hang. Stadig maar seker word hy terug op die dek gehys, en toe slaan hulle boeie aan sy hande. Toe eers word die kaptein van die skip kwaad en sê "You have no right to handcuff a man on my ship, and besides that, we are already in American waters. This is my prisoner now. You can have him only in customs in America. Unlock the prisoner. That's an order!" David moes belowe dat hy nie weer in die see sal spring nie. Die Engelse is toe maar gedweë terug na hulle boot en doen toe die vragskip geleide na die hawe van New York.

    Die skip het dadelik die berig van die ontsnapte Boere-krygsgevangene wat aan boord ontdek was oorgesein na Amerika. Die boodskap het teruggekom sso volg: "Sorg goed vir die held!"
    Die Kaptein het vir David na sy eie kajuit geneem, waar hy hom vir die eerste keer in 'n baie lang tyd in 'n warm bad kon verlustig. Die Skeepkaptein was 'n baie vriendelike man. Sy klere was so vuil en gehawend dat die kaptein vir hom uitgerus het met een van sy eie pakke klere. Die broek was 'n bietjie lank en die baadjie se moue was ook te lank, maar David het heel skaflik daar uitgesien toe hy hom uiteindelik by die Kaptein aangesluit het.David moes toe eers sy storie vertel, en hoe die oorlog in Suid Afrika verloop. Sien, die Amerikaners was nie lank gelede ook in 'n vyandilike stryd met Engeland gewees. Daar was lekker gesels.

    Die aand in die eetsalon was daar 'n spesiale ete aan die Kaptein se tafel voorberei, en nadat die Amerikaanse Volkslied gesing is het die etery begin. Dit was te heerlik en David het te veel ge-eet op 'n leë maag. Die gevolge was byna noodlottig. Gelukkig was daar 'n goeie dokter en die het sy maag toe moes uitspuit. Dit het hom gered, maar hy was baie siek die volgende dag. Die dag daarna het hulle land gesien. Die Engelse oorlogskip het alreeds vasgemeer en met die doane onderhandel om hulle prisonier dadelik te kan ontvang. Hulle wou egter niks weet nie en het gesê die hof sal moet besluit.
    Uiteindelik toe die vragboot by die kaai vasmeer, sien David 'n horde van mense wat die boot inwag. Almal wou sien hoe die Boerekrygsman lyk. Die nuus het getrek soos veldbrand. Die Hawepolisie het egter dadelik aanboord gekom en hom vinnig, reguit na 'n sel waar hy toegesluit is met wagte voor die traliedeur. David het niks hiervan gehou nie en het alweer planne begin maak.

    Terwyl hy nog so sit en wonder, sluit die bewaarder die deur oop en twee netjies-geklede mans stap die sel in. Hulle stel hulleself voor aan hom as twee Wetsgeleerdes, wat sy saak die volgend dag in die hof vir hom gratis sal verdedig. Hy was eers baie agterdogtig, maar nadat hulle verduidelik het dat hulle sy storie wil koop was hy meer gerus. Hulle haal toe 'n kontrak uit wat hom die helfte van die wins sal gee. Hulle sal al die advertensies en reëlings tref. By die groot dorpe en stadsale sal hy die verteller wees en hulle sal die deurgeld insamel. Uiteindelik oortuig hulle hom, hy teken die kontrak, en sê hom toe wat hy in die hof moet sê. Toe laat hulle 'n snyer inkom om sy mates te neem.

    Die môre wat die saak moes voorkom toe kom die snyer daar aan met sy nuwe uitrusting. Nadat hulle hom aangetrek het en hy weer in 'n spieël gekyk het kon hy sy eie oë nie glo nie! Dit was 'n splinternuwe man vol selfvertroue. Elfuur daardie môre, toe hy onder begeleiding by die Hofgebou opdaag, kon hy weer sy oë nie glo nie. 'n Skare mense het hom ingewag, almal wou sien hoe die Boer dan lyk. Die hofsaal was stampvol gepak, en die drie Engelse offisiere was daar, op hulle plek langs die aanklaer. Die saak het begin, David was effens benoud. As hulle die saak sou verloor sou dit gewis die einde beteken. Die lang aanklag word teen hom uitgelees deur die Staatsaanklaer. Toe word hy, David gevra om te pleit. Skuldig pleit hy, en vra toe dadelik aan die Regter vir Amerikaanse Burgerskap. Niemand behalwe hy en sy Prokureurs het dit verwag nie! Hy is dadelik na 'n vlag geneem en daar moes hy die Eed van Getrouheid aflê voor getuie van die hele hof. Toe kom die Regter se uitspraak, hard en kil. Not guilty, you are now an American citizen, free in this Country, and no British army can take you back.Court dismissed. Handegeklap en applous was gehoor, en almal wou graag die Held se hand skud.

    Sy twee Prokureurs was dadelik by met twee hoede en het vir hom gou-gou n klomp geld opgeneem. Toe hy uit die Hofsaal stap toe wag daar 'n Sportmotor met 'n chauffeur op hulle wat hulle na een van die beste Hotelle in Manhatten geneem het. Daar was 'n luukse kamer vir hom reeds bespreek. Daar kon hy nou lekker rus vir 'n paar dae. Nou verlang hy darem kwaai huistoe, en na sy vroutjie Maggie. Hy skryf gou 'n brief aan haar en pos dit. Hy weet nie hoe lank dit sal neem nie, en of dit haar ooit sal bereik nie. Die koerantberigte oor die oorlog in Suid-Afrika is eensydig en ontstellend. Hy is haastig om terug in sy eie land te kom om sy mense te help veg. Nou is hy vry maar ongelukkig gebind aan sy kontrak, hy het ook geld nodig. Konserte word nou oral gereël waar hy as gasspreker optree en sy asemrowende ontsnappings-storie vertel. Vol gehore daag op en David word beroemd as die held van die jaar.

    Die geld stroom nou vinnig in, Sy prokureurs is in hulle skik. Toe word groot baniere oor die strate gespan waar hy die aand sal optree, met 'n tekening van 'n man wat in die see swem met 'n mes in die een hand, besig om haaie dood te steek! Met sensasionele opskrif, "David du Plooy swam the Atlantic to freedom!" Al hoe meer stede moet besoek word, maar David is nie gelukkig nie. Toe lees hy eendag 'n berig dat President Kruger in Holland aangekom het met die doel om hulp te kry vir sy volk wat 'n stryd om oorlewing voer. Hy moet na Holland gaan om sy President te help. Hy moes sy kontrak afkoop, en met die res van sy geld is hy op 'n Hollandse boot terug na Holland. Daar aangekom het hy dadelik met President Kruger in aanraking gekom. Hy het sy hele storie aan hom vertel, en sy hulp aan die President aangebied. Om Paul het hom geglo maar sy raadgewers wou nie. Hulle verskoning was, hy mag net 'n spioen vir die Engelse wees. Oom Paul het gehuil toe hy van hom afskeid geneem het. David was nog nie klaar nie.
    Van Holland af is hy toe na Duitsland, wat op daardie stadium goedgesind was teenoor die Transvaal en die Vrystaat se Republieke. Hy het in 'n onderhoud met die Minister van Buitelandse Sake om hulp gevra vir die Republiek teen Groot Brittanje. Dit was natuurlik geweier. Duitsland wou nie met die oorlog betrokke raak op daardie stadium nie, maar het hom van'n hele klomp wapens voorsien. Dit was in die geheim gedoen. 'n Hele paar kratte vol wapens en ammunisie was aanboord van 'n Portugese vragskip gesmokkel en na Lourenco Marques verskeep, saam met David. Hy was nou op sy pad terug Transvaal toe. Die reis was baie lank en stadig, langer as 'n maand, om die Kaap, en toe dok hulle in Lourenco Marques, net 'n klein entjie van die Transvaalse grens.

    Die kratte is afgelaai, David het dadelik aan die werk gespring. Twee muilwaens is gekoop en drywers is gehuur. David het geld gehad, die doeane was omgekoop. David het as 'n ryk sakeman geposeer, in die hotel het hy al sy reëlings gemaak. Die waens moes die vragte tot naby die grens neem en daar versteek dan sal hy alleen oorgaan, burgers kry om saam met hom terug te kom en die wapens te perd oor die grens te neem. Alles was klaar gereel, maar wat David nie besef het nie, is dat die Engelse al die tyd spioene op sy spoor gehou het. Hulle het geweet dat hy in L.M. was, en stuur toe ses Boere Scouts om hom daar te vang, en terug te bring om aan die Engelse uitgelewer te word. Die aand in die Hotel se eetkamer merk hy 'n paar boere wat ook daar kom eet. Hy is egter nou baie versigtig. Hulle praat met mekaar in Afrikaans. Hy is nou baie agterdogtig. Wat maak hulle hier? Hulle moet mos op Kommando wees. Hy wil hulle gaan vra, maar iets waarsku hom. Toe hy klaar geëet het staan hy op en gaan na sy kamer, wat op die eerste vloer is. Hy merk hoe hulle vir hom loer.

    Met die trappe op in sy kamer, sluit die deur en gespe sy Duitse 9 mm outomatiese pistool aan sy sy en stap heen en weer in die kamer. Iets is verkeerd. Hy weet nie wat nie.
    Toe is daar 'n klop aan sy deur. "Who is it?" kom dit met 'n hoë Engelse aksent. Stilte, en toe 'n onnatuurlike "A friend." Dawid maak die deur oop, die man kom in en stel homself voor en sê toe "Ons is gestuur om jou terug te begelei na die Transvaal toe. Ons is van generaal Cronje se kommando. Ons is baie bly om jou terug te kry. Die Boere het jou baie nodig, ons het gehoor van jou waaghalsige ontsnappping. Jy is mos David du Plooy?" "Ja ek is David du Plooy, maar ek gaan nie saam met julle terug nie". "Waarom nie?" kom die verdwaasde vraag. "Ek sal jou sê, ek veg nie meer vir die Boere nie. Ek veg nou teen julle". "Ag nee jy speel of maak 'n grap met my". "Nee, ek is ernstig! Ek gaan nou die Boere skiet tot hulle oorgee". Die man probeer met hom redeneeer, maar David is beslis! Toe kom die man vorentoe en steek sy hand uit om hom geluk te wens, "dan is ons aan dieselfde kant, ek is ook 'n Scout. Ons moes jou kom vang het". Dis wat hy vermoed het. Hy word bleek van woede, pluk sy pistool uit en sis deur sy tande: "Ek kon dit raai, jou verraaier. Ek is lus en skiet jou vrek! Maak dat jy wegkom onder my oë". Die man is daar uit, so vinnig as wat sy bene hom kon dra. David besef toe dat hy nou in lewensgevaar verkeer. Hy loer deur die venster en sien hoe die verskrikte man by sy maats aansluit en vir hulle van sy ervaring vertel. "Hoekom het jy hom nie afgebring nie? Ons sou sy keel hier afgesny het" hoor hy hulle praat.

    Nou was sy tyd min. Hy neem net die sakkie met sy mees essensiële goedjies daarin, glip by die deur uit, sluit dit toe en glip oor die balkon aan die agterkant van die hotel sodat niemand hom kan sien nie. Hy is toe na die stal waar sy nuutgekoopte perd in was. Hy saal vinnig op en verdwyn in die donkerte. Hy gaan nou na die plek waar sy twee Portugese wag by die muilwaens. Hulle span dadelik in en vertrek na die grens toe. Hy ry agter met sy perd om seker te maak dat hulle nie agtervolg word nie, maar die pad is stil en verlate. Voordat dit lig word, ttrek hulle uit die pad en gaan omtrent 'n myl van die pad af kamp vir die volle dag. Die drywers werk goed saam. Hulle ken ook die wêreld daar rond goed. Weer word daar in die nag getrek, baie versigtig. Hulle is nou naby die grens, toe draai hulle weer uit die pad en ry die bosse in. Omtrent tien myl Noord kry hulle toe plek waar die goed gestoor moes word. Onder groot bome word die kratte gepak en toe sorgvuldig met takke toegeslaan. Daar sou David dit kom haal met behulp van die boeremagte.

    Hy het geweet dat die Duitse Mauser, en sy ammuniese, baie skaars geword het, self voordat hy gevang was. As die Boere net weer een keer genoeg Mausers kon kry, dan sou hulle weer die Kakies wys. Nou het hy meer as twee honderd en veertig kaste patrone. Hy sien al in sy gees hoe lekker sy Generaal sal kry om weer 'n hele kommando uit te rus met Mausers. Ja, dink hy, al sy ellende en waaghalsigheid sal die moeite werd wees, en des te meer om sy vrou weer te sien! Hy is nou baie haastig om in die Tranvaal te kom. Byna word hy op die grens betrap deur 'n patrollie Kakies. Was dit nie vir sy skerpsinnigheid nie, was hy weer gevang. Hy wag agter 'n digte bos, totdat hulle verby is, en toe ry hy verder. Hy bereik Lydenburg, slaap daar oor, en vertrek toe stadig en versigtig in die rigting van Pretoria, altyd op soek na 'n Boere mag, maar hy kry hulle nie. Hy is nou baie onrustig, die dorpies is almal vol Kakies. Uiteindelik kry hy 'n klein kommando: Bronkhorstspruit. Niemand ken hom nie. Hy is opgewonde, maar hulle is baie neerslagtig. "Wat gaan aan? Waar gaan julle heen?" vra hy. Ons is verslaan en ons gaan ons wapens neerlê. Die vrede is gister in Vereeniging gesluit. Hy was 'n gebroke man. Min het hy geweet dat hy die enigste krygsgevangene is en was wat op eie stoom sy Vaderland bereik het, van vêr oor die blou see.

    Geskryf deur Oom Boetie (Abel Albertus) Schoeman, *14 September 1926, op 27 Junie 1984.
    ____________________________________________

    Tikker se notas:

    Geskryf 83 jaar na die Times artikel van 10 Julie 1901.

    Toegang kan hier na die oorspronklike artikel in die New York Times verkry word: http://query.nytimes.com/gst/abstract.html?res=9806E1D71030E132A25753C1A9619C946097D6CF

    Die Engelse dink hulleself baie slim vir die klein woordspel (pun) wat plaasvind wanneer hulle 'Boer' uitspreek as Boor, soos in boorish, synde ongepoets. Hulle dink ons weet dit nie.
    Ek self verkies, gevolglik, Kakies bo Khakies. Ek dink hulle weet dit nie.

    Die hartseer nasleep van David se verhaal is dat sy Maggie op vroee ouderdom oorlede is en hulle het nie kinders gehad nie. Hy is op 62-jarige ouderdom in 'n mynongeluk oorlede.


    David en die rebellie

    Hier is 'n verhaal David tydens die rebellie, soos op 6 Januarie 2008 aan my vertel deur oom Boetie Schoeman.

    David du Plooy was vasbeslote om by die rebelle aan te sluit wat op Coligny saamgetrek was. Hy was op 'n trein wat ook regeringsoldate vervoer het oppad na Coligny. Toe die trein naby Krugersdorp stilhou, blykbaar vir die nag, het hy ongeduldig geraak en afgeklim. Hy het 'n perd en later ook 'n trapfiets in die hande gekry waarmee hy die reis na Coligny voortgesit het, maar toe hy daar kom was die trein ook reeds daar. Die rebelle en die regeringsmagte het op Coligny slaags geraak maar hulle het Dawid gevang voordat hy by die rebelle kon aansluit.

    Hy is na Pretoria geneem waar hy ter dood veroordeel is. In die gevangenis het hy gemaak of hy van sy verstand af is, en toe Maggie hom daar besoek het hy sy toneelspel voortgesit, maar toe hy naby aan haar kom het hy vir haar gefluister dat hy moet voorgee dat hy mal is anders gaan hulle hom skiet. Sy was oorstelp van vreugde oor die goeie nuus nadat sy gedink het dat hy werklik die kluts kwyt was.

    David is vanwee sy oënskynlike verstandelike versteuring in die Witrand gestig opgeneem waaruit hy driemaal ontsnap het en weer gevange geneem is. Hy kon egter voortgaan met sy toneelspel tot nadat die rebellie onderdruk is. Daarna is hy vrygelaat. Dit was in die depressietyd en al werk wat hy kon kry was in die myne. Hy is in sy vroeë sestigerjare by City Deep ondergrond oorlede toe 'n koekepan oor hom geloop het.

    Jan Greeff

    David married Maggie SCHOEMAN about 1898 in Klerksdorp, Transvaal, South Africa. Maggie (daughter of Abel Albertus SCHOEMAN and Magdalena Maria Margaretha (Lenie) GREEFF) died in 1919. [Group Sheet] [Family Chart]



Webmaster Message

  • We strive to document all of our sources in this family tree. It will be very greatly appreciated if you volunteer to help with family history research, typing, data input, or by uploading your own family tree and photos. To do so you MUST email your phone number, and a time that I can phone you to Greeff@Greeff.info